Ons moet meer lees in Psalm 23 as net 'n prentjie van Dawid se grootword jare. Dit is eerder die versugting van iemand se diep gewortelde belewing van die Here. Jy beleef God eers waarlik só wanneer jy jou kwota van doodsgevare, ontberings en verlange na versorging beleef het.
In die eerste plek moet ons Psalm 23 lees as ‘n gebed. Dit is ‘n gebed waar jy die Here dank vir die wonderlike wyse waarop Hy voorsien het deur die jare.
Ons moet dit egter ook lees as die geloofsbelydenis van iemand vir wie die Here van sy jeug af alles was. ‘n Geloofsbelydenis van iemand wat ervaar het dat God in alle seisoene van die lewe Homself as Herder bewys het - deur droogte en swaarkry sowel as oorvloed en rus.
Wat behels die geloofsbelydenis?
Dit is eerstens die belydenis van iemand vir wie die Here tye van rus en vrede gegee het. Sulke tye waar hy ervaar: Ek kort niks nie, ek het rus en vrede en ek het krag vir my lewenspad.
Omdat Dawid sélf ‘n herder was, het hy maar ál te goed besef wat die lewe van ‘n herder behels en wat die herder se taak éintlik is.
Die héél belangrikste ding in ‘n herderseuntjie se lewe, is daardie troppie skape van hom. Sy groot taak is om toe te sien dat sy skape spekvet is en in ‘n goeie kondisie. Daarvoor moes hulle rustig en gelukkig wees en genoeg kos en water hê. Onrustige skape beteken ongesonde en maer skape.
In die lowergroen oorvloed van die Jordaanvallei was daar oorgenoeg kos en water. Daar kon g’n skaap ooit sê dat hy iets kortkom nie.
Die wonder van ‘n lewe saam met God, is dat daar altyd ‘n dubbele waarde is in enige goeie en vervullende ervaring. Ons ervaar dit nie net as ‘n geluk nie, maar ook as ‘n geskenk, as iets wat God gegee het. Iets wat jou nie per toeval getref het nie, maar met opset, omdat God jou liefhet.
Dit is dáárom dat Dawid hier skryf dat die Here sy Herder is, sy Koning wat hom raaksien en vir hom goeie dinge uitdeel. Dit laat hom spesiaal voel en dit gee hom rus en vrede. Dit vul hom met nuwe krag.
'n Skaapwagtertjie leer elkeen van sy skape persoonlik ken. Hy gee vir hulle name en hy ken elkeen se giere en nukke. En hy is lief vir elkeen. Hy gee om vir hulle, en hy sal hulle met sy lewe beskerm. Inderdaad is dit presies wat Dawid gedoen het. In 1 Samuel 17 vertel Dawid vir Koning Saul hoe hy ‘n lammetjie uit ‘n beer se bek gered het en selfs ‘n leeu doodgeslaan het, toe dié sy skape bedreig het. Sy skape is vir hom kosbaar! En hy het hulle met sy lewe beskerm.
Nou bely Dawid: “Die Here is MY herder!”
Hy heg dieselfde waarde aan die Here se herderskap as wat hy in sy eie herderskap sien. Dit is ‘n persoonlike ding! Die Here is nie maar daar ver weg nie. Hy is persoonlik betrokke by Dawid. Hy is lief vir Dawid en Hy ken hom intiem-persoonlik. Hy sal vir Dawid dra deur alles, en vir hom gee wat hy nodig het, sodat hy niks kortkom nie. Die Here is immers sy Herder!
Soos wat ‘n goeie herder doen, bring die Here ook vir Dawid by daardie wonderlike groen weivelde met die oorvloed water. Dawid het dit veral later in sy lewe ervaar, toe hy alles gehad het wat ‘n mens ooit kon begeer - selfs rus en vrede.
Vanoggend kan ek en jy nie anders as om te bely dat ons dieselfde daaroor kan voel as Dawid.
Dalk gaan dit nie met ons almal finansieel so goed nie, dalk jou gesondheid wat pla. Maar elkeen van ons moet bely dat die Here ons persoonlik ken, dat Hy vir ons die grootste geskenk denkbaar gegee het - die ewige lewe. Daarmee saam kom rus en vrede. Wat meer het ons nodig?
Psalm 23 is tweedens ook die belydenis van iemand wat ervaar dat God rigting en betekenis in sy lewe gee.
Wanneer ons na Dawid se lewe kyk, sien ons in watter mate die Here vir hom rigting gegee het. Inderdaad het Dawid ‘n paar baie dwase dinge gedoen, waar hy die Here se rigting-gewing verontagsaam het. Maar waar hy die rigtingwysers wat die Here hom gegee het, gevolg het het Dawid uitgestyg bo almal. Hy het dan ook uiteindelik die titel verwerf as die grootste koning óóit in die geskiedenis van Israel.
Die rigting wat die Here vir ons wys om te loop, is die pad van gehoorsaamheid aan Hom.
Gebed:
Here, vanoggend wil ek saam met Dawid bely dat U my rus en vrede gegee het. Daarvoor is ek U ewig dankbaar. Ek bely ook dat U my weer betekenis en rigting in my lewe gegee het. U is groot en genadig, Here!