Die Leë Graf

8 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Leë Graf

Markus 16:1-8

VIDEO * OUDIO

Dit was die donkerste week óóit in Petrus se lewe. Alles het so mooi begin met daardie onbeskryflike Sondagoggend toe Jesus triomfantlik Jerusalem binnegery het. Die skares mense se vreugdevolle dreunsang, die swaaiende palmtakke. Maar alles het baie gou verander. Skaars was hulle in Jerusalem toe Jesus die skelm handelaars uit die tempel moes uitjaag! Toe Jesus se voorspelling dat die pragtige tempel verwoes sou word. En toe daardie verskriklike Donderdagnag. Almal kon alreeds die spanning aanvoel toe hulle daar saam om die tafel gaan aansit vir die Paasmaaltyd. Die skokkende nuus dat een van hulle twaalf Jesus sou verraai, steek nou nog soos ‘n dolk in sy rug. Daardie nag in Getsemane - Jesus se angs terwyl hulle gelê en slaap het. Judas se walglike verraad, en toe Petrus se lafhartige verloëning! Hy bars in trane uit as hy net daaraan dink. Hy huil bitterlik as hy dink aan die spot, die géseling, die doringkroon, die spykers, die kruis......

Sondagoggend breek uiteindelik tóg aan. Dis nog donker as Maria Magdalena haastig na die graf stap. Daar hang ‘n donker wolk oor haar gemoed wanneer sy by die klipkoppie aankom waar Jesus begrawe is. Maar dan skrik sy haar yskoud, want asof dit nie genoeg is dat Jesus dood is nie, sien sy boonop dat die swaar klip voor die graf weggerol is! Iemand het haar Meester se liggaam gesteel!

Maria kyk nie eers verder nie, sy draai geskok om en hardloop haastig terug huistoe. Uitasem vertel sy vir Petrus en Johannes die verskriklike nuus: “Hulle het ons Meester weggevat, en ek weet nie waarheen nie! Iemand het Sy lyk gesteel! Wat gaan ons doen?”

Die twee manne spring verskrik op en hardloop so vinnig hulle kan om te gaan kyk wat daar by die graf aangaan. Johannes is nog jonk, hy kan nie nog vir Petrus wag nie en hy hardloop vooruit. Wanneer hy by die graf kom, is dit presies nes Maria gesê het: die klip is voor die opening weggerol! Hy buk en loer by die graf in. Dis leeg! Wel, nie hééltemal leeg nie want op die klipbank waarop Jesus se lyk gelê het sien hy die grafdoeke waarin sy Meester toegedraai was.

Uitasem kom Petrus nou ook by. Versigtig klim hy deur die opening in die grafkamer. Jesus is nie daar nie.

Hy sien die doeke lê, maar daar is iets wat vir hom gladnie sin maak nie: eenkant, apart van die ander doeke, lê die doek wat om Jesus se kop gedraai was, netjies opgerol.

Johannes skraap ál sy moed bymekaar en klim ook in. Die twee manne kyk verslae, in ongeloof na die prentjie voor hulle. Wat kan dit tog beteken?

Dis twee baie verwarde manne wat die Sondagoggend stadig huistoe loop. Hulle verstaan gladnie wat daar gebeur het nie. Net mooi niks maak sin nie! Die doeke wat daar lê? As iemand Jesus se lyk sou gesteel het, sou hulle in die eerste plek baie beslis nie eers die doeke afgerol het van Sy liggaam nie. Diewe sou beslis nie die doeke daar laat lê nie, dis mos kosbaar, en hulle kan dit verkoop.

Johannes verstaan dit gladnie, daarom kan hy slegs één enkele afleiding maak: Jesus het uit die dood opgestaan!

Maria Magdalena is verward, haar hart is stukkend oor haar geliefde Meester! Doelloos begin sy sommer net loop. Sleepvoet volg sy die voetpaadjie graf toe. Voor die opening van die leë graf kom sy tot stilstand en gaan bitterlik aan die huil. As sy vir ‘n oomblik opkyk, sien sy deur haar trane twee manne in die grafkamer sit. Hulle het spierwit klere aan.

Die manne het groot simpatie met Maria. “Waarom huil jy so?”

“Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom begrawe het nie.”

Nou kom die trane in ‘n stortvloed. Sy draai om, sy wil weghardloop. Dan staan daar iemand voor haar: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Deur haar trane herken sy gladnie vir Jesus nie, en sy dink dis die tuinopsigter. “Meneer, as U Hom weggevat het, sê my asseblieftog waar julle Hom begrawe het. Ek sal Hom daar gaan haal.” Rou snikke skeur deur Maria.

Dan praat die Man met haar: “Maria.”

Onmiddellik herken Maria Jesus se stem. Hy was immers die Een wat sewe demone uit haar uitgedryf het! Waarom sal sy dan nie onmiddellik Sy stem herken nie?

Johannes skryf dat Maria na hierdie blye ontmoeting reguit terug is na die ander dissipels toe. Sy het sékerlik al die pad gehardloop so vinnig sy kon, en sy het vir hulle vertel dat sy Jesus gesien het, dat Hy leef en dat sy met Hom gepraat het. Sy het verder ook vir hulle vertel dat Jesus gesê het dat sy vir hulle moes sê dat Hy sou opvaar na Sy Vader, en dat Sy Vader ook húlle God en Vader is.

Maria Magdalena was dus die héél eerste getuie vir Jesus! Dit was beslis merkwaardig, want dit was ‘n tyd toe vrouens absoluut géén sê gehad het in die lewe nie, hulle was slegs die man se eiendom! Dit gebeur in ‘n tyd toe die man ál die sê gehad het, en hulle die enigste was wat in die openbaar kon praat oor godsdiens sake! Ten spyte hiervan, word ‘n vrou die héél eerste een om te getuig van Jesus se opstanding!

Gebed:

Here, vanoggend jubel ons weereens oor die leë graf - U het waarlik opgestaan! Jesus leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026