Johannes 1:14-18
Beteken die datum 27 Mei 1947 vir enigiemand iets besonders? Waarskynlik nie, maar in die Nasionale Kruger Wildtuin was dit ‘n baie besonderse dag. Vir baie lank was daar voorberei vir hierdie groot dag. In die Pretoriuskop ruskamp is daar selfs spesiale hutte, koninklike hutte gebou vir ‘n baie besonderse besoeker wat daardie dag die wildtuin sou besoek en daar sou oorslaap, niemand anders nie as die koning van Engeland, koning George VI.
Toe die groot dag aanbreek, is die hekke van die wildtuin vir alle ander besoekers gesluit, en slegs die koning en sy gevolg het die ongelooflike voorreg gehad om die ganse Kruger Wildtuin vir hulleself te hê. Die Britse regering het ‘n versoekie gehad: dit sou darem baie gaaf wees as Koning George en een van die prinsesse elkeen ‘n leeu kon skiet. Stevenson-Hamilton, die parkhoof, het amper van sy stoel afgeval toe hy daardie versoek hoor. Nee, dit sou nie deug nie, selfs al was hy die koning! George en sy dogters moes maar hulle jag-gewere tuis laat. Vir ‘n volle dag lank het hierdie koninklike stoet die wildtuin deurkruis, en doodmoeg die aand by Pretoriuskop aangekom vir ‘n nag in die Afrika bos.
Die organiseerders van die koninklike huishouding het egter besluit dat dit te gevaarlik sou wees. Die koning kon nét dalk malaria opdoen. Hy moes die nag maar tevrede wees om in sy trein te slaap op Witrivier. Hy het dus nooit in die hut, wat spesiaal vir hom gebou is, geslaap nie!
K yk gerus na die kort video insetsel van die koninklike besoek in 1947.
As jy mooi dink, is hierdie eintlik ‘n absurde verhaal van ‘n koning vir wie die wêreld nie goed genoeg was nie. Onthou, Suid-Afrika was toe nog ‘n Britse kolonie, en dus deel van Koning George se Koninkryk.
Hoe wonderlik, verfrissend anders is die nuus wat Johannes kom gee nie! Die Woord (Jesus) is die Koning van alle konings en die Eienaar en Skepper van die ganse heelal! Hy het mens geword en onder ons kom woon. Daar staan letterlik dat Hy kom tent opslaan het tussen ons. Ons moet dit lees in die konteks van die volk Israel, toe hulle as ’n nomadiese volk deur die woestyn geswerf het en in tente gewoon het. Die tent van die Here (die tabernakel) is tussen die volk opgeslaan en daar het die Here gewoon. So anders as koning George, wat so hoog verhewe was dat niemand anders naby hom toegelaat is in die wildtuin nie, het Jesus een van ons geword en Hom gemeng met doodgewone mense, selfs tollenaars, Samaritane, sondaars en vissermanne! Anders as koning George, vir wie selfs ‘n splinternuwe, baie spesiale hut in Pretoriuskop nie eers goed genoeg was nie, het Jesus dikwels buite in die veld op die harde grond geslaap. Hy is immers in 'n vuil, stinkende stal gebore! Hy het swaarkry geken en siektes en gevaarlike situasies het Hom nie afgeskrik nie.
Koning George het homself gedistansiëer van gewone mense. Hy was immers koninklik! Koning Jesus, aan die ander kant, was menslik toeganklik. Selfs kindertjies kon na Hom toe kom met vrymoedigheid, al was hulle onrein en bloot as eiendom gesien.
Kyk, ons moenie vir een oomblik maar aanneem dat Jesus “gewoon” was nie! Johannes maak dit baie duidelik dat ons Sy heerlikheid en genade aanskou het. In alles wat Hy gedoen het gedurende daardie drie jaar van Sy bediening op aarde, het mense verstom gestaan oor Sy krag, wysheid en majesteit. Geen wonderwerk was te groot vir Hom nie, en selfs die natuurkragte was Hom gehoorsaam. Die hemel het vir Hom oopgegaan tydens Sy doop. Hy het genade in oorvloed uitgedeel. Ons sien dit wanneer hy die vrou wat owerspel gepleeg het vergewe. Ook wanneer Hy die Samaritaanse vrou met die duistere geskiedenis stuur om te gaan preek, en die mal man in die begraafplaas op ‘n sending stuur om die evangelie te versprei.
In vers 18 kom Johannes by die hoogtepunt, die kern van hierdie pragtige lied. Hy maak die bewering dat niemand God nog ooit gesien het nie. Maar dan kom die verrassende: Jesus het God aan ons kom bekend stel. Hy is self God, dus het die mense van 2000 jaar gelede die unieke voorreg gehad om God in lewende lywe te aanskou.
Vandag is die enigste wat verander het, die feit dat Jesus ‘n verheerlikte liggaam het en dat Hy nie nou meer vir ons fisies sigbaar is nie. Hy woon egter steeds onder ons in dié sin dat Hy alomteenwoordig is, en Hy maak persoonlik bemoeienis met elkeen van ons, maak nie saak wie of wat jy is nie. Jesus beskou Homself nie as te verhewe om by jou te wees en met jou te gesels nie, al is Hy God almagtig, die Skepper van die heelal en Koning van alle konings. Inderdaad moet ek Hom steeds die respek en eer gee wat ‘n Koning van Sy statuur behoort te kry, maar ek kan terselfdertyd ook met vrymoedigheid met Hom gesels oor my eie behoeftes en my smarte. Ek kan my blydskap en vreugdes met Hom deel. Hy is nie soos enige ander koning nie. Jesus is waarlik uniek! Daar is slegs EEN soos Hy! Kom ons aanbid Hom daarvoor.
Gebed:
Jesus, ons eer U, opgestane Heer, Lewensvors en Koning, U wat triomfeer!