Die Gees In Jou

25 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Gees In Jou

Johannes 14:15-31

VIDEO * OUDIO

Jesus het Sy dissipels deeglik voorberei vir die feit dat Hy weggaan en die depressie het maar swaar op hulle harte gedruk. Maar dan troos Hy dat Hy die Vader sal vra om vir hulle ‘n ander Parakleet (Parakletos) te stuur. Die 1983 vertaling gebruik die woord: “Voorspraak.”

Hierdie woord, Parakletos is eintlik baie moeilik om te vertaal, want ons het nie werklik ‘n soortgelyke woord in Afrikaans nie. Maar kom ek probeer verduidelik: Destyds kon slegs enkele ryk mense ‘n geleerdheid bekostig, gevolglik het die oorgrote meerderheid van die samelewing absoluut niks geweet van die wette en reg nie. So is daar dan ‘n weldoener aangewys uit die ryk geledere wat die arm mense van hierdie dinge kon leer wat van hulle verwag word, hulle te ondersteun en om hulle by te staan in byvoorbeeld hofsake. Hierdie weldoener is die “Parakletos” genoem. Wanneer Jesus dus die Heilige Gees aan die dissipels kom voorstel, noem Hy Hom ‘n “Parakletos”.

Dit is baie belangrik dat ons moet weet presies Wie en Wat die Heilige Gees is. Ons kan leer uit wat Jesus hier vir Sy dissipels oor Hom kom sê asook wat ons ook uit die Ou Testament oor Hom lees.

In die eerste plek is die Heilige Gees nie maar net ‘n krag van God nie, maar is Hy ‘n Persoon. In vers 17 sê Jesus: “Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” Hier word baie duidelik verwys na die Heilige Gees as ‘n Persoon.

In die tweede plek moet ons weet dat die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun God-Drie-Enig is. Uit hierdie gedeelte sien ons dat Hy van die Vader kom. in Genesis 1:2 word na Hom verwys as die Gees van God. In Joh 14:23 sê Jesus: “Ons sal na hom toe kom....”, die “Ons” verwysende na Jesus en die Heilige Gees.

Derdens sien ons dat die Heilige Gees nie vir elkeen beskore is nie. In die Ou Testament sien ons dat dit net baie spesiale mense was wat die voorreg gehad het om die Heilige Gees in hulle lewens te hê. Ons lees telkens van ‘n groot figuur: “Die Gees van God het oor hom vaardig geword.” Alles sou baie drasties verander met Pinksterdag, wanneer Jesus die Gees “uitstort” oor gelowiges. Nou is dit nie meer spesiale enkelinge nie, maar alle gelowiges. Maar steeds is daar ‘n beperking: SLEGS gelowiges sal die Gees ontvang! Hy is dus nie bedoel vir die ongelowige wêreld nie. As ‘n ongelowige dus vir jou sê dat hy die Heilige Gees in hom het, is dit ‘n leuen! In Johannes 14:17 verklaar Jesus onomwonde dat die wêreld Hom nie kan ontvang nie!

Vierdens leer Jesus ons in vers 26 dat die Heilige Gees, die “Parakletos” met ons praat: “Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.”

Hoe doen Hy dit? Nee, Hy praat nie hoorbaar nie, maar in jou hart. ‘n Voorbeeld hiervan is deur die Bybel. Vir die ongelowige is die Bybel ‘n dooie boek. Vir die gelowige is dit egter die Woord van God, want wanneer jy dit lees met ‘n biddende hart en ‘n oop gemoed, praat die Heilige Gees met jou deur dit wat jy lees. Jy sien skielik net iets in ‘n totaal ander lig as wat jy dit voorheen gesien het en dan wéét jy dat die Gees nou direk met jou gepraat het. Hoe weet ek? Dit is dikwels net ‘n onbeskryflike “gevoel” van vrede of saligheid wat oor jou gemoed kom. Wanneer ek die dagstukkies skryf, is dit net daardie vredevolle wete wat oor my hart kom, wat vir my sê dat ek nou skryf wat die Heilige Gees wil hê dat ek moet skryf. Dit gebeur soms dat ek iets skryf wat in my hart ‘n vraagteken - ‘n onsekerheid los. Dan gaan ek terug na daardie gedeelte en verander dit, want dan weet ek dat dit nie is wat die Gees wou hê ek moes skryf nie.

In die vyfde plek sien ons dat die Heilige Gees nie maar net tydelik in jou woon vir ‘n kort rukkie en dan weer vertrek nie. Inteendeel, in vers 16 sê Jesus: “…..sodat Hy vir ewig by julle kan wees.” Hy kom woon in jou die dag wanneer jy ‘n keuse maak vir Jesus. Daardie dag kom vul Hy jou lewe. Die vraag wat ek al dikwels gehoor het, is waarom die stem van die Gees stil kan raak in my lewe? Dalk moet ek dit verduidelik met ‘n beeld wat ds Dana Minnaar destyds gebruik het, dat jou lewe soos ‘n emmer vol klippe is, waar die klippe sonde uitbeeld. Wanneer Jesus in my lewe kom, word my emmer vol gemaak met die Heilige Gees. Dit is soos ‘n ewigdurende stroom wat invloei. Die sondeklippe veroorsaak egter dat daar nie baie plek in my lewe is vir Hom nie. Hoe meer van hierdie klippe ek egter uitgooi, hoe meer plek is daar vir Hom en hoe duideliker kan ek Sy stem hoor. Wat is hierdie sondeklippe? Sonde is om nie die wil van God te doen nie. Dit is dus nie net fisiese sondes nie, maar ook byvoorbeeld om nie genoeg met Hom te praat of om van Hom te leer nie.

In kort kan ons sê, dat hoe nader ek aan God leef, hoe meer gaan ek die Heilige Gees in my lewe ondervind, en hoe meer gaan ek God se volkome vrede en blydskap in my lewe beleef.

Gebed:

Here, dankie dat U Heilige Gees ook deel van my lewe is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026