Die Groot Reën

30 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Groot Reën

Genesis 7:1-24

Noag bewonder sy handewerk. Dit was jare se arbeid, net hy en sy drie seuns. En nou staan die reuse skip, die Ark in die middel van die woestyn. Noag wonder nog steeds hoe al die baie water hier gaan kom.

En dan kom die nou-al-bekende stem van die Here weereens na Noag: “Die tyd het aangebreek Noag. Jy moet begin gereed maak vir die groot vloed.”

Here, ek verstaan nog nie mooi nie. Waar gaan al die water vandaan kom?”

Ek gaan die sluise van die hemel oopmaak Noag, vir veertig dae en veertig nagte aaneen. Jy en jou gesin moet nou in die skip intrek, en julle moet al die diere, soos Ek vir jou genoem het saam in die Ark neem. Jy moet onthou om genoeg kos vir al die diere in te laai. Niemand mag van die honger omkom nie. Oor sewe dae gaan dit begin reën, so jy moet beslis nie gras onder jou voete laat groei nie!”

Opgewonde hardloop die gryse ou Noag na sy vrou toe en vertel haar die nuus: “Jy moet oppak Vrou, ons gaan op ‘n bootreis!”

Vir die volgende week vergaap al die mense hulle aan die diere wat Noag en sy seuns die skip injaag. Meeste van hierdie diere het niemand in hierdie omgewing nog ooit gesien nie. Buiten vir die skape, beeste, kamele en bokke, is daar hase, muise en allerhande soorte wildsbokke, van piepklein blouduikertjies tot massiewe elande. Dan is daar die ou héél grotes, die langnek kameelperd en die oorgewig olifant, seekoei en renoster. Die mense spat uitmekaar wanneer die leeus en tiere hulle opwagting maak, so mak soos lammetjies.

Om elkeen sy nis in die ark te gee, is nie ‘n maklike taak nie. Die skaap wil nie saam met die luiperd nie en die olifant weier om met die muis ‘n kamer te deel.

Waarom jaag jy al die diere in jou skip in?” wil iemand nuuskierig weet.

Die groot reën is op pad!” is Noag se kortaf antwoord.

Reën? Watter reën?” Dit bulder soos dit lag, want in die wolklose hemel is daar nie eers die vaagste tekentjie van enige reën nie. En dan begin die gekoggel en gespot weer reg van vooraf. “Bon voyage Noag, geniet julle bootvaart!” spot hulle. “Jou God is nie so groot dat hy daardie skip kan laat dryf nie!”

Ja toe, lag maar, julle sal nog sien! Jy spot nie met God nie!” brom Noag deur sy ruie baard. “Sy beloftes staan vas!”

n Week later kom die reën. Nie sommer jou gewone ou donderstormpie nie. Dit voel letterlik of dit met emmers uit die hemel neerstort. Inderhaas jaag Noag nog die laaste paar diere die Ark in. En dan hys hy die swaar deur op om die opening aan die sy van die ark toe te maak. Dan kom die Here en Hy seël die deur Persoonlik agter Noag sodat daar nie ‘n druppel water kan inlek nie.

Buite skarrel die skare wat om die ark saamgedrom het om iewers te gaan skuiling soek totdat hierdie skielike reënbui bedaar het. Maar dit bedaar nie! Dit hou net aan en aan en aan. Bedremmeld en sopnat kom hulle later by hulle huise uit. “Dit lyk rêrag of ou Noag se voorspelling van groot reën waar was.” lag een kêrel. Maar ‘n paar dae later verander sy lag in ‘n vervloeking, en Noag word uitgeskel oor hy met sy voorspelling soveel ellende gebring het. Riviere woed voort en sleur alles mee in plekke waar daar nog nooit in menseheugenis ‘n stroompie gevloei het nie.

Een-vir-een begin die huise wegspoel, en die inwoners wat nog daarin kan slaag, vlug na grotte toe vir skuiling teen hierdie bonatuurlike stortvloed. Binne ‘n kort tyd is die grotte oorvol. Nêrens is daar meer skuilplek nie. Met groot angs kyk die vreesbevange mense hoe die watervlak styg en al nader en nader na die grotopening kom. Uiteindelik is daar géén ander genade as om die berge in te vlug. Talle kom om in rotsstortings en modderstortings. En uiteindelik is daar niemand oor nie. Alle lewe op aarde is uitgewis as gevolg van die mens se verskriklike sonde.

Alles uitgewis, buiten natuurlik Noag en alles wat op die Ark is. Na ‘n week of twee se harde stortreën, voel Noag een oggend hoe die skip begin kantel en beweeg. En dan dryf hulle. ‘n Juigkreet gaan op van die drie seuns. Hier begin ‘n groot avontuur! Noag val neer en dank die Here dat Hy hulle gesin genadig was, dat Hy Hom oor hulle ontferm het en hulle uit die kake van die dood gered het.

Noag het so pas twee maande tevore sy seshonderdste verjaarsdag gevier!

Die beloftes van die Here staan vas. Aan Noag het Hy belowe dat Hy hom sou red; vir die Goddelose mense het Hy belowe dat die aarde sou vergaan. Alles het presies so gebeur. Aan my en jou maak Hy vandag ook beloftes. Aan die een kant is daar die belofte van die ewige verderf vir diegene wat die geskenk van Sy Seun Jesus nie wil aanvaar nie. Aan die ander kant is daar wonderlike beloftes van Sy groot genade en seën. Die wonderlike ewige lewe is daar vir elkeen wat glo in Jesus. Sy beloftes staan steeds nét so vas. Wat is jou besluit?

Gebed:

Here, dankie vir U wonderlike beloftes ook aan my. Ek gryp daaraan vas met alles wat ek het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026