Die Goeie Herder

1 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Goeie Herder

Johannes 10:1-21

VIDEO * OUDIO

Dit was ‘n nostalgiese kuiertjie op die plaas waar ek grootgeword het, naby Waterval Boven. Veertig jaar het verby gegaan. Sou ek nog die dinge daar kry wat vir my mooi was? Die eerste wat ek sien is die ou opstal - ek is teleurgestel want dit het verander. Wat vir my as kind na ‘n massiewe huis gelyk het, is nou ‘n doodgewone huis met kleinerige vertrekke. Die buitegeboue waar ek so lekker gespeel het as kind, staan wél nog, maar selfs hier het dinge verander en ek voel nie tevrede nie. Dit is nie soos ek dit onthou nie!

Ek stap oor na waar die ou klipkraal was. Hy is feitlik heeltemal weggesteek tussen die bome. Maar dan, as ek hom vind, dan helder dit in my op. Daardie stewige klipmure wat Oupa self gebou het - hulle staan presies nog net soos wat ek dit onthou. Onvernietigbaar het hulle behoue gebly! In my geestesoog sien ek weer die beeste - hoor ek hulle tevrede bulk in die kraal. Ek hoor weer my hond opgewonde blaf, waar hy die beeste saans gaan haal en na die kraal toe lei sodat hulle veilig sal wees agter die vorse ou klipmure. Wonderlik dat hulle sy stem geken het en dat hulle agter hom aangedraf het.

Jesus vertel ‘n storie van so ‘n ou klipkraal. Net soos Oupa se kraal, het hierdie een ook ‘n hek. Dit is die enigste plek waar die vee kan in en uit, en dit is die ingang vir die veewagters. Niemand het in Oupa se kraal gekom buiten deur daardie hek nie. En nou sê Jesus dat dit ook die enigste ingang is vir iemand wat regmatig daar moet in. Ja, daar is wel mense wat oor die muur klim, maar hulle is daar vir net een doel, en dit is om te steel!

Jesus vertel vir die mense dat die skape die herder se stem goed ken, en dat hulle agter hom aanloop as hy hulle roep. Die herder ken sy skape só goed, dat hy elkeen op die naam roep. Maar hulle volg nie sommer enige stem nie - hierdie skape volg net hulle herder en niemand anders nie. As hulle ‘n vreemde stem hoor, skrik hulle en hardloop weg.

Dit was ‘n pragtige storie, een waarmee Jesus se hoorders kon assosieer, want dit was deel van die alledaagse lewe. Maar met die storie wou Jesus by hulle ‘n waarheid tuisbring.

Ons kan daardie stewige vesting van die klipkraal sien as die ewige lewe. Daar is maar net één manier om daar in te kom, en dit is deur die hek. Hierdie hek onderskei die ware van die valse. Iemand wat nie daar hoort nie, sal nie daar ingaan nie. Hy sal oor die muur probeer sluip. In hierdie verhaal is daar slegs een kraal en een hek. In vers 7 sê Jesus dat Hý daardie Hek is, en dat Hy die enigste toegang is tot die kraal.

Daar is teoloë wat vandag wil beweer dat daar meer as net een manier is om in die kraal van die ewige lewe te kom. Volgens hulle moet jy net glo - of dit nou in Boeddha is of die Hindoe godsdiens aanhang - maak nie saak nie. Dit is snert! Jesus is die enigste weg! Hy het Sélf so gesê. Al die ander is diewe en rowers (vers 8). Wat doen ‘n dief ? Hy steel en hy slag en hy roei uit (vers 10)!

In teenstelling daarmee - wat doen die herder? Hy versorg die skape in liefde en sorg dat hulle op die sappige groen gras wei. “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” (vers 10) sê Jesus vir hulle. Jesus het na die aarde gekom, nie om te oordeel nie, maar om te red en om liefde te gee en om te versorg. In skrille teenstelling hiermee sien ons die werke van die bose. Die Fariseërs is in sy mag, en al wat hulle doen is om verwoesting te saai. Hulle probeer nie alleen vir Jesus om die lewe bring nie, maar hulle maak die lewe vir die mense onmoontlik. Ons sou later sien hoedat hulle die Christene vervolg en selfs doodmaak. Hulle dink net aan hulleself!

Jesus is nie net die Ingang of Hek na die ewige lewe nie, Hy is ook die Herder wat Sy skape (die gelowiges) versorg en beskerm. In vers 15 sien ons hoedat Hy Sy lewe aflê vir Sy skape. As ‘n herder ‘n wolf sien by sy skape, sal hy sy lewe waag om die wolf te verdryf en sy skape te beskerm. Jesus het bewys dat Hy daardie Goeie Herder is, toe Hy sy lewe op die spel geplaas het om die bose se mag oor gelowiges vir altyd te breek. In die proses het Jesus die grootste offer van alle tye gebring - hy het Sy lewe gegee vir Sy skape!

Maar watter voordeel het dit vir ‘n trop skape as hulle herder dood is? Dan is hulle mos herderloos en verlore. In vers 18 verduidelik Jesus dat Hy nie alleen Sy lewe aflê vir die mensdom nie, maar dat Hy dit weer opneem in opdrag van God. Diegene wat wil beweer dat Jesus nooit uit die dood opgestaan het nie, moet hulle woorde sluk, want hier verduidelik Jesus waarom dit so noodsaaklik was dat Hy weer moes opstaan. Hy leef! Nie alleen lééf Jesus nie, maar Hy is steeds die Goeie Herder, en Hy versorg stééds vandag vir my en jou, Sy skape. Hy beskerm nog steeds Sy skape teen die aanvalle van die wolwe (die bose), en Hy gee Sy skape nog steeds die groen weivelde. Maar nog meer: Hy lei hulle na daardie onvernietigbare klipvesting van die ewige lewe..

Gebed:

Dankie Here, dat U ook my Herder is, en dat ek by U veilig is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Verraad in die Nag
30 October, 2026
Getsemane
29 October, 2026
Die Wingerdstok
28 October, 2026
Die Paasmaal
27 October, 2026
Voorberei vir die Dood
26 October, 2026