1 Timoteus 1:12-17
Wat maak ek as ek die een of ander opdrag kry? Ek praat nou van ‘n opdrag op die geestelike terrein. Meeste mense se eerste reaksie is om ‘n vinnige terugblik op jou lewe te gee en dan te besluit dat jou geskiedenis van die uitvoer van Goddelike opdragte gladnie so rooskleurig is nie. Jy sal dit maar liewer nie waag om weer te probeer om só ‘n opdrag uit te voer nie!
Ek het 24 jaar gelede só ‘n opdrag gekry om dagstukkies te skryf. My eerste reaksie was dat ek dit nóóit sou regkry nie want dáái was darem ‘n baie moeilike opdrag! Ek wou sommer soos Jona van ouds weghardloop! Dit het baie trane gekos voordat ek uiteindelik die moed kon bymekaarskraap om te begin skryf!
Paulus het ook eenmaal ’n opdrag gekry, om Christene uit te roei en om die “Christensekte” totaal van die gesig van die aarde af te vee. Hulle was ’n gevaar vir die Joodse geloof. Sy opdrag om uit te roei het gekom van die kerkleiers van daardie tyd. Op pad na Damaskus kry hy egter ’n splinternuwe opdrag, dié slag nie van die kerkleiers nie maar van Jesus persoonlik, direk téén die opdrag van die kerkleiers!
Paulus het tyd gehad om te dink oor die opdrag asook die gevolge. Sou hy dit aanvaar, dan sou dit beteken dat hy alles waarvoor hy in sy lewe gewerk het sou moes prysgee. Inderdaad was hy ’n gesiene man in die kringe van die Fariseërs want hy het sy werk met groot passie gedoen. Onder die Skrifgeleerdes het hy ’n groot naam gehad want sy kennis van die Skrifte was fenominaal en niemand kon hom vasvra nie!
Wanneer Paulus egter die opdrag kry om die Evangelie van Jesus te gaan verkondig, aanvaar hy dit met hart en siel, ten spyte van sy twyfelagtige verlede. Maklik was dit beslis nie! Inteendeel, dit was uiters moeilik! Al sy ou vriende het hom summier verwerp en afgeskryf as nóg een wat gesneuwel het onder die invloed van die Christene. Aan die ander kant het die Christengelowiges maar alte goed onthou hoedat hy hulle slegs ’n kort rukkie tevore wreed vervolg het. Toe hulle geliefde diaken, Stefanus vermoor was deur ’n klomp woedende Jode, was Paulus by en hy het sy goedkeuring uitgespreek. Talle gelowiges het opgesluit gesit in smerige tronke te danke aan die einste Paulus se toedoen. En nou wou hy vir hulle kom staan en preek? Dit móés net eenvoudig ‘n slinkse set van die Fariseërs gewees het.......
Paulus se verlede het soos ‘n swaard oor sy kop gehang, maar hy het op die Here vertrou. En die getroue Vader se genade was oorgenoeg vir Paulus! Ja, dit het etlike jare geneem voordat Paulus uiteindelik ten volle aanvaar was, maar omdat hy krampagtig bly vasgeklou het aan die hoop wat God hom gebied het, het sy deursettingsvermoë uiteindelik vrugte afgewerp.
Die asemrowende kennis wat hy opgedoen het van die Skrifte en die Wet, was vir Paulus van onskatbare waarde en al daardie kennis het hy nou ingespan om die Evangelie te verkondig. Paulus het ‘n antwoord gehad vir elke argument, juis omdat hy die Joodse argumente so op die punte van sy vingers geken het. As Fariseër was dit immers dag-vir-dag in hom ingedril!
Maar hoe het Paulus dit alles reggekry? Vir hom was daar slegs één Dryfkrag wat hom deur alles gedra het, krag gegee en getroos het wanneer hy moedeloos was: Jesus. “Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” So jubel Paulus dit uit tot lof van die Een wat hom nie alleen die opdrag gegee het nie, maar hom ook deur die uitvoering van die opdrag gedra het, ten spyte van sy verlede.
Vandag moet ek en jy onsself die vraag afvra: “Hoe staan dit met die opdrag wat die Here my gegee het?” My heel eerste gedagte toe ek die opdrag gekry het om dagstukkies te skryf, was om myself uit daardie situasie te probeer uitwurm. Ek het selfs so ver gegaan om etlike predikante te nader vir hulp. Die Here het egter beter geweet, en hy het ál die deure toegemaak sodat ek baie onwillig uit nood maar sélf moes begin skryf. Vandag kan ek God net loof en prys dat Hy my deur meer as 4000 dagstukkies gedra het en elke dag getrou was om die boodskap vir my te gee, boodskappe wat al duisende harte regoor die wêreld aangeraak het. En dit ten spyte van my twyfelagtige verlede, onvermoë en onwilligheid! Natuurlik is ek nie perfek nie en ek skram nog steed dikwels weg van die Here se opdragte met allerhande verskonings!
En jy? Ek weet nie wat die Here se opdrag aan jou is nie, maar jy sal weet! Probeer jy dalk skuil agter ‘n slegte verlede om daaruit te kom? Dikwels gee daardie verlede jou júís die kennis om met mense in dieselfde omstandighede te kan gesels, soos byvoorbeeld dwelmverslawing. My pleidooi is dat jy vandag biddend voor die Here jouself sal beskikbaar stel vir daardie opdrag wat dalk al jare in jou binneste maal. Hy is getrou en Hy sal jou ál die wysheid en kennis gee wat nodig is om daardie opdrag uit te voer - ek praat uit ondervinding!
Gebed:
Here, ek stel myself vandag tot U beskikking om U opdrag uit te voer. Maak my asseblief gewillig en gee my die toerusting daarvoor!