Dit wil voorkom asof verskeie mense vir Paulus briewe geskryf het oor die probleem van prostitusie. Hy noem dit dat mense al vir hom briewe hieroor geskryf het om antwoorde te kry. Vandag word die vrae selfs nog moeiliker sodat selfs die teoloë sit en kopkrap. En oral probeer hulle vure doodslaan!
Alles het begin by Oer-oupa en Ouma Adam en Eva, en die begeertes wat van daardie jare af in ‘n mens brand. Die probleem is net dat party mense se begeertes soveel erger brand! Hierdie probleem kom egter al langpad. Paulus het dit maar al te duidelik gesien daar in Korinte. Daarom skryf hy hierdie hoofstuk in groot detail, en hy draai nie doekies om nie. Maar ek moet bieg dat ek eendag ‘n paar vrae vir Paulus het wanneer ek hom sien, want sommige van sy redenasies verstaan ek gladnie. Gelukkig is ek darem nie die enigste nie, selfs Petrus het geskryf dat hy Paulus nie altyd lekker verstaan nie!
In Korinte was daar destyds ‘n baie sterk eindverwagting. Gelowiges het geglo dat die wederkoms van Jesus enige oomblik kon plaasvind, en so het Paulus ook geglo. Dit is natuurlik ook reg dat ons so moet lewe asof die wederkoms vandag kan plaasvind. Die probleem is egter dat jy só vasgevang kan raak in jou wederkomsverwagting, dat jy heeltemal perspektief van die lewe kan verloor. ‘n Goeie balans sal wees om Jesus vandag terug te verwag, maar jou lewensbeplanning te doen asof Hy eers oor ‘n duisend jaar sal kom.
In die lig van hierdie wederkomsverwagting, wou die Korintiërs weet van die alledaagse dinge, en hoe om dit te hanteer. Oor seks was daar twee moontlikhede: die eerste was om dan maar totaal losbandig te lewe (soos dit dikwels vandag die geval is!) Dit sou beteken dat die man maar vryelik omgang kon hê met sy slavinne, hulle was immers sy eiendom! Bordele was boonop vryelik beskikbaar vir elke man se genot, en dit lei natuurlik ook tot allerhande ander verhoudings buite die huwelik. Die tweede stroom het weer die totaal teenoorgestelde siening aangehang van totale onthouding, wat eintlik ‘n uitvloeisel was van die asketiese beweging. Dit het behels dat daar ‘n totale selfverloëning moes wees op verskillende terreine van die lewe, en dat jy jou selfs geheel van die wêreld onttrek. Volgens hulle was geheel onthouding van seks ‘n voorwaarde vir geestelike groei.
In die geskiedenis het altwee hierdie sieninge ‘n groot invloed gehad op die mensdom. In die sestigerjare het ons byvoorbeeld die Hippie-beweging gehad met “Make love, not war!” as hulle slagspreuk, waar vrye seks aan die orde van die dag was. In die Victoriaanse tyd was dit presies die teenoorgestelde. Enige seks, selfs binne die huwelik, is gesien as sonde.
Paulus stel dit baie duidelik dat slegs die derde opsie regverdigbaar is. Dit behels dat seks slegs beoefen mag word tussen ‘n man en vrou in ‘n normale monogame huwelik met ‘n lewenslange verbintenis. ‘n Koerantredakteur het eenmaal gesê dat ‘n koerant soos ‘n goeie vrou is: elke man moet sy eie hê, en hy moenie sy buurman s’n lees nie.
Uit wat Paulus sê, is daar ‘n paar dinge waarby ons nie verby kan kom nie:
‘n Huwelik is ewig, en mag nie verbreek word deur ‘n egskeiding nie, buiten in baie spesiale gevalle. Die hedendaagse tendens van “reeksmonogamie”, waar mense aanhou trou en skei, is volgens Bybelse standaarde onaanvaarbaar. Ek lees eenmaal in Beeld van ‘n man wat al elf keer getroud en geskei is! Hoeveel keer was Liz Taylor nou weer getroud en geskei?
Poligamie, waar ‘n man meer as een vrou mag hê, was wel ‘n Ou Testamentiese gebruik, maar nêrens in die Nuwe Testament word dit geregverdig nie. Die huwelike van ons oud-staatspresident is dus beslis nie op Christelike beginsels gegrond nie, so ook nie die poligame huwelike van die Mormone nie!
Die hele debat oor saamblyery word in hierdie hoofstuk baie reguit beantwoord: daar is absoluut geen gronde om saambly te regverdig nie, en dit is dus ‘n sondige verhouding. Gedurende ‘n Daniël konferensie wat in ons gemeente gehou is 'n paar jaar gelede, het een van die jong manne tot die besef gekom dat sy saambly-verhouding nie volgens God se wil is nie, en net dáár neem hy die besluit en vra die leraar om hom en sy meisie te trou. Is jy dalk in so ‘n verhouding? Dit is nie te laat om dit reg te stel nie. Doen die regte ding!
Buite-egtelike verhoudings, van watter aard ookal, is verkeerd. Breek daarmee!
Paulus sluit af met sy eie opinie, dat dit beter is om nie te trou nie, want dan kan jy jou beter aan Jesus toewy. Dit is egter slegs sy opinie! My eie opinie is dat die huwelik jou verhouding met Jesus aanvul. In ons huwelik werk dit! Hiermee wil ek vir my eie Mosbolletjie dankie sê dat sy my huweliksmaat is vir 45 jaar al, en dat sy my so wonderlik aanvul.
Gebed:
Here, dankie vir my huweliksmaat. Hou my asseblief getrou aan haar vir altyd.