1 Korintiërs 13:1-7
Engeletale, galmsimbale,
het ek nie liefde dan maak ek geraas.
Waar is my vriend'likheid, waar my geduld?
Daarsonder is ek by liefde in skuld!
Grootpraat en afguns en daarby verwaandheid,
eie belang soek, o die lig-liggeraaktheid!
Boekhou van kwade en bly oor die onreg.
Met dit in my lewe is die liefde net skoon weg!
Maar liefde.
Dit jubel en dit lag as die waarheid seëvier.
Is verdraagsaam, onverganklik, groter as alles hier.
Profesieë sal vergaan, tale ophou bestaan,
Maar liefde dié sal vir ewig bestaan.
Liefde sal nooit as te nimmer vergaan.
Het ek die gawe om mooi te kan preek,
Het ek geloof om selfs berge te breek.
Gee ek my liggaam prys om te kan roem,
Sonder die liefde is alles gedoem.
Tale sal ophou, ook kennis en klanke.
Al wat sal oorbly is die hoop onverganklik.
Nou bly nog hoop en geloof en ook liefde.
Maar die grootste van alles is die kosbare liefde.
Ja, liefde.
Dit jubel en dit lag as die waarheid seëvier.
Is verdraagsaam, onverganklik, groter as alles hier.
Profesieë sal vergaan, tale ophou bestaan,
Maar liefde dié sal vir ewig bestaan.
Liefde sal nooit as te nimmer vergaan.
Liefde sal nooit as te nimmer vergaan.
Luister gerus hoe hierdie liedjie klink, by chl.co.za/engeletale
1 Korintiërs 13 is, naas Psalm 23 seker een van die mees gelese gedeeltes in die Bybel. Nogtans is dit seker die deel waarop ons die minste ag slaan. O, die gedagtes is so mooi, maar wanneer dit by die praktiese uitleef daarvan kom, dan skiet dit dikwels baie ver tekort by die meeste van ons gelowiges.
Paulus beskryf die gawe van liefde as die allerbeste gawe. Dit is só maklik om met enige van die geestesgawes ‘n groot kop te kry, en dalk jou eie beuel te wil blaas. “Ek het die gawe van genesing gekry, en nou is ek ‘n vlak hoër as my medegelowiges.” So spog ons soms! Ons het egter uit die vorige paar dagstukkies gesien dat hierdie gawes nie vir ons gegee is tot ons eie verryking nie, maar om ons medemens op te bou. Verder in nederigheid en volle afhanklikheid van die Gewer van ál die gawes.
Alles kom uiteindelik op liefde neer, want deur ons gawes uit te leef, betoon ons liefde aan ons medemens. Liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n werkwoord! Liefde maak boonop nie onderskeid tussen mense nie, maar dieselfde liefde wat jy uitleef teenoor iemand ná aan jou hart, moet jy ook kan uitleef teenoor iemand wat vir jou afstootlik is. Dis beslis nie maklik nie!
1 Korintiërs 13 is ‘n wonderlike gedig van Paulus om liefde te illustreer. Dit is opgedeel in drie dele: In die eerste vertel hy hoe noodsaaklik liefde is. In die tweede maak hy dit duidelik wat liefde is en wat dit NIE is nie, en in die derde deel besing hy die onverganklikheid van liefde.
In vers 1 tot 3 wil Paulus dit baie duidelik stel dat die mooiste gawes wat ons uitleef, absoluut nutteloos is sonder die regte gesindheid! Dit maak nie saak hoe edel my gawe is nie - dit kan een wees van genesing of tale of profesie. Dit kan selfs beteken dat ek my lewe waag vir ander of dat ek al my besittings weggee om armes te help. As hierdie dinge egter énigsins beteken dat ek hieruit roem vir myself wil kry, dan is dit betekenisloos! As dit sonder die nodige liefde bedryf word, dan het ek net ‘n stuk blik geword wat geraas maak!
Ons staan soms in verwondering oor iemand wat kan preek dat jou tone omkrul van pure lekkerkry. Hy het die mooiste woorde en gedagtes wat jou inspireer tot groot hoogtes in jou geestelike lewe. Hy sê dinge wat jou laat snak na jou asem uit pure verwondering. As hy egter liefdeloos optree of nie die liefde waarvan hy so mooi preek prakties uitleef nie, dan het hy daardie spreekwoordelike galmende simbaal geword wat maar net geraas maak!
Dieselfde geld vir iemand met die wonderlikste geloof wat letterlik berge kan versit. Mense stroom na hom toe vir genesing, want onder sy hande verdwyn die siektes soos mis voor die son. Maar as liefde in sy lewe kortkom, help al hierdie mooi gawes net mooi niks!
Wat is die eienskappe van liefde? Geduld en vriendelikheid, selfs as jou geduld tot die uiterste beproef word en iemand jou treiter. Soms voel dit vir jou asof die laste van die lewe jou in die aarde indruk. Dan moet jy steeds vriendelik wees. En as daardie têksie jou siel versondig, moet jy steeds geduldig kan bly. Dit vat harde werk en baie deursettingsvermoë om in sulke omstandighede steeds kalm te kan bly en Jesus se liefde uit te straal.
Vir afguns en eie belang is daar géén plek nie! Verwaandheid, afguns en grootpraterigheid, is dinge wat vér verwyder is van ware liefde. Totale vergifnis - vergewe én vergeet - is een van die kenmerke van liefde in jou lewe, en só ook verdraagsaamheid.
As gelowiges behoort ons baie gereeld 1 Kor 13 te lees, en ons lewe hierin te spieël, want ons vergeet só maklik. Leef ek werklik nog liefde uit soos wat die Here dit van my verwag? Het ek werklik die allerbeste gawe wat die Here my gegee het bemeester?
Gebed:
Here, ek moet vanoggend my kop in skaamte laat sak, want my lewe skiet so bitter ver tekort wat die uitleef van my liefde betref. Help my asseblief om weer waarlik lief te kan hê!