Habakuk 2:9-20
Alles lyk so bitter onregverdig! Die goddelose baljaar in die skatte wat hy vir hom bymekaar gemaak het deur op ander te trap. Sy rykdom kom deur korrupsie en deur niks vir enige ander mens te gun nie. Wéét dan vandag: Ellende wag op hom! Só het die Here vir Habakuk gesê, en só sê Hy vandag steeds vir ons.
Ek het al so dikwels die sug gehoor van gelowiges wat kla oor die onregverdigheid daarvan dat die goddelose skynbaar alles in die lewe kry. Dit is húlle wat in die groot paleise woon en dit is húlle wat op luukse vakansies kan gaan. Dit is húlle wat die luukse motors kan bekostig, en dit lyk asof daar absoluut níks kortkom in hulle lewens nie. Dit lyk vir ons só onregverdig! Veral as daardie mense hulle rykdom op ‘n oneerlike manier bekom het. Kyk maar byvoorbeeld net in watter luuksheid die dwelmbase leef. Hulle is onaantasbaar en hulle rykdom ken geen einde nie. En dit terwyl duisende lewens in die proses verwoes is, lewens van onskuldige kinders wat in hulle kloue beland het.
Elke dag sien ons op TV en in die koerante van korrupsie wat asemrowende rykdom vir iemand gebring het, maar in die proses het duisende mense groot skade gely. Daagliks sien ons hoedat iemand wat in die politiek betrokke is, sy mag misbruik om groot skatte bymekaar te maak ten koste van ander. En omdat hulle die beste regslui kan bekostig, of omdat getuies vir hulle lewens vrees, kom hulle dikwels skotvry daarvan af. Dit voel net eenvoudig nie regverdig nie!
“Ellende!” skreeu Habakuk. “Ellende!” Maar hy sê dit nie uit moedeloosheid nie. “Ellende is wat wag op hom wat hom ten koste van ander wou verryk.” (Hab 2:9). Daardeur het hy nie alleen ‘n ramp gebring oor homself nie, maar ook oor sy familie. Habakuk sê dat daardie man gesien het dat daar ‘n ramp op pad was, en toe bou hy vir hom ‘n hoë nes om dit vry te spring. Maar alles vergeefs! Selfs die klippe en die balke in sy vesting, wat hy natuurlik gebou het met die bloedsweet van ander mense - sy slagoffers, het teen hom getuig. Dit het uitgeskreeu dat hy skuldig is. Ja, ellende wag op hom!
Ons het die afgelope paar jaar ‘n paar opspraakwekkende hofsake gehad van mense wat hierdie soort lewe geleef het. Soms het dit vir ons gevoel asof reg nie waarlik geskied het nie, en dat die straf wat hierdie boewe opgelê is nie eers naastenby betaal vir die onreg wat hulle ander mense aangedoen het nie. Maar sy straf sal hy uiteindelik kry! Onthou jy nog die misdadiger, Dirk Prinsloo? Tydens sy hofsaak het hy die land uitgeglip en vanuit Rusland vir die regering sit en lag. Sy lot was uiteindelik baie erger, toe hy in Bello Rusland in die tronk beland - ‘n tronk wat berug is vir sy gruwelike mishandeling van gevangenes.
“Ellende!” skreeu Habakuk verder. “Ellende!” Iemand “wat ‘n stad bou met moord en wat ‘n dorp aanlê met onreg” (v 12) sal uiteindelik tóg sy rieme styfloop. “Hoe kom mense weg met al die gruwels wat hulle aanvang?” wil ons dikwels vra. Vir ons lyk hulle dikwels onaantasbaar agter die ontoeganklike skanse wat hulle vir hulleself bou. Maar Habakuk sê dat so ‘n persoon nie rekening hou met die feit dat hy met die Almagtige God te doene het nie. “Soos die waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.” Só sê Habakuk. By ons as mense en by die gereg sal hulle dalk nog verby kom, maar by die Here sal hulle nóóit verby kan kom nie, want oral waar hulle kyk, is die Here! Uiteindelik sal hulle ook hulle verdiende straf kry, en sal geregtigheid geskied! “Ellende wag op hulle,” sê Habakuk. Waarom sal ons dan bang wees, en waarom sal ons moedeloos raak?
‘n Derde keer sê Habakuk “Ellende wag op hom.” Magsmisbruik kan dalk net ‘n dodelike boemerang word. Iemand wat sy mag misbruik om diegene in sy mag van hulle waardigheid te stroop - om hulle naak voor die wêreld te laat staan, kan dalk in presies dieselfde bootjie beland. Sy grootheid en aanskoulikheid gaan eendag teen hom draai, en dan sal hy sélf daar staan, al sy skande ontbloot! Magsmisbruik boemerang! Wees gewaarsku!
Maar waaroor gaan dit alles? Wat is die grondoorsaak van al hierdie magsmisbruik? En wat veroorsaak uiteindelik hulle ondergang? Afgode! Om op enige ander ding te vertrou, en nie al jou vertroue in God te plaas nie, dien jy afgode. Na die ellende-uitsprake kom Habakuk tot die slotsom dat dit nie die gelowige (regverdige) is wat sinloos ly nie, maar juis die goddelose wat sinloos lééf. Dalk geniet hy nou sy voorspoed. Sy einde is egter onafwendbaar. In teenstelling wag daar op die gelowige ‘n ewige lewe van glorie en blydskap. Dit is dan ook nét gepas dat Habakuk afsluit met hierdie lofbetuiging: “Die Here is in Sy heilige tempel: almal op aarde moet in Sy teenwoordigheid stil wees!” (v 20).
Gebed:
Here, ek loof en prys U grote Naam. Dankie dat ek die reg in U bekwame hande kan laat.