Die Koringkorrel Sterf

13 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Koringkorrel Sterf

Johannes 12:20-36

VIDEO * OUDIO

Die tyd was besig om met ‘n verbysterende snelheid voort te spoed na die finale oomblikke van Jesus se sending op aarde.

Johannes vertel dat dit nou nie meer net Jode en Samaritane was wat na Jesus kom luister het nie, maar selfs ook ‘n Grieke wat Hom wou sien. Toe Jesus hiervan hoor, sê Hy vir Andreas: “Die uur het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word.” Hy het alreeds die tyd van verheerliking sien naderkom en daarná sou ‘n onbeskryflike evangelie-ontploffing volg wat die ganse wêreld sou oorstroom!

Toe verduidelik Jesus vir hulle met ‘n beeld, wat met Sy sterwe sou gebeur. Dis soos ‘n koringkorrel wat jy in die grond plant. Daardie saadkorreltjie sterf as’t ware, maar in die proses spruit daar ‘n splinternuwe, grasgroen plant uit wat groei en uiteindelik ‘n groot oes lewer. Jy het sekerlik al ‘n saadjie in die grond gedruk en dan met groot verwagting staan en dophou wanneer die eerste tekens van lewe begin voorkom. Wat ‘n heuglike dag, as daardie grond ‘n krakie begin wys, en dan, as jy weer sien, loer die eerste brose blaartjies deur die kraak. Kort voor lank staan daar ‘n groot plant wat vrug dra. O, die wonder van nuwe lewe!

As die saadjie egter nie in die grond kom nie, kan hierdie wonder nie plaasvind nie en dan sal daar ook nie ‘n oes kan wees nie. Die saad móét sterf voor nuwe lewe kan plaasvind en baie nuwe koringkorrels voortbring. Op dieselfde wyse sou Jesus se sterwe nuwe lewe bring en vrug voortbring in groot oorvloed.

Wat vir Jesus voorgelê het oor die volgende paar dae, was skrikwekkend en Hy was diep ontsteld! Hy sou liewer wou bid dat dit tog asseblief maar nie moes gebeur nie, want die verskriklike kruisgebeure was net te veel om te verduur. Die ander evangelies beskryf hoe Jesus daar in die tuin van Getsemane deur die laaste nag in gebed geworstel het en hoe Hy letterlik bloed gesweet het van angs. Hoe Hy die Vader gesmeek het om nie voort te gaan nie. Maar Jesus het die waarheid van die koringkorrel besef, dat sonder Sy sterwe alles verniet sou wees. Dit was juis hiervoor wat Hy Homself verneder het om na die aarde neer te daal uit Sy hemelse heerlikheid. Hy het nie gekom om vir ons ‘n voorbeeld te kom stel oor hoe om te lewe nie - Hy het gekom om die losprys te betaal.

Nou het die ergste verskrikking vlakvoor Hom gelê. “Vader, verheerlik U Naam!” het Jesus in volle oorgawe gebid. Hy was bereid om die laaste ent voluit te stap - tot die héél laaste tree!

Skielik was daar ‘n stem uit die hemel, die stem van God: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Dit was soos ‘n donderslag wat rammel deur die klowe en oor die berge. “Dis ‘n engel! Dis ‘n engel wat met Hom gepraat het!” het die mense vol verwondering vir mekaar gefluister.

Dit gebeur slegs met baie besonderse geleenthede dat God in ‘n hoorbare stem met mense praat. Hierdie was sekerlik die grootste gebeurtenis óóit in mensegeskiedenis en hier praat God sodat almal daar dit kon hoor. Almal móés net eenvoudig kennis neem van God se heerlikheid en van die groot versoeningsdaad wat op hande was.

Jesus verduidelik vir die omstanders: “Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle.” Maar dan sê Hy dat saam met die versoening egter ook oordeel kom. Die duiwel se laaste uur van groot mag het aangebreek. Met Jesus se kruisdood, word die mag van die duiwel verbreek, sodat enigeen wat in Jesus glo, nie meer in sy gulsige kloue sou beland nie, maar gered sou word deur Jesus. Die duiwel was die heerser hier op aarde. Met Jesus se koms het Hy die terrein van die duiwel se koninkryk betree en hom kom onttroon.

Ja, die duiwel is steeds hier en hy het steeds mag. Paulus noem hom ‘n brullende leeu - uiters gevaarlik! Maar heers, kan hy nie meer nie, want sy mag is aan bande gelê. Die enigste plek waar hy steeds heers, is waar daar goddeloosheid is, dáár waar mense nie in Jesus wil glo nie.

Die vraag is, of die duiwel steeds vir gelowiges gevaarlik is? Kom ek verduidelik: As ‘n leeu agter tralies is, is jy doodveilig, hy kan jou nie bykom nie. Steek jy egter jou hand deur die tralies, of as jy te naby aan sy hok kom, dan kan hy jou lelik seermaak. ‘n Mens bly net eenvoudig weg van daardie gevaarlike katte af! Die duiwel is presies dieselfde. As ‘n gelowige onverskillig raak, kan hy lelik seerkry.

Wat is die antwoord? In vers 26 sê Jesus: “As iemand My wil dien, laat hy My volg.” Om Jesus waarlik te dien, moet jy bereid wees om uit jou leunstoel op te staan en te doen soos wat Jesus van jou vra. Gelowiges is nie altyd bereid om groot opofferinge te maak nie en hulle neem die lewe dikwels baie gemaklik op. Diegene wat egter bereid is om gemak agter te laat en Jesus voluit te dien, ondervind ‘n lewensvreugde wat ongekend is! Paulus het dit gedoen, en die vreugde en blydskap het uit hom geborrel soos ‘n helder fontein. Vandag is daar talle gelowiges wat presies dieselfde doen en bereid is om daardie ekstra myl te stap vir Jesus. Gaan gesels gerus met so ‘n persoon en jy sal sommer sien hoe hy straal. Kom ons begin sommer vandag en volg Jesus onvoorwaardelik!

Gebed:

Here Jesus, ek wil U volg met alles wat in my is. Lei my om U voetspore te volg, en om in U helder Lig te lewe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026