Die Groot Preek

13 February, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Groot Preek

Matteus 4:23-5:12

Baie gou ontstaan daar ‘n hegte band tussen die twaalf manne. Alhoewel hulle nie die enigste gereelde volgelinge van Jesus is nie, aanvaar almal hulle as die leiers in die groep. Dit laat Johannes natuurlik baie belangrik voel. Van Kapernaum af gaan hulle deur die hele Galilea. Elke Sabbat is hulle in sinagoges om die mense te leer. Terselfdertyd het Rabbi Jesus ook talle siekes gesond gemaak van elke kwaal denklik. Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei, en mense het in groot getalle van heinde en verre gestroom om hierdie “Wonderwerker” te sien en te ervaar, en natuurlik om van hulle siektes en kwale genees te word.

Baie jare later besef Johannes dat hierdie nie maar bloot ‘n barmhartigheidsaksie was nie, maar dat Jesus na ‘n veel groter doel gewerk het. Hy wou die verhoog regkry vir die grootste preek van alle tye. Die nuus van Jesus se asemrowende bediening het versprei na die uithoeke van Galilea. Mense was opgewonde, want hulle het nog nooit so iets beleef nie. Dit word oorvertel en weer oorvertel totdat dit deur die hele provinsie van Sirië weerklink. In hulle hordes stroom die mense saam. Almal wou dit vir hulleself kom beleef. Reuse skares mense het om Jesus saamgedrom, en die sinagoges het totaal te klein begin word. Dan wend Hy hom na die buitelug, langs die see van Galilea.

Op ‘n dag is daar ‘n magtige skare bymekaar. Jesus wink Johannes en Simon nader. Hulle moet die mense teen die berghang laat sit. Hy loop teen die berg op sodat almal Hom kan hoor. Dan begin Hy daardie wonderlike preek wat al oor en oor en oor uitgerafel, bespreek en ontleed is.

Jesus het besef dat mense dikwels die Tien Gebooie sien as eise wat God stel, eise wat baie mense moedeloos maak omdat hulle nie hieraan kan voldoen nie. En dan het die Fariseërs ook nog boonop hulle eie wette opgestapel. Dit was egter nooit God se bedoeling om mense te belas met onmoontlike wette nie. Jesus wou hulle leer om dit eerder te sien as riglyne waarvolgens jy jou liefde teenoor God en medemens kan uitleef. Met hierdie preek wat Jesus beplan het, wou Hy Sy volgelinge wys hoe kinders van God hulle liefdesverhouding met die Vader prakties kan uitleef, en hoe dissipels van Jesus Hom moet navolg.

Wanneer Jesus op ‘n groot rots gaan sit, beduie hy vir Johannes en sy makkers om hier naby Hom te kom sit. Hy wil hulle iets belangriks leer. Hy kyk hulle in die oë wanneer Hy begin praat, maar Hy praat só dat al die ander mense Hom duidelik kan hoor. Johannes wonder vir ‘n oomblik, vir wie hierdie preek dan bedoel is? Baie gou kom hy agter dat hierdie preek wel as onderrig vir hulle twaalf manne bedoel is, maar terselfdertyd is dit nie ‘n eksklusiewe gesprek met hulle nie. Elkeen wat teen die berghang sit moet dit hoor!

Die preek begin met die “Saligsprekinge.” Almal moet eers hoor en deeglik besef hoe genadig God is voordat hulle kan hoor wat die eise is wat God aan hulle stel. Baie jare later het Johannes eers besef dat dit presies is soos met die Tien Gebooie, waar God eers vertel van Sy groot genade oor Israel, voordat Hy eise stel, of eerder riglyne neerlê.

Jesus begin met ‘n genade-aankondiging, dat die mens wat besef dat hy totaal afhanklik van God is, baie groot seën beleef, en dat hy deel het aan die Koninkryk van God. “Geseënd is dié wat geestelik arm is.” Eers kon Johannes nie mooi verstaan wat Jesus bedoel nie, maar toe hy mooi daaroor dink, besef hy dat Jesus eintlik wil sê dat as jy arm is, begin jy jou afhanklikheid van God besef. Johannes wéét mos hoe die armes deur die geestelike leiers verag word, want hulle glo dat armoede ‘n teken is dat God hulle verwerp het. Nou sê Jesus dat hierdie sogenaamde verworpenes juis deur God aanvaar word. Stadigaan gaan daar ‘n liggie vir Johannes op.

Hy begin agterkom dat hierdie saligsprekinge van Rabbi Jesus eintlik gaan oor geregtigheid. Nie alleen om die regte houding voor God te hê nie, maar terselfdertyd ook om reg te doen aan ander mense.

Vandag moet ek en jy ook besef, dat as hierdie twee elemente teenwoordig is in jou lewe, ontvang jy seën en dan het jy deel aan God se Koninkryk.

Om reg te doen behels onder meer om barmhartig te wees, vrede te maak, te treur oor dít wat verkeerd is, sagmoedig te wees, geregtigheid na te streef en om jou lewe skoon en rein te hou. Maar jy kan ook verwag om vervolg te word as jy ernstig is in jou navolging van Christus, maar dan is die troos dat daar vir jou ’n groot beloning in die hemel wag.

Om werklik jou geloof op hierdie manier uit te leef en deel te hê aan die Koninkryk van God, is nie vir sissies nie. Dit kos baie moed om hoed-in-die-hand voor God te staan en jou hoogmoed en eiegeregtigheid voor Hom te bely. En dan boonop die juk van die Koninkryk op jou skouers te neem en vir Jesus te volg. Maar die beloning is ongekende seën, vrede wat alle verstand te bowe gaan, en vreugdevolle gemeenskap met die Vader.

Gebed:

Here, ek besef vanoggend opnuut hoe afhanklik ek van U is, want sonder U is ek niks!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026