Die Héél Beste Gawe

23 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Héél Beste Gawe

1 Korintiërs 13:1-7

Video

Audio

Ek gee myself nie uit as ‘n liedjieskrywer nie, maar 1 Korintiërs 13 het my só aangegryp, dat ek dáároor net eenvoudig ‘n liedjie moes skryf:

Engeletale, galmsimbale,

het ek nie liefde dan maak ek geraas.

Waar is my vriend'likheid, waar my geduld?

Daarsonder is ek by liefde in skuld!

Grootpraat en afguns en daarby verwaandheid,

eie belang soek, o die lig-liggeraaktheid!

Boekhou van kwade en bly oor die onreg.

Met dit in my lewe is die liefde net skoon weg!

Maar liefde......

Dit jubel en dit lag as die waarheid seëvier.

Is verdraagsaam, onverganklik, groter as alles hier.

Profesieë sal vergaan, tale ophou bestaan,

Maar liefde dié sal vir ewig bestaan.

Liefde sal nooit as te nimmer vergaan.

1 Korintiërs 13 is, naas Psalm 23 seker een van die mees gelese gedeeltes in die Bybel. Nogtans is dit seker dié deel waarop ons die minste ag op slaan. O, die gedagtes is alles só mooi, maar wanneer dit by die praktiese uitleef daarvan kom, dan val meeste van ons gelowiges totaal uit die bus uit!

Paulus beskryf liefde as ’n gawe, en hy beklemtoon dit dat liefde die allerbeste is van ál die gawes wat die Heilige Gees ons gegee het. Dit is so maklik om met enige van die geestesgawes ‘n groot kop te kry, en dalk my eie beuel te wil blaas en te spog: “Ek het die gawe van genesing/tale/profesie gekry! Ekke is mos darem nou ‘n trappie hoër as my medegelowiges!” Dan kyk ek neer op daardie arme ouens wat nog nie heeltemal “gearriveer” het nie, want hulle het nie verhewe gawes nie. Dis liefdeloosheid!

As ons die vorige hoofstuk van hierdie Korintiërs brief lees, sien ons baie duidelik dat hierdie gawes nie vir ons gegee is tot ons eie verryking nie, maar om ons medemens op te bou. Met ander woorde, ons moet dit gebruik as deel van ons liefdes-taak om ander mense te dien! Kyk maar net wat Jesus gedoen het! Sy hele lewe was gewy aan diens, diens en nogmaals diens! Maar daar is ook ‘n ander sy van die saak, ons moet ons gawes gebruik in nederigheid en in volle afhanklikheid van die Heilige Gees, die Gewer van ál die gawes. Ons moet dus te alle tye onthou dat dit nie óns goedheid is nie, maar dat ons onsself slegs diensbaar stel sodat die Heilige Gees deur ons kan werk.

Alles kom uiteindelik op liefde neer, want deur jou gawes uit te leef, betoon jy liefde aan jou medemens deur hulle te dien met die gawes wat die Here jou gegee het. Liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n werkwoord! Liefde maak boonop nie onderskeid tussen mense nie, maar dieselfde liefde wat jy uitleef teenoor iemand ná aan jou hart, moet jy ook kan uitleef teenoor iemand wat vir jou afstootlik is. Dit is nie maklik nie!

1 Korintiërs 13 is ‘n wonderlike gedig wat Paulus geskryf het om te illustreer hoe belangrik dit vir ‘n gelowige is dat liefde ‘n integrale deel van jou lewe vorm. Die gedig is opgedeel in drie dele: In die eerste vertel hy hoe noodsaaklik liefde is. In die tweede maak hy dit duidelik wat liefde is en wat dit NIE is nie. Hy sluit die gedig af in die derde deel deur die onverganklikheid van liefde te besing.

In vers 1 tot 3 wil Paulus dit baie duidelik stel dat die mooiste gawes wat ons uitleef, absoluut nutteloos is as dit nie met die regte gesindheid uitgeleef word nie. Dit maak nie saak hoe edel my gawe is nie - dit kan een wees van genesing of tale of profesie. Dit kan selfs beteken dat ek my lewe waag vir ander of dat ek al my besittings weggee om armes te help. As hierdie dinge egter enigsins beteken dat ek hieruit roem vir myself wil kry, dan is dit betekenisloos. As dit sonder die nodige liefde bedryf word, dan het ek net ‘n stuk blik geword wat geraas maak.

Ons staan soms in verwondering oor iemand wat kan preek dat jou tone omkrul van pure lekkerkry. Hy het die mooiste woorde en gedagtes wat jou inspireer tot groot hoogtes in jou geestelike lewe. Hy sê dinge wat jou laat snak na jou asem uit pure verwondering.

As daardie prediker egter liefdeloos optree of nie die liefde waarvan hy so mooi preek prakties uitleef nie, dan het hy daardie spreekwoordelike galmende simbaal geword wat maar net geraas maak.

Dieselfde geld vir iemand met die wonderlikste geloof wat letterlik berge kan versit. Mense stroom na hom vir genesing, want onder sy hande verdwyn die aller-afgryslikste siektes soos mis voor die son. Maar as liefde in sy lewe kortkom, help al hierdie mooi gawes net mooi niks.

Die afgelope jaar het die mooiste verhale uitgespeel tydens die swaarkry van die inperkings waar talle mense hulle werk verloor het. Talle mense het ingespring en in liefde begin help waar die nood op die ergste was. Sopkombuise het oral opgespring om die lang toue honger mae te voed. Mense het hulle harte en beursies oopgemaak. Alles baie mooi en reg, maar as dit nie suiwer uit liefde gebeur nie, dan beteken die mooiste werk absoluut niks!

More gesels ons DV verder oor hierdie uiters besielende gedig van Paulus.

Gebed:

Here, ek moet vanoggend my kop in skaamte laat sak, want my lewe skiet so bitter ver tekort wat die uitleef van my liefde betref. Help my asseblief om weer waarlik lief te kan hê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026