Die Evangelie In Opmars

1 July, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Evangelie In Opmars

Inleiding tot die boek Romeine

VIDEO | OUDIO

In die jaar 2000 het ek ‘n droom gehad, ‘n droom om deur middel van die Internet die Evangelie die wêreld in te stuur. Ek het nie eers naastenby geweet waar om te begin nie, want die internet was nog uiters vreemd. Ek het my tot God gewend in gebed. Dit is tog immers tot Sy eer en tot uitbreiding van Sy Koninkryk! Aanvanklik was daar talle terugslae en teleurstellings. Maar deur die genade van Hom wat in beheer van alles is, het die aksie gegroei en gegroei, totdat daar vandag, duisende dagstukkies later, steeds dagstukkies regoor die wêreld versprei word aan duisende mense, nou nie net meer per e-pos nie maar vandag ook per WhatsApp en YouTube waar jy na 'n video van die dagstukkie kan kyk. Ek dank God vir die heerlike voorreg om op só ‘n wyse deel te mag wees van die ratwerk van God se kerk op aarde.

Paulus het óók ‘n wonderlike droom gehad. Syne was om die blye boodskap van Jesus Christus se verlossing dwarsdeur die hele wêreld te laat weergalm, tot in die hartjie van die wêreldhoofstad, Rome. En wanneer die Evangelie Rome bereik het, dan moet dit ook verder oorspoel na Spanje en tot in die verste uithoeke van die aarde.

Naas Jesus het niemand so ‘n geweldige invloed op die geskiedenis van die Christendom gehad soos Paulus nie. Dit begin al voor sy bekering, toe hy die kerk fanaties vervolg het. Miskien klink dit negatief maar die direkte gevolg was dat die kerk uitmekaar gespat het om van hom af weg te kom en dat die Evangelie saam met die vlugtelinge die ganse wêreld ingedra is. Na sy dramatiese bekering het hy steeds met dieselfde vuur ál sy krag ingesit om die Evangelie, wat hy voorheen só vervolg het, uit te dra. Paulus was ‘n baie Godsdienstige Fariseër en hy het die destydse Bybel baie goed geken. Na sy bekering het hierdie kennis hom baie goed te pas gekom.

Tot op daardie stadium was die Evangelie hoofsaaklik aan Jode verkondig. Paulus sou dit alles kom verander, want sy visie was baie wyer as net die klein Joodse kolletjie op die aarde. Die eerste tree na buite was toe Paulus en Barnabas na Antiogië gegaan het om daar te help met die Grieke wat by die kerk aangesluit het. Daar het die geskiedkundige eerste sendingreis sy ontstaan gehad!

En só begin die opmars in die Ooste, in een van die obskure uithoekies van die Romeinse Ryk, Palestina. Dit oorwin persoon na persoon, stad na stad, land na land totdat dit uiteindelik die hoofstad van die destydse wêreld, Rome bereik en die wonderlike boodskap van God se vryspraak stelselmatig, deeglik en onweerlegbaar tot by die magtige keiser se troon kom. Maar dit was maar net die begin! Die geskiedenis het bewys dat hierdie Evangelie in die eeue daarna reg rondom die wêreld sou spoel soos ‘n onstuitbare golf totdat dit elke uithoek van die aarde sou oordek, lank na Paulus se dood.

Natuurlik was hierdie opmars nie sonder probleme nie en van die eerste dag af was daar teenstand, vervolging, die tronk en pogings om Paulus dood te maak. Telkemale loop hy deur onder die wrede gésel. By ‘n paar geleenthede vergaan die skip waarop hy op reis was in ‘n woeste see, maar elke keer word Paulus gered deur Een wat groter is as die wildste storm. Wanneer ‘n woedende skare hom met klippe doodgooi, staan Paulus tot verbasing van die gelowiges onder die klippe op en hervat sy opmars om sy groot droom te verwesenlik!

Die Romeinebrief is die manifes van God se opmars, wat telkens ‘n beslissende rol sou speel op deurslaggewende oomblikke in die geskiedenis van die kerk om gelowiges te laat agterkom hoedanig hulle verhouding met God moet wees. Dit is veral wanneer die klem op menslike prestasie volgens wette dreig om die duisternis van dooie formalisme op die kerk te laat neerdaal. Dán laat God die helder ligboodskap van die Romeinebrief weerklink: Vryspraak deur geloof alleen! So word die kerke van die hervorming jare later uit die Romeinebrief gebore en só sien talle belydenisskrifte, wat vandag, járe later steeds vars en aktueel is, die lig.

En só word ook ék bereik - én jy!

Waaraan is die Romeinebrief se trefkrag toe te skryf? Dat God in hierdie brief Homself deur die Heilige Gees só openbaar dat Hy in die mens se diepste behoefte voorsien, die behoefte van ‘n ewige verhouding met God. Moontlik vra jy vandag, saam met miljoene ander mense die vraag: Hoe is die regte verhouding met God óóit moontlik? Die Romeinebrief antwoord sistematies hierdie vraag met ‘n uiteensetting van God se genade, Sy verrássende genade! Dit behels dat God jou vryspreek van sondeskuld op grond van die vergifnis wat Jesus bewerk het. Hy gee jou absoluut gratis, ‘n splinternuwe ewige lewe saam met Hom. Natuurlik het jy daarvoor geloof nodig. Selfs dít gee Hy jou óók! Dáármee word hierdie vryspraak deel van jou lewe sodat jy die heerlike vrugte daarvan kan geniet.

Gebed:

Here, vanoggend wil ek dit uitjubel: U is in beheer, wonderbare Heer! Gee asseblief vir my die vuur in my hart om die droom wat U my gegee het ten volle uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026