Die Mal Man

21 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Mal Man

Lukas 8:26-39

Johannes en sy geselskap het by Kapernaum, op die noordelike oewer van die meer van Galilea in die vissersboot geklim en die volle lengte van die meer, reg suid gevaar, verby Tiberias en Hippus. En omtrent dáár het die verskriklike storm hulle getref. Maar Jesus was daar en Hy het die storm eensklaps laat bedaar. So kon hulle toe rustig verder vaar na die landstreek van Gadara, aan die suidelike punt van die meer. Skaars is hulle aan wal, of die volgende groot “storm” tref hulle, dié slag in die vorm van ‘n besete man wat poedelnaak op hulle afstorm.

Maar wag, nou loop ek die verhaal vooruit! Wanneer Johannes-hulle voet aan wal sit, bevind hulle hulleself in die “buiteland,” in die land van die Geraseners. Die gebied is deel van die Dekapolis, wat letterlik beteken “Tien Stede.” Dit was nie ‘n Joodse gebied nie, dus het die Joodse wette gladnie daar gegeld nie. Mense het selfs met varke geboer, iets wat elke goeie Jood met afsku sou vervul!

En dan sien hulle hom, die kaal man wat reguit na hulle toe aangehardloop kom. Hy bly lankal nie meer in ‘n huis nie, die samelewing het hom hoeka totaal verwerp. Tussen die grafte het hy sy lêplekkie gekry. Sy onbeheerste optrede het al daarvoor gesorg dat die inwoners hom probeer vang en met kettings boei het om hom in bedwang te hou, maar g’n kettings kon hom beheer nie.

Yskoue rillings hardloop langs Johannes se ruggraat af. Hy mik om terug in die skuitjie te spring om weg te kom van hierdie boosheid af. Maar Jesus staan doodkalm en wag die man in.

Die manne staan saamgebondel, gereed om te hardloop toe die malle al gillende op Jesus afstorm. Hy val voor Jesus se voete neer en bulder: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”

Johannes kan sy ore nie glo nie! Hoe weet hierdie man dat sy Meester se naam Jesus is? En dan boonop die verskriklike Godslastering om Hom die Seun van God te noem! Johannes sidder!

Jesus bly egter steeds koel en kalm, asof absoluut niks gebeur het nie. Hy berispe nie eers die man nie! Al wat Hy doen is om die man ewe kalm te vra: “Wat is jou naam?”

Legio!” skreeu die man. Dan besef Johannes dat hierdie man die slagoffer is van bose geeste wat in hom ingevaar het. Hierdie duiwelse demone in die man het met Jesus gepraat deur die man se liggaam te gebruik.

Natuurlik ken die duiwel en al sy demoniese aanhangers vir Jesus, en hy weet presies wie Jesus is. Hy sal egter nooit vir Jesus dien nie, want hy wil sélf op die troon sit.

Die Latynse woord Legio het verwys na ‘n afdeling, oftewel legioen in die Romeinse leër wat uit tussen 3’000 en 6’000 soldate bestaan het. Die demone wil niks met Jesus te doen hê nie, hulle wil net alleen gelaat word, want Jesus se teenwoordigheid is vir hulle ‘n groot bedreiging.

Bewend van angs luister Johannes na die gesprek tussen Jesus en die mal man, oftewel die demone in hierdie man: “Asseblief, ons pleit dat U ons nie na die onderaardse diepte terug sal stuur nie! Laat ons eerder in daardie trop varke invaar…..”

Skielik ontspan die man en hy val op die grond neer. Dan skrik Johannes hom boeglam as die trop varke wat daar naby staan en wei het, skielik aan die skree gaan, amper asof ‘n swerm bye hulle toetakel. Hulle begin wild rondmaal, en dan begin hulle hardloop. Die arme veewagtertjie skrik hom in ‘n ander geloof in en laat spaander reguit dorp toe. Tot Johannes se afgryse kies die varke koers, reguit na ‘n afgrond wat teen die see eindig. Al skreeuende tuimel hulle oor die afgrond. Nie ‘n enkele vark oorleef nie, almal versuip.

Wanneer Johannes weer na Jesus kyk, sien hy ‘n dankbare man wat Jesus aanbid, sy gesig helder en sonder ‘n sweempie van die waansin wat minute gelede nog sy gesig verwring het.

Bewend staan Johannes-hulle nader. Die man smeek hulle om saam met hulle te gaan, maar glimlaggend skud Jesus Sy kop. Nee, Hy het vir hom ‘n baie groot taak hier waar hy bly. Hy moet gaan vertel wat met hom gebeur het!

Kort daarna kom ‘n klompie erg-omgekrapte manne uit die dorp aan. Die veewagtertjie het hulle vertel wat gebeur het, en hulle is baie bang. Hulle kan nie bekostig dat Jesus hier aanbly nie, kyk maar net wat het met hulle varke gebeur! Hulle moet asseblieftog maar teruggaan na waar hulle vandaan kom! Gedweë klim hulle in die skuit en vaar terug.

Die vraag is: het die duiwel ‘n oorwinning behaal? Nee, beslis nie. Hy het hom wel iets toegelaat, maar die besetene is bevry en hy het ‘n wonderlike evangelis geword in ‘n heidenland. En die dissipels kon Sy almag weereens aanskou!

Gebed:

Here, dankie dat ons weereens vanoggend U almag kon aanskou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026