Matteus 22:34-40
Toe ek ‘n jong seuntjie was, het ek ‘n klein steekbaard-brakkie gehad en ‘n groot kat wat geskrik het vir niks. Die brak se missie in die lewe was om die kat grensloos te irriteer. Elke keer wanneer hy dit egter gedoen het, het die brak ‘n oorveeg van die kat gekry. Dan het hy maar net weer sy vere reggeskud en teruggekom vir nóg ‘n oorveeg. Tot vervelens toe!
Die Fariseërs was presies nés daai brak! Hulle probeer vir Jesus vastrek met die een of ander slim vraag, en dan kry hulle ‘n vernederende loesing. Die volgende dag is hulle maar weer terug en dan gebeur presies dieselfde. Maar dis asof hulle so dikvellig is, dat hierdie pak slae hulle net vir ‘n rukkie bedwelm, maar dan kom hulle net maar weer terug vir nóg ‘n loesing. Hulle kon maar net nie leer nie!
Het hulle nou werklik gedink, na soveel keer wat hulle tweede beste gekom het, dat hulle vir Jesus kon vastrek met ‘n strikvraag? Hierdie keer wou hulle weet wat die grootste gebod in die Wet is. Dis nie asof hulle nie geweet het nie, want hulle het die wet agterstevoor uit hulle koppe geken. Hulle het egter tog só gehoop dat Jesus hierdie slag die verkeerde antwoord sou gee, en dan kon hulle Hom vastrek.
Die feit dat die Sadduseërs so pas in die stof gebyt het, was vir die Fariseërs ‘n gevoelige slag, want alhoewel hulle nooit om dieselfde vuur gesit het nie, het hulle nou ‘n verenigde front teen Jesus gevorm. As die een sou wen, was dit almal se oorwinning! Jesus het immers die hele Joodse godsdiens op sy kop gekeer. Die Wetskenner se vraag moet natuurlik ook gesien word teen die agtergrond van die honderde voorskrifte in die Torah asook die talle oorlewerings van die rabbi’s. Is daar dalk een van hierdie wette wat uitgestaan het bo die ander?
Jesus se antwoord steek regdeur die kern van die saak: Hy haal aan uit Deut. 6:5. Die grootste gebod is dat die hele mens - wil, gevoel en denke - op God gerig sal lewe. Natuurlik het die Skrifgeleerdes dit geweet, maar dan verras Jesus as Hy ook uit Lev. 19:18 aanhaal oor die houding teenoor jou medemens. Dan stel Hy hierdie wet gelyk aan jou houding teenoor God. Hierdie twee stel Jesus saam as die totale wil van God vir jou lewe. Hierdie twee gebooie is dus één, net soos wat ‘n mens nie die kop- en stertkant van ‘n muntstuk kan skei nie.
Ons moet mooi verstaan wat die implikasies van hierdie gebod is. Oor die eerste helfte, die liefde vir God, is daar nie juis misverstande nie. Dit is oor die tweede helfte wat ons so kleitrap, want bloot naasteliefde alleen is nie genoeg nie. Naasteliefde word werklik eers liefde wanneer ons dit in die lig van die liefde vir God spieël. Die belangrike is dat ons mekaar nét so lief moet hê soos Christus óns liefhet. Eers dán ontdek ons ware naasteliefde. Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gestel oor hoe om lief te hê. Dit was nie ‘n teoretiese lippetaal-liefde nie, maar 'n praktiese doen-liefde. Hy het prakties Sy hele lewe daaraan gewy om mense se lewens te verander deur hulle die regte pad te leer, maar terselfdertyd om aan hulle fisiese nood aandag te gee, soos genesing, kos gee, vertroosting ens. Net so moet ons liefde nie alleen woorde wees nie, maar ‘n praktiese doen-liefde.
Ons moet dit ook baie duidelik verstaan dat hierdie kerngebod nie die “mindere” gebooie vir ons Christelike lewensstyl vervang nie. Inteendeel, alle ander voorskrifte moet eers gemeet en getoets word aan hierdie gebod. Wanneer ons byvoorbeeld die tien gebooie lees, sien ons telkens dat elke gebod gemeet kan word aan die liefdesgebod. Om dood te slaan is om liefdeloos op te tree en diefstal is ‘n liefdelose aksie. Slegte begeertes veroorsaak dat jy dinge doen wat die liefde totaal oorboord gooi. Valse getuienis is eweneens liefdeloos, want dit kan bitter seer maak. En natuurlik is die eerste vier gebooie weer ‘n uitleef van liefde teenoor God. Wanneer ons mooi oor hierdie wette gaan dink, sien ons ‘n baie groter prentjie van liefde.
Dit was juis die groot probleem met die Fariseërs. Die fout was nie dat hulle allerhande wetsvoorskrifte gehad het nie, maar dat hulle juis dít wat die heel swaarste by God geweeg het, naamlik die liefde, nêrens in hulle wette laat geld het nie. Vir hulle het dit gegaan oor die wette en nie oor die mense agter die wette nie. Hulle het die wette tot in die fynste besonderhede uitgeleef sonder dat liefde êrens ‘n plek daarin gehad het!
Natuurlik moet ‘n Christen-gelowige se lewe gedissiplineerd wees, maar daar moet ‘n fyn balans wees sodat dit nie rigied raak nie. Dit mag nooit gaan om ‘n wet ter wille van ‘n wet nie maar ‘n wet wat jou verbind om God en jou naaste in liefde te dien. Dan natuurlik verder ook om jou liefde teenoor God en jou naaste ten volle uit te leef. Dit doen jy natuurlik nie uit plig nie, maar omdat dit diep uit jou hart kom uit dankbaarheid vir God se groot genade en onvoorwaardelike liefde teenoor jou.
Gebed:
Here, vul asseblief vandag my hele lewe met liefde sodat dit sal oorborrel, en ek almal wat vandag oor my pad kom se lewens sal aanraak met ’n alles-omvattende liefde!