Die Here is My Herder (3)

10 October, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Here is My Herder (3)

Psalm 23

Gister het ons gesien dat Psalm 23 ‘n belydenis is, eerstens van iemand vir wie die Here tye van rus en vrede gegee het. Maar ook van iemand wat ervaar dat God rigting en betekenis in sy lewe gee.

Maar dan is Psalm 23 derdens ook die belydenis van iemand wat ervaar dat daar wél donker dieptes, oftewel 'n dal van doodskaduwee is. Dikwels moet hy worstel met die pyn van nie-weet-nie, van onvervulde beloftes, van ondeursigtige raaisels.

Dis juis dán wat hy kan bely dat hy nie bang hoef te wees nie, want God is by hom en by God is hy veilig. Let wel: die belydenis verdryf nie noodwendig die donker nie. Dit beantwoord dikwels nie die vrae nie. Maar dit hou vas aan hoe God homself deur die eeue laat ken het, as die Betroubare, die Herder, die Een wat dinge laat meewerk ten goede. Selfs al beteken dit dat die donkerte nie noodwendig in lig verander nie.

Dawid verwoord hier iets van wat baie jare later in Hebreërs 11:39 geskryf word: “En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.” (Hier skryf hy oor al die groot geloofshelde van ouds.)

As herder was Dawid vertroud daarmee dat, as hy by die groen weivelde wou uitkom, dan moes hy eers die skape deur groot swaarkry dryf. Hulle moes van Betlehem af deur die skrikwekkende bergwoestyn trek na die groen weivelde van Jerigo. Hulle moes eers honger, dors en baie gevare deurmaak, selfs ook die “dal van doodskaduwee!” Maar die herder het die skape veilig deur alles gelei. Hy het hulle beskerm. En as ‘n lammetjie nie verder kon loop nie het hy hom gedra.

Inderdaad loop ons gelowiges se paadjie ook dikwels deur so ‘n bergwoestyn vol gevare en die dal van doodskaduwee. Maar wanneer dit gebeur, dan is daar ‘n paar dinge wat ons baie deeglik moet besef.

  • Daardie woestyn is dikwels nodig sodat ons by die groen weivelde kan uitkom.

  • Alles gebeur met ‘n doel! Ek het dit al menigmaal in my eie lewe ervaar.

  • So dikwels is dit juis die woestyn wat ons sterk maak vir die taak wat die Here vir ons het.

  • Soms is die woestyn nodig om ons terug te ruk uit ‘n dwase weg.

  • Dikwels is dit nodig om ons nader aan God te trek sodat Hy Sy liefde op ‘n meer betekenisvolle manier aan ons kom oordra.

Dikwels lei God se paaie wel uit die donkerte na die lig. En soms word ons heerlik verras wanneer dit voel soos ‘n "feesmaal in die aangesig van die teëstanders." Dit is die vierde aspek van die digter se belewenis met God. Dit is soos om as ‘n eregas aan te sit by die maaltyd wat God die Herder-koning voorberei het. Waar jy as uitverkore gas kan aansit terwyl ander jaloers moet toekyk.

Die hartlikheid waarmee God ons dikwels oorlaai, is ‘n besondere voorreg in die lewe saam met God. Vir iemand wat elke dag in oorvloed lewe, is ‘n feesmaal gewoonlik maar net nóg ‘n funksie. Maar vir iemand wat deur groot swaarkry gaan, is selfs ‘n doodgewone ete dikwels ‘n wonderlike feesgeleentheid. Swaarkry laat jou die kleinste ou dingetjie deeglik waardeer.

Dit is dan ook juis wanneer jy deur donker dieptes gegaan het, dat jy eers wáárlik God se genade, trou, liefde, voorsiening ten volle kan waardeer.

Wat is die ware doel, sin en betekenis van die lewe? Om God te geniet en in sy teenwoordigheid vir ewig te bly. Dit is op die ou end die ware rus en vrede! Dis dieper as die groenste en sappigste weivelde en meer verkwikkend as die soetste water. Om maar net by God te wees, diep-tevrede soos ‘n kindjie, knus teen die bors van sy Mamma.

Psalm 23 is dus ‘n feespsalm én ‘n troospsalm. Dit is ‘n Psalm vir die lewe én die dood. Dis vir ál die seisoene van die lewe. Wat is die één groot waarheid wat in hierdie wonderlike Psalm opgesluit lê? Dat ons héle lewe te alle tye absoluut veilig is in God se sterk hande.

Uit só ‘n waarheid kan dit nie anders nie dat daar sekere reaksies by my sal wees. In die eerste plek laat dit my onomwonde bely: ek sal nié bang wees nie, maak nie saak wát gebeur nie.

My tweede reaksie is dat ek tuis sal wees in die huis van die Here, met ander woorde tussen Sy mense, saam met ander medegelowiges.

God woon in ons en Hy werk in ons. Waarom sal ons bang wees? En waarom sal ons nie tuis voel tussen God se mense nie?

Gebed:

Here, hierdie wonderlike feespsalm laat my elke keer jubel van vreugde en opgewondenheid. U is immers my God, en by U is ek veilig en geborge.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026