Die Heilige Gees is God!

8 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Heilige Gees is God!

Johannes 1:29-34

Kyk die Video

Uit Händel se asemrowende Paaskantata, “Die Messias,” weerklink vanoggend die aangrypende lied: “Behold: The Lamb of God!” Dáár is die Lam van God!

Johannes moes ‘n vermoede gehad het wie Jesus waarlik was, want as ons die gedeelte oor Jesus se doop lees in Matteus 3:13-17, sien ons hoe Johannes terugdeins wanneer Jesus hom versoek om Hom te doop. Hy het homself nie waardig geag om Jesus te doop nie. Maar die bevestiging op sy vermoede het eers gekom direk ná die doop, toe die groot wonder gebeur wat Johannes in sy diepste wese geruk het. Die wonder van die hemel wat voor sy oë oopgegaan het, en die Heilige Gees wat neergedaal het op Jesus in die vorm van ‘n duif. En toe daardie stem uit die hemel, die stem wat alleen aan God kon behoort: “Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.

Baie mense is onder die indruk dat die Heilige Gees slegs in die Nuwe Testamentiese konteks gemeld word. Dit is egter nie waar nie. In die eerste verse van Genesis (Gen 1:2) sien ons al dat die “Gees van God” betrokke was by die skepping. Ons sien ook telkemale dat die Heilige Gees op belangrike persone met ‘n spesifieke taak gekom het, soos konings, profete en rigters. In 1 Samuel 10:10 lees ons só van Saul: “Die Gees van God het kragtig in hom gewerk”. Daar is dikwels gemeld dat so ‘n persoon deur die Gees gesalf is. Die Heilige Gees het sulke mense dan besonderse krag gegee om hulle take af te handel. Baie goeie voorbeelde hiervan is Gideon, Simson en Dawid.

Wanneer die Heilige Gees dus op Jesus kom, kry Hy ‘n spesiale taak wat Hy moet gaan uitvoer, en hiervoor gee die Gees Hom ‘n besonderse krag. Sy openbare optrede, oftewel bediening begin van dié dag af, en mense staan verstom oor die dinge wat deur Hom gebeur.

Drie jaar later gebeur die grootste wonderwerk egter, toe Jesus die Heilige Gees “aangee” aan alle gelowiges. Skielik is die Heilige Gees se asemrowende krag nie meer beperk tot slegs uitgesoekte, spesiale mense nie, maar die Heilige Gees stel dit tot beskikking van elkeen wat deel is van die gesin van Jesus.

Maar wat sê die Bybel oor die Heilige Gees?

Die bewering wat die Jehovah’s Getuies maak, is dat die Heilige Gees nie God is nie, maar wel 'n "krag van God" of die krag wat van God uitstraal. Kom ons kyk 'n bietjie wat die Bybel hieroor getuig:

In Handelinge 5:3-4 sê Petrus vir Ananias: “hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg? ….. Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God!” Hieruit lei ons baie duidelik twee dinge af. Eerstens dat die Heilige Gees ‘n Persoon is. Tweedens, dat Hy nie maar sommer enige persoon is nie, Hy is God!

In Matteus 28:18,19 gee Jesus die sendingopdrag:. “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, ….” Let wel dat hier gepraat word van die “Naam” en nie “Name” nie, dus slegs een God. Maar ook dat die Heilige Gees ‘n Naam het en dus ‘n Persoon is.

In Johannes 14:26 sê Jesus, “en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Hier word weereens duidelik van 'n lewende Persoon gepraat, en beslis nie van 'n krag of kragveld nie.

Soortgelyk lees ons in Johannes 14:16,17 waar Jesus Sy dissipels bemoedig met die woorde: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” Die woorde “Voorspraak”, “Hy”  en “Hom” wat hier voorkom spreek onteenseglik van ‘n Persoon.

Presies dieselfde geld vir Johannes 16:7. “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

Uit die aanhalings wat ons hier genoem het, kan ons slegs een afleiding maak. Ons kan nie anders nie as om te sê dat die Heilige Gees God is! Saam met die Vader en Jesus, die Seun is die Heilige Gees die enigste ware, almagtige God! Hy is baie beslis nie alleen maar ‘n “krag van God” soos die Jehovah’s Getuies wil beweer nie!

Gebed:

Heilige Gees, dankie dat ek vanoggend kan weet dat U in my woon. Al verstaan ek dit gladnie, wéét ek dit uit U Woord. Dankie ook dat U my krag en wysheid gee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026