Matteus 14:1-12
Herodus het ‘n gruwelike ding gedoen toe hy toegelaat het dat sy wellus hom oorweldig! Die gevolg was dat hy reg in sy vrou, Herodias se kaarte gespeel het!
Die Herodus waarvan ons hier praat is Herodus Antipas. Sy pa was die berugte Herodus die Grote, wat onder andere verantwoordelik was vir die gruwelike massa babamoord kort na Jesus se geboorte. Herodus die Grote se drie seuns, Argelaus, Filippus en Antipas het hulle opleiding in Rome gehad, en ná hulle wrede pa se dood het hulle elkeen ‘n landstreek gekry wat hulle moes regeer. Antipas se magsgebied was Galilea en Perea. Hy is getroud met die dogter van Aretas van Nabatea, maar hy kon net eenvoudig nie sy oë van sy broer Filippus se vrou, Herodias afhou nie. Uiteindelik het sy wellus die oorhand gekry en hy smyt sy vrou weg en rokkel sy broer se vrou af. Hieroor is Skoonpa Aretas natuurlik bitter kwaad, en die gevolg is ‘n oorlog, een wat Antipas verloor. Maar nouja, hy hét toe mos klaar vir Herodias. Of was dit dalk nou sý wat hóm het? ‘n Regte gifappeltjie, daardie vrou! Só lees ons so tussen die lyne deur…..
Johannes die Doper kon net eenvoudig nie stilbly oor die land se heerser wat hom soos ‘n vark gedra nie, en hy vertel vir Herodus en Herodias kaalkop die waarheid. En Herodias braak gal! Hoe durf ‘n ongepoetste straatprediker haar man, die Tetrarg van Galilea so beledig! En hulle stop Johannes in die tronk. Dis die soort van dinge wat gebeur as daar nie persvryheid is nie!
En toe kom dáárdie partytjie: Herodus verjaar, en hy gooi groot makiti. Ek kan my indink: almal met ‘n titel is daar. Die tafels kreun onder die vragte eksotiese kos en die drankies vloei mildelik. Skamelgeklede danseressies vermaak die gaste met erotiese danse op die maat van die Oosterse musiek. En dan kom die hoogtepunt van die aand: die verruklike dogter van Herodias verskyn op die dansvloer. Sy het by haar slinkse ma geleer hoe om mans te betower, en as sy oor die dansvloer gly en wriemel, laat sy menige man in die vertrek kwyl. Herodus kan sy oë nie van haar afhou nie. As sy uiteindelik haar laaste draai maak, is die applous oorverdowend. Herodus wink haar nader: “Sê maar net wat jy wil hê!” Hy is merkbaar betower deur haar vertoning. “Enigiets! Ek sweer, enigiets wat jy vra gee ek vir jou!” Sy tong is goed los, want wellus het mos die manier om jou dinge te laat sê wat jy normaalweg nie sou sê nie. Jou verstand dink net eenvoudig nie meer logies nie!
Sy kyk vraend na Mammie, en Mammie fluister iets in haar oor. Vir ‘n oomblik wil dit amper voorkom asof die meisiekind geskok is, maar dan sprei ‘n slinkse glimlag oor haar beeldskone gesiggie: “Johannes se kop!”
Daar sak ‘n geskokte stilte neer oor die vertrek. Het hulle reg gehoor? Herodus word wasbleek, maar sy vrou sit met ‘n tevrede glimlag op die gesig. “Ek wil Johannes die Doper se kop hier op ‘n skinkbord hê!” en sy wys met haar vinger hoe die man keelafgesny moet word. Teen hierdie tyd is Herodus skoon nugter geskrik. Hy probeer nog wal gooi, want uiteraard is hy darem ‘n verantwoordelike heerser! Maar dan onthou hy sy belofte aan haar. As hy nou sou omdraai, is sy reputasie totaal daarmee heen.
“Nou goed dan!” Hy is moedeloos.
En Herodias glimlag tevrede, haar onverbloemde haat vir Johannes is bevredig! In die proses maak sy van haar dogter ook 'n moordenaar om haar moordlus te bevredig!
‘n Rukkie later dra twee slawe die grusame, bebloede gesig in ’n skottel die vertrek binne en gee dit vir die meisie. Sy wil dit nie hê nie en sy gee die afgryslike geskenk vir Mammie Herodias. Herodus voel siek……
‘n Grusame verhaal wat baie vrae in jou gemoed laat. Herodus het die wonderlike voorreg gehad om ‘n besoek te kry van die grootste profeet van alle tye, Johannes die Doper. Wat doen hy? Hy laat hom opsluit en vermoor. Hy kry ‘n tweede kans toe Jesus, die Seun van God, die Messias in sy omgewing kom preek. Hy skrik hom asvaal, want hy dink dat dit Johannes se spook is! Weereens laat hy die kans om die ewige lewe te verkry deur sy vingers glip. Daar was nooit weer daarna ‘n kans vir Herodus nie. Hy het sy laaste kans verspeel!
Iemand skryf ‘n tyd gelede vir my en vra wat sy moet doen om ‘n kind van God te word. Ek het vir haar die duidelike, eenvoudige Evangelieboodskap gestuur. Haar antwoord was dat sy nog nie gereed was daarvoor nie. Sy moes nog eers dinge in haar lewe gaan regmaak. Sy het nooit weer van haar laat hoor nie. Is dit dalk nou ook al te laat vir haar, net soos Herodus? Was haar sondes dalk só groot dat sy gedink het dat daar nie vir haar vergifnis kon wees nie? Jesus het aan ‘n moordenaar die ewige lewe gegee terwyl Hy sterwend aan die kruis gehang het. Selfs sy verskriklike sonde was nie te groot vir God se vergifnis nie. As Herodus dit tog maar net kon besef, was hy dalk ook gered! Hy het egter sy ore toegedruk vir die evangelie. Hy wou dit nie hoor nie!
Moenie dat dit met jou gebeur nie………..
Gebed:
Here, ek bid vanoggend innig vir die talle mense wat deur hierdie dagstukkies reeds die duidelike Evangelieboodskap ontvang het, en nog nie daarop reageer het nie!