Die Here is My Herder (1)

8 October, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Here is My Herder (1)

Psalm 23

Ek het nog altyd 'n prentjie in my kop gehad van Dawid: die jong rooikop skaapwagtertjie met sy slingervel en lier wat in golwende groen heuwels sy troppie skape oppas. Dit is die prentjie wat Kinderbybels ons gewoonlik gee.

Dit is egter waarskynlik baie ver van die waarheid af. Dawid het grootgeword in die omgewing van Betlehem, net so ‘n entjie suid van Jerusalem in die dorre bergwoestyn van Juda. In hierdie harde wêreld is sy pragtige lied, Psalm 23 gebore. En dalk het hy dit nog vir Koning Saul gespeel om hom te kalmeer tydens een van sy woedebuie.

Van Betlehem af reis jy deur hierdie dorre en gevaarlike bergwêreld wat kronkel deur klowe en kliprante, af tot onder by Jerigo, die laagste dorp op aarde, in die lowergroen, vrugbare Jordaanvallei.

Hierdie is ‘n woestyn soos ons in Suidelike-Afrika gladnie ken nie. Dis ‘n bergwoestyn. Ongelooflike hoë bergwande troon bo dramatiese diep klowe. Onder in die klowe is dit skemer. Grotte en holtes in die bergwande maak die omgewing ‘n ideale skuilplek vir rowers én roofdiere. Geen wonder dat Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan ook in hierdie omgewing laat afspeel nie.

Ek onthou nog baie goed, die donker klowe op die plaas waar ek grootgeword het by Waterval Boven. Ek het daar nooit lank vertoef nie, want ek het bang geword! Daar was iets wat jou hart omklem het. Een middag het ek ‘n bietjie te laat onder by die rivier gespeel, en toe ek begin huiswaarts keer, is dit alreeds skemerdonker. En skielik staan daar ‘n baie groot kat my en aangluur. Ek het nie lank genoeg gebly om nog te tel hoeveel kolle hy het nie! Vandag wéét ek egter dat dit ‘n luiperd was! Sulke soort gevare het ook in Betlehem se klowe weggekruip.

In hierdie omgewing moes Dawid skape oppas. Hy moes van kleins af die gevare leer ken en die skape daarteen beskerm. Hy ken die donker dieptes waar die gevaar so groot is dat jy dit ‘n "dal van doodskaduwee" kan noem. Teen hierdie agtergrond bely hy God se sorg in vers 4:

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” Die 1953 vertaling praat van ‘n dal van doodskaduwee.

As jy van Bethlehem af na Jerigo ry, kan jy nie ver sien tussen al die klowe en bergwande nie, veral as jy sou afwyk van die moderne hoofpad oor Jerusalem. Dit is ‘n kronkelpaadjie wat oor berge en deur diep klowe vleg, en waar ‘n ou watertjie maar bitter skaars is. Net so was dit ook vir die skaapwagter op soek na water en weiding vir sy trop.

In Dawid se tyd was dit natuurlik nog veel erger, want daar was nie paaie soos vandag nie, net klein voetpaadjies. Die pad kronkel en slinger berg-af. Maar op ‘n punt, wanneer jy om die laaste draai kom, lê Jerigo en die vrugbare Jordaanvallei lowergroen oop voor jou. Dáár is groen weivelde! Daar kan die wagter ontspan oor sy skape. Daar is kos, oopte, veiligheid vir sy diere.

Wanneer Dawid dan hierdie Psalm skryf, dink hy aan die lang, vermoeiende trek met sy trop skape deur die onherbergsame, droë, dor en gevaarlike berglandskap met sy "dal van doodskaduwee" tot daar onder in die Jordaanvallei. En wanneer hy dan daar aankom, kry hy hierdie lowergroen grasvelde waar water en voedsame weiding in oorvloed is. “Hy laat my rus in groen weivelde,” skryf Dawid.Hy bring my by waters waar daar vrede is. (1-2) “

Tydens sy trek deur die berge, was daar byna niks vir sy skape om te vreet nie, buiten hier en daar ‘n smaaklose bossie. Eweneens was daar vir die arme skaapwagtertjie óók groot droogte. Smaaklike padkos kon maar net só lank hou. Dan was dit verder maar net droë brood en dít wat die dor veld hom ookal kon lewer - sprinkane en knolle. Dit is by sulke geleenthede dat ‘n man maar net kon sit en droom saans by jou vuurtjie van ‘n heerlike watertand maaltyd waar alles in oorvloed voor jou neergesit word. Sappige, vars vrugte, stroopsoet trosse druiwe, stomende, vars brood, heerlike kraakvars groente, waarlik ‘n feesmaal! En as jy boonop nog die eregas by hierdie maaltyd is. Ai tog!

Maar dan wéét hy: onder in die Jordaanvallei wág die groen, sappige velde in oorvloed, en daar kán sy skape spekvet word. Maar óók vir die skaapwagtertjie is hierdie ‘n paradys, want hier wag ‘n feesmaal van veldvrugte en ander kos op hom. In sulke omstandighede van oorvloed kan Dawid homself waarlik as God se eregas sien. Inderdaad sien hy hierin ook die heerlikheid van God se liefde en sorg uitgespel. By hierdie feesmaal kan al sy vyande en teëstanders maar net jaloers toekyk.

God word hier as die gasheer uitgebeeld. More besin ons DV verder oor hierdie pragtige Psalm.

Gebed:

Here, baie dankie dat U my Herder is, en dat ek kan weet dat U te alle tye met my is, selfs in daardie Dal van Doodskaduwee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026