Die Goeie Soldaat

25 April, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Goeie Soldaat

2 Timoteus 2:1-7

Ek was maar skaars sewentien jaar oud, pas matriek geskryf en reg vir die wye wêreld. Daar was net een ou dingetjie wat in my pad gestaan het: my verpligte nege maande diensplig in die weermag. “Dit kan darem nie te erg wees nie,” dink ek, en die verskriklike stories van die ouens wat al daar was, maak ek af as bangmaakstories.

Toe die groot dag aanbreek, neem Pa my na Durban stasie. Daar klim ek saam met ‘n klompie ander jong mannetjies op die trein. Nee, "opklim" is eintlik nie die regte woord nie. Ons word op die trein geboender en verskree, en ek dink: “Wat ‘n onbeskofte klomp! Sulke behandeling is ek beslis nie gewoond nie!” Maar dit is maar die begin van die smarte, want in die volgende klompie weke word ons uitgevloek en rondgejaag en swaar gestraf vir absoluut niks. Potchefstroom was bitter warm, maar ons moes hardloop totdat ons tonge op die grond hang. Probeer jy nog dink oor iets, dan word jy uitgejou: “’n Troepie dink nie! Ek sal namens jou dink!” Algaande begin ons dissipline aanleer, totdat ons klomp rou tieners uiteindelik ware soldate is wat blitsvinnig reageer op elke bevel wat die offisiere gee. Binne enkele maande word ons opgelei om doelgerig, akkuraat en doeltreffend ons land te kan verdedig. Dit is nie maklik nie, en dikwels beteken dit uiterste ontberings, dors, honger, seer voete, gekneusde ego's. Ons gee egter nie meer om nie, want ons het ‘n doel om ná te streef en álles word ingespan om die doel te bereik.

Paulus gebruik nie verniet die beeld van ‘n goeie soldaat om te demonstreer hoe ons fokus moet wees as Christenleier nie. ‘n Soldaat durf hom nie steur aan allerhande beuselagtighede nie, en sy aandag durf nie afgetrek word deur onbenullighede nie, want dan verloor hy sy fokus, en die vyand kan hom oorval. Net so mag jy as Christenleier nie jou aandag laat aftrek deur allerhande kleinlikhede wat jou aandag van die ware Evangelie kan aftrek nie. Dit is so maklik om byvoorbeeld in die strik te trap van allerhande Godsdienstige redenasies. Daar is baie dinge waaroor die Bybel nie vir ons ‘n honderd-persent uitsluitsel gee nie, en waaroor daar groot gestry word deur verskillende denominasies. Ek word dikwels gekonfronteer met sulke redenasies, en dan word ek uitgelok om my mening te gee. Inderdaad het ek al by geleentheid in die strik getrap, en hard geval. Ek is ook al by geleentheid bitterlik kwalik geneem omdat ek my nie wou uitlaat oor sekere argumente nie. Dit is egter ‘n mors van energie wat elders baie beter gebruik kan word.

Om ‘n voorbeeld te noem: ’n sekere Godsdiensgroep is baie aktief hier by ons. Elke kort-kort is hier iemand wat my uitnooi na die een of ander Bybelstudie. Ek het eenmaal toegegee, en gedink dat ek die ware Evangelie baie duidelik aan hulle sou kon oordra. Dit was egter ‘n gejaag na wind en mors van tyd en energie, want vir my beste, Skrifgefundeerde argumente het hulle tien ander gehad om my verkeerd te probeer bewys. Niemand het hierby gebaat nie! In daardie tyd kon ek nog ‘n dagstukkie of twee geskryf het!

Dissipline is die ander baie belangrike eienskap wat jy as soldaat aanleer. Net so is dissipline ook baie belangrik vir jou as Christenleier. Om net lukraak dinge aan te pak, bring jou nêrens. ‘n Mens moet gedissiplineerd met die Woord omgaan en dit op gereelde basis bestudeer om jou kennis te verbreed, maar ook om te luister na wat die Here vir jou wil sê. Net so is dit van uiterste belang om gedissiplineerd jou gebedslewe te onderhou, want sonder die gedurige gesprek met God raak jy uit voeling met Hom, die héél belangrikste Een in jou lewe. Sonder daardie noodsaaklike gesprekke gaan jy mettertyd die hand los van die Een wat jou lei deur die gevaarlike, sondige wêreld.

Paulus noem ook die voorbeeld van ‘n atleet. Hy durf nie van die baan afdwaal nie, want dan word hy gediskwalifiseer. Sy fokus moet, net soos dié van die soldaat, slegs op sy wedloop wees. As hy vir die meisies op die pawiljoen kyk, en vir hulle waai terwyl hy hardloop, gaan hy lélik tweedebeste, of dalk héél laaste kom!

As atleet op die geloofsbaan, is daar ook sekere reëls om na te kom. Hierdie is reëls wat vir jou neergelê is in die Woord van God. Daarvan durf jy nie afwyk nie, en die oomblik as jy begin dwaal, dan kan dit net groot probleme beteken. Weereens moet jou fokus wees op die een enkele groot doel, naamlik die Koninkryk van God. Jy moet jou nie van stryk laat bring deur allerhande kantlynsakies nie, maar jou bepaal by die doel. En as dit eers oor gewildheid begin gaan, dan is die stryd verlore. ‘n Sekere predikant van een van die sendingstasies in die omgewing het 'n paar jaar gelede soms in ons gemeente kom preek. Hy is dikwels ongemaklik reguit in sy preke, en hy noem die sonde by die naam. Sommige van ons lidmate het botweg geweier om kerk toe te kom as hulle hoor dat hy sou preek, want hy was heeltemal te reguit na hulle sin, en dit het soms bitter seer gemaak. Vir hom gaan dit egter nie om gewildheid nie, maar suiwer oor wat die Woord sê. Hy durf nie die sonde toesmeer net om mense gelukkig te hou nie. Vir wie wil jy gelukkig maak? Die mense of vir God?

Gebed:

Here, leer my asseblief om ten volle te fokus op U en die doel wat U daar voor vir my gestel het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026