Die Grysneushoring

11 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Grysneushoring

Lukas 20:45-47

VIDEO OUDIO

Jesus waarsku teen die arrogante Skrifgeleerdes wat hulleself hoogheilig hou. In my geestesoog sien ek daardie deftige, neus-in-die-lug manne en dan dink ek onwillekeurig aan Geelbekneushoringvoëls. Buiten vir spreeus is neushoringvoëls seker die mees prominente voëlspesies wat jy in die Kruger Wildtuin sal teëkom. Daar is ‘n hele paar soorte, eerstens die arrogante, bang-vir-niks Geelbekneushorings en dan is daar ook die parmantige Rooibekneushorings met hulle lipstiekbekke. In Zoeloeland se wildtuine is dit weer die skreeulelike Boskraaie met hulle gesanik wat enige regdenkende mens nagmerries gee! Klink op ‘n druppel water nes ‘n babatjie met koliek se gekerm!

Sit ek en Mosbolletjie mos eendag by Afsaal en brêkvis eet tydens ‘n dagbesoekie aan Oom Paul se Wille Krugertuin. Rondom ons sit die takke volgepak van neushoringvoëls wat ons sit en dophou soos aasvoëls. Ons bure laat per ongeluk ‘n paar krummels van hulle tafel afval, en skielik val ‘n kombers van Geelbekneushoringvoëls uit die lug. Dit wriemel en baklei en pik en sluk! Een van die ander bure is besig om spek en eiers te braai op ‘n gasbraai. Skielik gil buurvrou! Ek kyk om, net betyds om te sien hoedat een van die geelbekgevaartes met ‘n stuk spek wegvlieg wat hy van die warm braai af gesteel het. Buurvrou giggel histeries!

Sal daar nou nie een van hierdie arrogante ou Geelbekke reg oorkant my op die tafel kom plak nie! Hy skuif-skuif reg, totdat hy só sit dat hy my vierkant in die oë kyk. Ek maak asof ek hom nie sien nie, maar hy rek eintlik sy nek om my oë op hom te trek. Kort-kort loer hy na my geroosterde toebroodjie, en die begeerte drup van sy gevreet af. Ek maak hande bak oor die toebroodjie. Hy staar. Ek staar terug. Ek voel skuldig. Hy sien dit onmiddellik raak, en hy sit die ek’s-so-verskriklik-honger-gevreet op. Selfbejammering!

Ek was op die punt om my toebroodjie net so te oorhandig, toe ek skielik tot my sinne kom. Ek onthou hoedat dit hierdie einste ou Geelbekke is wat al die ander kleiner voëltjies so domineer. Ek het netnou nog gesien hoedat ‘n geelbek ‘n arme delikate Grysneushoring verwilder het toe dién stukkie brood ontdek het. Hy het daar eenkant gaan sit en soebat en smeek met sy soet fluitjiestemmetjie vir ‘n ou happie, maar Geelbek het sy vlymskerp geel sabel dreigend geswaai en die arme ou Grysetjie skoon landuit gejaag. Ek eet my toebroodjie alleen op sonder om vir Geelbek ‘n krummel te los. Vererg vlieg hy weg!

Laat die middag toe ek en Mosbolletjie op ons stoep ontspan in Marloth Park, kom sit ‘n Grysneushoring op ‘n takkie en sing sy ver-verlang liedjie: “Fie, fieefiee, fioee-fioee...” My hart verkrummer sommer en ek gooi ‘n paar broodkrummeltjies op die stoep. Skrikkerig kom sit hy en tel dankbaar die korreltjies een-vir-een op. Twee spreeus sien die gedekte tafel en bevlieg dit lawaaierig. Neushoring staan verskonend eenkant toe terwyl die spreeus die arme ou grysetjie se middagete gulsig afwurg!

Mooi voël, hierdie Grysneushoring! Moontlik nie so swierig soos sy geelbek neef nie, en hy het ook nie die angswekkende stem van die Zoeloeland-spul nie. Maar hy is delikaat en beeldskoon op sy eie manier. By sy donkergrys baadjie met room-wit veerpunte, dra hy ‘n spierwit hemp. ‘n Amper-swart gesig met spierwit wenkbroue, en dan hierdie lang swart snawel met roomkleur insetsels, gee hom die mooiste gelaatstrekke. En vroulief dra sowaar lipstiek! Sy spog met ‘n rooi snawelpunt! Delikate fyn strepies op sy onderkaak maak die prentjie volmaak. Maar dit is wanneer hy sy bek oopmaak dat jy sy tande sien! Sowaar ‘n formidabele ry van hulle. Dit gee mens sommer nuwe respek vir hierdie nederige lid van die voëlwêreld.

As jy luister na hierdie pragtige voël se weëmoedige lied: “Fie, fieefiee, fioee-fioee...”, dan voel jy eintlik jammer vir hom, diep in jou hart. Hy ly so swaar in die verdrukking. Dit is nie alleen die ander boelie-neushorings wat hom verjaag nie, maar Kwêvoëls knou hom af, Spreeus verskree hom, en selfs parmantige Tiptolletjies trap op sy tone. En dit terwyl hy al die regte toerusting het om sy man te kan staan - sy status as neushoring, sy bruikbare snawel..... en dan die feit dat hy “tande” het!

Neushorings is so eg-menslik. ‘n Mens kan jouself met hulle vereenselwig. Watter een van die Neushorings is jy? Is jy dalk die arrogante Geelbek wat op almal trap en dink hy is die enigste met bestaansreg? Of is jy die parmantige Rooibek wat soos ‘n Jack Russeltjie hier byt en daar knyp? Sommige van ons is presies nes die klaerige Boskraaie, wat kerm en weëklaag oor elke ou dingetjie. En dan is daar die ou Grysetjies wat gedweë sal terugstaan as die ander instorm. Die Grysneushoring is vir ons as gelowiges so ‘n mooi voorbeeld. Ja, ons het al die toerusting om uit te troon bo die ander, maar daar is ‘n baie groter saak wat belangrik is, naamlik die Koninkryk. Daarom moet ons bereid wees om nederig en die minste te wees, al is dit soms bitter moeilik. Om stil te bly en nie terug te baklei as ons te na gekom word nie - dit verg baie moed!

Gebed:

Here, leer my om die ander wang te draai, en om nederig te wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026