Die Héél Beste Gawe

15 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Héél Beste Gawe

1 Korintiërs 13:1-7

Kyk die Video

Engeletale, galmsimbale,

het ek nie liefde dan maak ek geraas.

Waar is my vriend'likheid, waar my geduld?

Daarsonder is ek by liefde in skuld!

Grootpraat en afguns en daarby verwaandheid,

eie belang soek, o die lig-liggeraaktheid!

Boekhou van kwade en bly oor die onreg.

Met dit in my lewe is die liefde net skoon weg!

Maar liefde.

Dit jubel en dit lag as die waarheid seëvier.

Is verdraagsaam, onverganklik, groter as alles hier.

Profesieë sal vergaan, tale ophou bestaan,

Maar liefde dié sal vir ewig bestaan.

Liefde sal nooit as te nimmer vergaan.

 

Het ek die gawe om mooi te kan preek,

Het ek geloof om selfs berge te breek.

Gee ek my liggaam prys om te kan roem,

Sonder die liefde is alles gedoem.

Tale sal ophou, ook kennis en klanke.

Al wat sal oorbly is die hoop onverganklik.

Nou bly nog hoop en geloof en ook liefde.

Maar die grootste van alles is die kosbare liefde.

Ja, liefde.

Dit jubel en dit lag as die waarheid seëvier.

Is verdraagsaam, onverganklik, groter as alles hier.

Profesieë sal vergaan, tale ophou bestaan,

Maar liefde dié sal vir ewig bestaan.

1 Kor 13 het my geïnspireer om die liedjie hier bo te skryf. Jy kan daarna luister by Engeletale.

1 Korintiërs 13 is seker een van die mees gelese gedeeltes in die Nuwe Testament. Nogtans is dit seker die deel waarop ons die minste agslaan. O ja, die gedagtes is pragtig, maar wanneer dit by die praktiese uitleef daarvan kom, dan skiet dit dikwels baie ver tekort by die meeste gelowiges.

Paulus beskryf die gawe van liefde as die allerbeste gawe. Dit is so maklik om met enige van die geestesgawes ‘n groot kop te kry, en dalk jou eie beuel te wil blaas. “Ek het die gawe van genesing gekry, en nou is ek ‘n vlak hoër as my medegelowiges!” of “ek praat in tale, ek het verder gevorder op die geloofspad as die arme ouens wat dit nie doen nie!” Ons het egter uit die vorige dagstukkies gesien dat hierdie gawes nie vir ons gegee is vir onsself nie, maar om in die eerste plek God te verheerlik, en dan terselfdertyd ook ons medegelowiges op te bou. En die uiters belangrike is dat dit alles moet gebeur in nederigheid en volle afhanklikheid van die Gewer van die gawes.

Alles kom uiteindelik op liefde neer, want deur jou gawes uit te leef, betoon jy liefde aan jou medemens. Liefde is nie net ‘n gevoel nie, maar dit is ook dade. Liefde maak ook nie onderskeid tussen mense nie, maar dieselfde liefde wat jy uitleef teenoor iemand ná aan jou hart, moet jy ook kan uitleef teenoor iemand wat vir jou afstootlik is. Dit is nie maklik nie!

1 Korintiërs 13 is ‘n wonderlike gedig wat Paulus geskryf het om liefde te illustreer. Dit is opgedeel in drie dele. In die eerste vertel hy hoe noodsaaklik liefde is. In die tweede maak hy dit duidelik wat liefde IS en wat dit NIE is nie, en in die derde deel besing hy die onverganklikheid van liefde.

In verse 1 tot 3 wil Paulus dit baie duidelik stel dat die mooiste gawes wat ons uitleef, absoluut nutteloos is as dit nie met die regte gesindheid uitgeleef word nie. Dit maak nie saak hoe edel my gawe is nie, of dit nou die gawe van genesing of tale is, of profesie, sonder die regte gesindheid beteken dit niks. Dit kan selfs wees dat ek my lewe waag vir ander of dat ek al my besittings weggee om armes te help. As hierdie dinge egter enigsins beteken dat ek hieruit roem vir myself wil kry, dan is dit totaal betekenisloos. En as dit sonder die nodige liefde bedryf word, dan het ek net ‘n stuk blik geword wat geraas maak.

Wat is die eienskappe van liefde? Geduld en vriendelikheid, selfs as jou geduld tot die uiterste beproef word en iemand jou treiter. Vir afguns is daar nie plek nie, en eie belang speel geen rol nie. Verwaandheid, afguns en grootpraterigheid, is dinge wat ver verwyder is van ware liefde. Totale vergifnis, wat beteken vergewe én vergeet, is een van die kenmerke van liefde in jou lewe, en so ook verdraagsaamheid.

Elke gelowige behoort baie gereeld 1 Kor 13 te lees, en sy lewe hierin te spieël, want jy vergeet tog so maklik. Leef ek werklik nog liefde uit soos wat die Here dit van my verwag? Het ek ooit die allerbeste gawe wat die Here my gegee het, bemeester?

Gebed:

Here, ek moet vanoggend my kop in skaamte laat sak, want my lewe skiet so ver tekort wat die uitleef van my liefde betref. Help my asseblief om waarlik lief te kan hê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026