Die Gans en die Slingervel

26 June, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Gans en die Slingervel

Matteus 12:38-42

VIDEO | OUDIO

Ek hoor eendag die storie van klein Jannie en sy sussie Sannie wat vir Oupa en Ouma op die plaas gaan kuier het. Oupa het vir Jannie ‘n slingervel gemaak en toe stuur hy hom veld toe om te gaan oefen om hierdie nuwe “gevaarlike” wapen te hanteer, maar terselfdertyd ook sodat Oupa ‘n bietjie kon rus.

Jannie was opgewonde en in sy verbeelding kon hy al sien hoedat hy ‘n “Goliat” daarmee sou doodgooi! Maar tot sy groot frustrasie het hy baie gou agtergekom dat hierdie ding baie moeiliker was om te gebruik as wat hy gedink het. Hoe hard hy ookal probeer het, die klippe het gewoer-woer in nét watter rigting hulle wou! Hoe Dawid dit ooit kon regkry om vir Goliat met hierdie ding raak te gooi, was ’n gróót wonderwerk!

Na ‘n uur se gesukkel het hy moedeloos teruggestap huistoe. Op die werf het Ouma se liefling gans wat sy so vertroetel het, vir hom geblaas. “Stjoepit gans!” het Jannie die ongedierte toegesnou, en woer-woer sy slingervel in die gans se rigting geswaai. En toe gaan staan Jannie se hart amper want die klip het die gans netjies tussen die oë getref, nes Dawid vir Goliat, morsdood!

Jannie het hom natuurlik boeglam geskrik! Hy het nooit in sy wildste drome gedink dat hy die gans sou raakgooi nie! Ouma sou hom beslis lewendig afslag! Paniekbevange het Jannie vinnig die dooie gans onder ‘n hopie hout begrawe sodat niemand hom sou kry nie. Maar toe hy opkyk, sien hy sy snipperige sussie Sannie daar vir hom staan en kyk. Sannie het nie ‘n dooie woord gesê nie, maar hy kon sommer sien dat daar groot moeilikheid op pad was!

Daardie middag na middagete wou Ouma weet wie haar wou kom help met die skottelgoed. Jannie het amper van sy stoel afgeval toe Sannie ewe vermakerig sê: “Ouma, Jannie het gesê dat hy graag in die kombuis wil help.” En toe fluister sy saggies in Jannie se oor: “Onthou die gans!” Ewe gedwee het Jannie die skottelgoed gewas.

Laatmiddag wou Oupa die twee kinders vat om te gaan visvang in die plaasdam. Ouma was egter nie gelukkig nie, want sy wou hê dat Sannie haar help met aandete. “Moenie wôrrie nie Ouma, Jannie het gesê dat hy wil help. Ek sal saam met Oupa gaan,” kom dit van Sannie terwyl sy vir Jannie daardie onthou-die-gans-kyk gegee het.

En so het hierdie afpersing vir ‘n paar dae aangehou, en die arme Jannie moes hom vrek werk terwyl Sannie haar verlustig het in die situasie. Uiteindelik kon Jannie dit nie meer verdra nie, en in trane het hy by Ouma gaan bieg oor die gans. Ouma het hom ‘n drukkie gegee: “Liefling, ek weet van die gans - ek het by die kombuisvenster gestaan toe dit gebeur het, en ek het alles gesien. Maar ek het jou lief, en ek het jou lankal vergewe. Ek was net nuuskierig om te sien hoe lank jy sou toelaat dat Sannie jou as ‘n slaaf aanhou!”

Daar is ‘n “Jannie” in elkeen van ons, en ons het almal maar ‘n paar geraamtes in die kas! Die duiwel wil dit uitbuit en hy probeer jou herinner aan daardie ou sondes. God het egter elke sonde reeds gesien en Hy weet van absoluut elkeen! Daar is niks wat jy vir Hom kan wegsteek nie. Maar as jy Sy kind is, het Hy jou ook al lánkal daarvoor vergewe, maar Hy wag dat jy daardie sondes voor Sy voete kom neerlê sodat Hy jou kan vrymaak van die duiwel se slawesweep wat jou so genadeloos piets!

Maar om daarvoor te kwalifiseer, moet jy deel van God se familie wees. Daar moet met ander woorde ‘n geloofsverhouding wees tussen jou en Jesus. Wat dan as dit nie so is nie? Vergewe God ooit die sondes van mense wat nie in Jesus glo nie?

In Mat. 12:38-42 vertel Matteus van hoe die Fariseërs vir Jesus gevra het vir ‘n wonderteken, so asof hulle nie al oorgenoeg gesien het nie. Die wonderteken wat Jesus hulle aanbied is ‘n riller, want as ongelowiges sal daar baie “Sannies” wees wat eendag teen hulle sal getuig, en hierdie slag sal hulle nie meer kan bieg en vergifnis kry nie, want dit sal lankal te laat wees. God se genade is oneindig groot, en Hy gee soveel geleenthede vir mense om om te draai en Hom te volg. Die Fariseërs byvoorbeeld, het talle geleenthede gehad: hoeveel keer het Jesus nie wonderwerke voor hulle oë laat gebeur nie? Hulle het die Skrif geken en hulle kon daaruit duidelik sien dat Jesus die Messias is, maar hulle het hardnekkig geweier om Hom te erken en te volg. Teen hulle is daar ‘n skare van gelowiges wat eendag ‘n verdoemende getuienis sal lewer. Vandag geld presies dieselfde vir die talle mense wat die evangelie oor en oor hoor, maar nie die besluit VIR Jesus wil maak nie!

As jy egter ‘n kind van God is, sal die duiwel ook teen jou probeer getuig, maar dan sal Jesus tussenbeide tree en sê: “Hierdie kind van My behoort aan My! Ek het ál daardie sondes al lankal vergewe!”

Gebed:

Here, ek besef vanoggend dat U alles, ALLES van my weet, en dat ek niks vir U kan wegsteek nie. Dankie dat U alreeds my sondes vergewe het. En dankie dat U my vrygemaak het van die duiwel se aantygings. Leer my om dit waarlik te verstaan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026