Die Intog

5 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Intog

Johannes 12:12-19

Die spanning is besig op te bou tot ‘n geweldige crescendo, en Johannes kan dit skaars hou. Twee dae gelede het hulle deur Jerigo gekom op pad na Jerusalem, toe Jesus twee blindes langs die pad genees het sodat hulle kon sien. Die mense was in ekstase, maar op Johannes se maag was daar ‘n knop van pure senuwees. Wat wag daar op hulle in Jerusalem? Van heinde en verre kom mense aangestroom vir die Paasfees. Die nuus, dat Jesus ook op pad was na die fees toe, laat dit gons onder die menigtes wat soos ‘n lewende rivier die laaste entjie na Jerusalem kronkel. Dit was ‘n bitter moeilike, steil pad op na Jerusalem van Jerigo af, maar uiteindelik is hulle bo. Almal is vrolik en opgewonde - so ‘n gebeurtenis kom net eenkeer per jaar. Maar vanjaar is dit asof iets anders knaag aan die stemming. Almal besef dat daar iets baie groot gaan gebeur, maar niemand kan sy vinger daarop lê nie.

Daar is Jesus!” roep iemand uit, en Johannes se moed sak sommer weer in sy stowwerige sandale in. Soos ‘n reuse swerm kommandowurms breek ‘n groot groep mense weg, Jesus tegemoet. Langs die pad pluk hulle palmtakke en kom al takswaaiende en singende op Hom afgestorm. “Prys Hom!” sing hulle uit volle bors. “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” Johannes weet maar ál te goed dat die Jode nog al die jare ‘n baie sterk nasietrots gehad het, maar dat dit die laaste tyd ‘n hoogtepunt bereik het. Palmtakke is deesdae die in-ding om hierdie nasionalisme te versterk en uit te basuin. “Die Koning van Israel! Die Koning van Israel!” dreun dit deur die menigte, wat nog al die tyd aangroei teen ‘n verbysterende tempo. Johannes krimp ineen.

Het die einde van die verpestelike Romeinse oorheersing nou uiteindelik aangebreek? Hierdie skare dink beslis so! Johannes en sy makkers deel ook maar half teësinnig en bitter bekommerd in die feesvreugde. Wat gaan môre oplewer? Gaan hulle Meester dalk tereggestel word? Besef hierdie jillende skare dit dan nie?

n Jong donkie, ‘n eg-koninklike rydier, word nadergesleep vir Jesus om op te ry. As Hy opklim, raak die skare histeries. Hulle dreunsang weerklink oor die klowe, en eggo dat dit kilometers ver gehoor kan word.

Maar daar is ook ‘n groepie manne wat gladnie meedoen nie. Rasend van woede, aan die een kant, en tegelyk ook bekommernis, staan hulle daar en beraadslaag. “Kyk net wat doen Hy!” sis een Fariseër. Hy slinger verwyte na sy hulpelose kollegas: “Sien julle, julle het net mooi niks uitgerig gekry nie!”

Ja, hier het ons dit nou! Die ganse wêreld tou nou agter Hom aan!”

Kyk, as ons nie nou bitter vinnig optree nie, gaan hierdie ding baie lelik skeefloop. Dink nou maar vir julleself: wat gaan die Romeine doen as hulle sien dat hier ‘n groot opstand aan die uitbroei is? Dan is dit klaarpraat met ons! Dan is al ons harde werk van die afgelope jare tot niet! Daardie Romeine gaan ons opfrommel!”

Ja,” stem sy maat saam. “Ons moet onmiddellik van Hom ontslae raak, of ons is in groot moeilikheid!”

Johannes onthou skielik die woorde van Sagaria 9:9: “Jubel, Sion! Juig Jerusalem! Jou Koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en Hy is ‘n oorwinnaar, Hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

Hy wonder of enigeen van hierdie duisende mense wat so al singende agter Jesus aan dans, hierdie woorde onthou? Johannes wil huil. Hy sien hoe sy Meester na Sy dood ry. Daardie manne gaan Hom beslis nie weer laat wegkom nie. Tóg ry Jesus gedweë die stad binne, soos ‘n Lam ter slagting gelei. Johannes verstaan dit gladnie. Hoe kan Hy so willens en wetens reguit in die slagyster inry?

Hosanna!” Die skare is histeries! “Hosanna! Gee nóú verlossing! Hosanna! Hosanna!” Dit weergalm teen die stadsmure wat al nader kom. Dit is presies wat Jesus op pad is om te gaan doen - Hy gaan om verlossing te bewerkstellig! Maar dit is totaal anders as wat hierdie mense verwag.

Die gebeure daar voor Jerusalem se trotse stadspoorte, ruk ons vandag aan die hart, net soos wat dit vir Johannes geruk het. “Kon die Vader nie maar net verlossing gegee het nie? Waarom moes Jesus nou juis so verskriklik ly?” Dalk kon Hy, maar dan was dit goedkoop en afgewater. Ons verlossing het verskriklik duur gekom. God se genade is nie goedkoop nie, en juis dáárom vra dit van jou en my om ons dankbaarheid met passie uit te leef. Jesus was bereid om die volle pad te stap. Hy was bereid om doelbewus in die put vol adders in te klim om ons te red. Die skrikwekkende is dat Hy presies geweet het waarvoor Hy Hom inlaat!

Gebed:

Here, dit ruk in my, en ek kry diep seer as ek dink aan U groot offer vir my. Ek wil U dien, Here, met alles wat in my is, omdat ek so dankbaar is vir wat U vir my, sondaar, gedoen het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026