Die Kaal Man

11 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Kaal Man

Lukas 8:26-39

Jesus en die twaalf het in Kapernaum, op die noordelike oewer van die meer van Galilea in die vissersboot geklim en die volle lengte van die meer, reg suid gevaar. Dit was waarskynlik nadat hulle verby Tiberias en Hippus gevaar het, toe die verskriklike storm hulle getref het. Soos ons gister gehoor het, het Jesus die storm eensklaps laat bedaar. Hulle kon rustig verder vaar na die landstreek van Gadara, aan die suidelike punt van die meer. Skaars is hulle aan wal, of die volgende groot “storm” tref hulle, dié slag in die vorm van ‘n besete man wat poedelnaak op hulle afstorm!

Jesus en sy dissipels bevind hulle hier in die “buiteland”, in die land van die Geraseners, waar die Joodse wette gladnie geld nie. Mense het hier selfs met varke geboer, iets wat elke goeie Jood met afsku sou vervul!

Hier tref hulle die kaal man aan. Hy bly lankal nie meer in ‘n huis nie, omdat die samelewing hom hoeka totaal verwerp het. Tussen die grafte het hy sy lêplekkie gekry. Sy onbeheerste optrede het al daarvoor gesorg dat die inwoners hom probeer vang het. Hulle het hom selfs met kettings geboei om hom in bedwang te probeer hou, maar g’n kettings kon hom beheer nie.

Skerp in kontras met hierdie wilde besetene, sien ons vir Jesus wat doodkalm optree en bloot vir die man vra wat sy naam is. Van die dissipels hoor en sien ons niks, ek dink hulle was dalk te bang om naby te kom! Dit moes ‘n skrikwekkende gesig wees om te aanskou. Boonop het die man Jesus aangespreek as “Seun van God, die Allerhoogste”. Hulle het sélf nog maar swaar gesluk aan hierdie gedagte, en nou kom ‘n besete heiden en blaker dit uit! Wat hulle egter nie besef het nie, is dat dit die duiwelse demone in die man was wat met Jesus gepraat het deur die man se liggaam te gebruik. Natuurlik ken die duiwel en al sy demoniese aanhangers vir Jesus, en hulle weet presies wie Jesus is. Hulle sal egter nooit vir Jesus dien nie, want hulle wil sélf die heerskappy hê.

Dan kan ons natuurlik ook die vraag vra, of dit sou beteken dat as iemand vir Jesus ken en Hom erken as God, dat hy noodwendig ‘n geredde persoon is? Die antwoord is ‘n baie besliste “NEE!” Voordat jy jou lewe aan Jesus toevertrou het en in Hom as jou persoonlike Verlosser glo, het jy beslis nie die saligheid nie.

Die verrassende is, dat wanneer die man (oftewel die demoon in hom) vir Jesus antwoord, blyk sy naam “Legio” te wees, wat beteken “Baie”. Die man se lewe was oorheers deur ‘n klomp demone. Die Latynse woord Legio het verwys na ‘n afdeling of legioen in die Romeinse leër wat uit tussen 3’000 en 6’000 soldate bestaan het.

Die demone wil niks met Jesus te doen hê nie! Hulle wil net alleen gelaat word, want Jesus se teenwoordigheid is vir hulle ‘n groot bedreiging. Wanneer hulle egter in ‘n hoek gedryf word, smeek hulle om eerder na die varke toe verban te word. Hulle wil asseblieftog nie na die doderyk verban word nie. Ons sien hoedat die varke skielik op loop sit wanneer die demone in hulle invaar. Die mense van die omgewing word gevul met vrees wanneer hulle sien hoedat die hele trop oor ‘n afgrond stort en in die see versuip. Dit is tóg ironies dat die mense Jesus smeek om liewer hulle land te verlaat. Hulle is meer besorg oor hulle finansiële verlies as oor die besetene wat hier voor hulle oë genees is en ‘n splinternuwe lewe gekry het!

Daar is baie vrae oor hierdie verhaal. Waarom het Jesus gehoor gegee aan die versoek van die demone, maar as die man wat genees is smeek om saam met Hom te gaan, dan weier Jesus sy versoek? Daar is baie vraagstukke in die Bybel waaroor ons maar net kan gis, want ons ken nie God se volle raadsplan nie. Waarom Hy nie die demone direk die verdoemenis ingestuur het nie, sal ons nie weet nie. Wat ons wél kan sê, is dat dit ‘n gedeeltelike oorwinning oor die duiwel was, maar dat die finale slag nog gelewer sal word, en dan sal dit ‘n baie groot slagting vir die duiwel en sy trawante wees.

Wat die man betref: hy het ‘n baie groot taak op sy skouers gehad. Hy moes die mense van sy omgewing van Jesus gaan vertel. En wát ‘n taak was dit nie! Die mense wat voorheen in vrees van hom af weggevlug het, moes hy nou oortuig dat Jesus die Verlosser is. ‘n Paar jaar later, toe die vervolging van Christene in Jerusalem op sy ergste was, het die mense gevlug. Baie van hulle het skuiling gevind in hierdie einste streek, en hier is hulle met ope arms ontvang. Waarom? Ons kan maar net raai, maar iets sê vir my dat die mal man wat eens kaal in die begraafplaas gebly het, sulke goeie sendingwerk gedoen het, dat almal in die omgewing ryp was vir die Evangelie toe die groot stroom Christene daar aankom en die Evangelie begin verkondig.

Gebed:

Here, dankie dat ons weereens vanoggend U almag kon aanskou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026