Die Manne Hou Bruilof

21 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Manne Hou Bruilof

Johannes 2:1-11

VIDEO | OUDIO

Simon is baie opgewonde. Jesus het hulle vertel dat Hy 'n uitnodiging gekry het na ‘n bruilof, en dat Hy hulle wou saamneem. Simon weet natuurlik dat 'n bruilof ‘n lang uitgerekte affêre kon wees wat tot ‘n week lank kon aanhou. Dit sou 'n baie welkome breek wees na die afgelope tyd se harde werk - hy is nogal moeg! Hy wil eers vir Jesus sê: “Here, daar is nie tyd vir sulke alledaagse onbenullighede nie – ons het só baie om te doen!” Maar dan bedink hy homself.

Daardie oggend trek Simon sy beste klere aan – 'n bruilof is mos 'n spoggerige affêre! Maar op pad daarheen gaan dit nie so maklik nie, want so vêr as wat hulle loop herken die mense vir Jesus en daar is talle oponthoude. Ure gaan verby en Simon raak baie kriewelrig. Daardie bruilof het al lánkal begin en hulle het sekerlik die beste deel al misgeloop. Maar sy Meester is nie haastig nie. Vir Simon is dit uiters frustrerend!

Maar uiteindelik kom hulle darem tog daar aan. Sommer van ver af hoor hulle al die musiek en gelag en vrolikheid. Dis sommer ‘n baie jolige affêre: dit dans en sing en vier fees dat dit ‘n aardigheid is. Heimlik wonder Simon waarom sy Meester Hom met sulke joligheid ophou? Is 'n Rabbi dan nie veronderstel om Hom met baie ernstiger dinge besig te hou nie?

Jesus se oë soek rond tussen die menigte vrolike gesigte. Dan herken Hy 'n vrou by een van die tafels: Maria, Jesus se moeder - sy is al van vroeg af hier,en sy het bekommerd begin raak oor Hy so lank wegbly. Die tafels kreun onder al die eetgoed en die atmosfeer is een van groot vrolikheid.

Maar alles is nie so baie kosjer nie – die één ding wat so kenmerkend is van ‘n bruilof, 'n ou rooiwyntjie, dié skitter in sy afwesigheid. Simon wonder nog só, watter soort van bruilof hierdie is sonder sy wyn, dan sien hy hoe Maria oorleun na Jesus toe - sy lyk bekommerd. Simon spits sy ore om te kan hoor wat sy sê bo die lawaai uit. “Die wyn is op”, is al wat hy kan uitmaak. Ja, dit kon hy óók gesien het! Dis ‘n ramp! Wat gaan Jesus doen? Dan skud Simon sy kop en hy bars amper uit van die lag: “Wat 'n lawwe gedagte! Die Meester sal Hóm sékerlik nie bemoei met sulke nietighede soos wyn wat opraak nie!”

Tot sy groot verbasing sien Simon hoedat Jesus aanvanklik eers weier, maar dan tóg instemmend knik. “Dan gaan Hy tóg iets doen!” Simon kan sy verbasing nie wegsteek nie.

Jesus beduie iets vir Maria, en dan verdwyn sy. Die volgende oomblik begin die kelners water aandra na die groot klipkanne toe wat gebruik word vir die reinigingsrituele. Al ses van hulle word propvol gemaak. Nou bars Simon van nuuskierigheid wat beplan sy Meester? Hy sien hoedat die kelners kopkrap, so asof hulle nie kan verstaan wat besig is om te gebeur in die kanne nie. Grootoog beduie hulle vir mekaar van iets in daardie klipkanne. Dan beduie Jesus vir hulle om van die water uit te skep en vir die seremoniemeester te gaan gee.

Simon sien duidelik hoedat die man se gesig ophelder as hy die “water” proe. Dan hoor Simon hoedat die man die arme bruidegom uittrap: "Waarom hou jy die beste wyn vir laaste?" Simon se mond val onbeskaamd oop. Sy meester het wyn gemaak van water!? Hoe is dit ooit moontlik?! Wanneer die kelner vir hulle van die wyn bring, moet Simon saamstem - hierdie wyn is héérlik! ‘n Volle 600 liter van die lekkerste wyn wat hy nog óóit gedrink het! Simon kyk na die ander dissipels - hulle is almal in ekstase! Nou wéét hulle dat hulle keuse om Jesus te volg die regte een was.

Jesus het met ‘n doel na hierdie bruilof gekom - dit was nie maar net vir tyd-uithang nie! Hy het simbolies hier die pligte van die bruidegom kom oorneem deur die wyn te voorsien. In Openbaring 19:5-10 skryf Johannes baie jare later van die “bruilof van die Lam”, waar Jesus beskryf word as die Bruidegom. En as Bruidegom by uitstek, voorsien Hy in oorvloed. Wie sal ooit 600 liter wyn opdrink op ‘n bruilof?

Maar daar is meer: In Amos 9:13-14 skryf ie beroemde profeet van daardie wyn wat só in oorvloed sou vloei met die koms van die Messias, dat die wyn van die berge sal afdrup.

Maar waarom het Jesus dan nou juis besluit om Sy wyn in reinigingskanne te maak? Was daar dalk 'n doel daarmee? Daardie kanne is gebruik om die water in te hou vir die Jode om hulle reinigingsrituele na te kom, soos wat die wet vereis. Dit is met ander woorde kanne wat die wet versimboliseer. Wat doen Jesus? Hy verander dit in iets waarmee ’n mens feesvier - die wetskanne word nou feeskanne! Omdat Jesus die Bruidegom hier is, is ons nou nie meer aan die wet gebonde nie, maar ons kan saam met Hom feesvier!

Hoe sien ek en jy vir Jesus? Ons is geneig om Hom te soek in die bonatuurlike. Dalk moet ons ‘n slaggie ons oë oopmaak en Hom soek in die doodgewone, alledaagse dinge van die lewe, selfs soos ‘n bruilof! Om Jesus te herken, moet ek bereid wees om die klein wonderwerke wat elke dag in my lewe gebeur raak te sien en Jesus in geloof daarin te herken. Maar dan moet ek ook die regte ding doen en Hom ál die eer gee vir hierdie dinge. Loof Hom met jou hele hart!

Gebed:

Here Jesus, U is God en Heer - dankie vir al U wonderdade wat ek elke dag kan beleef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026