Jesaja 20
Dit was die jaar 711vC. Op die troon in Egipte, het ‘n “Etiopiër” met die naam Sabako gesit. Hy was eintlik ‘n Nubiese koning van die land Kus, vandag bekend as Sudan. In daardie jare was alle swart mense “Etiopiërs” genoem deur die bewoners van die Middelandse See gebied. Sabako was moeg vir die spul Assiriërs wat besig was om die hele wêreld te onderdruk. Alleen, was hy magteloos teen hulle, maar as hy ‘n klompie ander lande kon kry om met hom in koalisie te gaan, dan kon hulle die Assiriërs ‘n ding of twee wys! Dus gaan gesels Sabako met verskeie konings in Palestina om saam te sweer teen Assirië, en meeste van hulle besluit om saam te werk.
Intussen het Assirië die Filistyne in hulle visier. Hulle byt egter vas in hulle hoofstad Asdod. Ten einde raad, beleër Sargon van Assirië die stad en dwing die Filistyne tot oorgawe. Hulle het gehoop om van Egipte se kant af hulp te kry, maar hulle hoop het beskaam, en niemand wou hulle te hulp snel nie.
Dit was juis in hierdie tyd toe Jesaja ‘n baie vreemde opdrag van die Here kry: hy moet sy klere uittrek. Selfs ook sy skoene! En nee, hy kon nie maar in sy huis bly nie, só kaal moes hy buite in die strate rondloop!
Nou wat sou die Here hiermee wil sê?
In daardie jare was mense wat in ballingskap weggevoer is, gedwing om al hulle klere uit te trek. So moes hulle naak marsjeer na die land waarheen hulle weggevoer is. Dit sou waarskynlik bygedra het tot hulle skande, of dalk ook om hulle moed te breek. Gewoonlik is sulke ballinge van ál hulle klere gestroop, maar soms is hulle toegelaat om darem ‘n onderkleed aan te hou. Of Jesaja dus poedelnaak moes loop, en of hy wél onderklere kon aanhou, is nie seker nie. Maar wat ookal die geval, dit moes vir hom ‘n bitter moeilike opdrag gewees het om na te kom.
Die Here wou met hierdie handeling van Jesaja simbolies wys wat met die mense sou gebeur. Die inval van Asdod was baie vars in almal se geheue. Almal het gesien hoe die inwoners van Asdod op ‘n streep kaal weggelei word na ‘n vreemde land. Nou sê Jesaja dat hulle presies dieselfde behandeling te wagte moet wees. Jesaja is dus ‘n lewende getuie teen Egipte en Kus, en elke ander volk wat op Egipte staatgemaak het om hulle te help teen Assirië, sal dieselfde lot te beurt val. Assirië sal hulle sonder klere en sonder skoene kaal in ballingskap wegvoer!
Vir Juda is dit ‘n baie ernstige waarskuwing. In vorige dagstukkies het ons reeds gesien dat Juda na Egipte gevry het vir ‘n Koalisie. Hulle het vergeet hoedat die Here al soveel keer ingegryp het wanneer hulle in die moeilikheid was. Hoe Hy hulle op wonderbaarlike wyse gered het teen die einste Egipte. Hoe Hy hulle droogvoets deur die Jordaan in volle vloed laat loop het. Hoe Hy die onoorwinlike Jerigo voor hulle oë laat verkrummel het. Hoe Hy vir Gideon gebruik het met ‘n klein handjievol manne om ‘n magtige leër te verslaan. Ensovoorts!
Al wat die Here van Juda vra is om op Hom te vertrou. Maar wat doen hulle? Hulle vertroue in Hom is so klein dat hulle eerder na hulle eertydse aardsvyand, Egipte toe hardloop vir hulp! Dis ‘n klap in die gesig van God! Hulle sê hiermee: “Here, ons vertrou U nie!”
Dan moet hulle maar voel!
So kaal soos Jesaja daar in hulle strate rondgeloop het, só kaal sal hulle óók loop, maar dié slag nie in die strate nie, maar in ‘n lang tou na ‘n vreemde land!
Die vraag is of hierdie kaal profeet ooit die volk se dringende aandag gekry het? Het hulle dadelik hulle afhanklikheid van Egipte gestaak en al hulle vertroue eerder op God geplaas?
Nee! Hulle het maar net so voortgegaan soos wat hulle nog maar altyd gedoen het.
Ons wys die vinger na Juda. Ja, hulle kry net mooi wat hulle verdien het, om in ballingskap te gaan! Maar wat van jou en my? Dalk sal jy sê dat ons darem nou nie profete het wat kaal in die strate op en af loop nie. Maar gister was dit weer Sondag. Hoeveel van ons het deelgeneem aan ‘n erediens? O ja, die virus maak dat meeste van ons nie fisies ‘n erediens kon bywoon nie. Maar die wonder van ons moderne tegnologie maak dat ons die erediens deur middel van die internet tot reg in ons sitkamer kan bring. Ek het sélf gister vir jou ‘n skakel gestuur vir ons gemeente se erediens, so jy het nie eers nodig gehad om vir een te gaan soek nie. En as jy ‘n ander diens wou kyk, is daar by Kieskerk ‘n keuse van 135 gemeentes waarop jy kan inskakel.
Iewers op een van hierdie talle boodskappe is daar een waar die profeet met jou persoonlik praat. Deur wie se mond die Here vir jou sê: “Plaas ál jou vertroue op My!”
Gebed:
Here, ek staan ook dikwels skuldig en slaan nie ag op wat U profete vir my sê nie. Vergewe my, Here, en help my om te doen wat U van my vra.