Die Keiser se Sensus

18 December, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Keiser se Sensus

Lukas 2:1-3

Die sosiale media gons! Op Twieter vlieg boodskappe rond soos: “Die Keiser het sy varkies verloor!” Op Vuisboek word met groot smaak vertel hoe die ongeduldige Augustus skoon van sy trollie afgeraak het. Hy wil nou glo hê dat almal in die hele wêreld getel moet word. Dis mos totaal ‘n onmoontlike saak? En die WatSap boodskappe vlieg rond teen ‘n verbysterende spoed. Een daarvan: “Moet onder géén omstandighede ‘n boodskap oopmaak wat begin met die woord SENSUS nie. Dit is ‘n dodelike virus!”

Netnou-Se-Nuus berig uit Rome dat die hooggeagte Keiser Augustus, wat homself beskou as 'n half-god, half-mens, so pas ‘n bevel uitgevaardig het dat daar ‘n wêreldwye sensus gehou gaan word van al die inwoners van die Romeinse Ryk. Die Goewerneur van Sirië, Sirenius het die reuse taak gekry om die hele operasie te koördineer.

Uit Palestina gons dit 'n paar maande later, oor die reuse verkeer op die gevaarlike, klipperige bergpas tussen Jerigo en Betlehem. Verskeie donkies het glo al verongeluk. En die klein stadjie Betlehem is in chaos gedompel. Iemand wou weet of hierdie simpel Keiser dan nie besef wat hy doen nie? Hy moes mos geweet het dat Betlehem die geboortestad van die groot koning Dawid is! Nou verwag hy dat al Dawid se afstammelinge in daardie gehuggie moet bymekaarkom vir die sensus! Dis absurd! Die dorpie kan dit net eenvoudig nie hanteer nie!

Die timmerman Josef het 'n plasing gemaak op sy Vuisboek blad: Na 'n uitmergelende week se reis het hy en sy hoogswanger bruidjie uiteindelik in Betlehem aangekom vir die sensus. Foeitog, om op so 'n brose ouderdom van veertien so 'n verskriklike reis te moes deurstaan! En toe moes hulle boonop uitvind dat daar vir hierdie tweetjies nêrens ‘n slaapplekkie te kry was nie, buiten in 'n vuil, stinkende stal. Alles was net een té veel vir Vroutjie, en haar Baba is nét daar in die stal gebore.

Lukas beskryf in enkele sinnetjies die geboorte van Jesus, asof dit ‘n alledaagse gebeurtenis was. Daar is egter báie meer in hierdie verhaal as wat die oog tref.

Die magtige keiser Augustus swaai die septer en blaf bevele uit. Twee doodgewone mense sonder enige status, Josef en Maria moet maak soos hy beveel. Augustus se mag was astronomies, en baie mense het hom gesien en selfs aanbid as ‘n soort god. Hy was in beheer van die ganse wêreld. Josef se eenvoudige lewenswyse was géénsins noemenswaardig nie, en Maria, as jong vrou, se status was totaal niksseggend.

Augustus kondig ‘n wêreldwye volkstelling af. Dit was ‘n ongehoorde en baie ongewone bevel van astronomiese omvang. Die logistieke probleme rondom só ‘n aksie was onmóóntlik groot! Om dinge te vergemaklik moes elke inwoner na sy voorgeboortelike dorp gaan, ‘n totale ontwrigting van die samelewing, want vir baie mense het dit ‘n reis van dae of selfs weke beteken.

Ten spyte van die omvang van Augustus se operasie, het die gebeurtenis totaal in die vergetelheid verdwyn, en selfs in die annale van die geskiedenis word dit nie eers vermeld nie. Die paralelle gebeurtenis, die geboorte van die twee feitlik onbekende mensies in die eenvoudige gehuggie van Betlehem se baba, word wêreldwyd selfs vandag, tweeduisend jaar later, steeds as die gebeurtenis van alle tye onthou. Waarom?

Die antwoord op hierdie vraag lê daarin dat dit Gód is wat vir Augustus gebruik het om hierdie ongewone ding te laat gebeur. Was dit nie hiervoor nie, sou Josef nooit, óóit vir Maria na Betlehem geneem het in haar toestand nie. En Jesus móés in Betlehem, die Dawidstad gebore word, só is dit immers voorspel deur die profete!

Verder was dit baie belangrik dat Hy in ‘n stal gebore móés word, en dat Sy eerste bedjie ‘n krip sou wees waaruit diere vreet. Só het Hy alreeds by geboorte die lydensweg begin. Dáárom die volkstelling. En dáárom die horde mense wat Betlehem oorstroom het, sodat daar nêrens elders vir Josef en Maria plek sou wees as in ‘n vuil stal nie. Is dit nie absolute Goddelike ingryping nie?!

Baie mense wil hierdie dinge verklaar deur te sê dat dit ‘n wonderlike sameloop van omstandighede was. Nee! Die hele gebeurtenis was haarfyn deur God beplan om uit te werk tot in die fynste detail. Kyk ons na die ander weergawes van hierdie gebeurtenis, dan sien ons dat selfs die sterre en planete presies reg gereageer het volgens God se bevel om hierdie groot gebeurtenis te beklemtoon.

Ons staar ons dikwels blind teen die Kindjie in die krip, en vergeet om die groter prent raak te sien, die prent van hoe die almagtige God alles laat gebeur het soos wat Hy dit beplan het. Om dit selfs duideliker vir ons as mense te maak, het Hy hierdie dinge in die Skrif laat opteken deur Sy profete, honderde jare voordat dit plaasgevind het. Voor só ‘n God kan ons net neerval in aanbidding.

Gebed:

Here, vanoggend staan ons in verwondering oor U almag. Ons loof en prys U grote Naam.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026