Die Engel Verduidelik

26 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Engel Verduidelik

Daniël 8:18-27

VIDEO | LUISTER

Die arme Daniël het hom boeglam geskrik (letterlik en figuurlik!) toe die engel Gabriël met hom begin praat. Nadat die arme man tot sy sinne gekom het, begin Gabriël vir hom die visioen uitlê. Die skaapram is simbolies die agtereenvolgende konings van die Medo-Persiese Ryk terwyl die bokram weer die Griekse Ryk is. Ons weet nou al dat Alexander die Grote die eerste koning van die Griekse ryk was, en dat die ryk uitmekaar geval het in vier koninkryke na sy vroeë dood. Uiteindelik kom daar ‘n nuwe koning op, een “met 'n ongenaakbare gesig en bedrewe in knoeiery.” (v.23)

Een kenmerk van hierdie tydperk is dat die sonde sy hoogtepunt bereik het, nie onder die heidense nasies nie maar spesifiek afvalligheid onder die Jode - die volk van God. As ons gaan lees wat in die Makkabeër-geskrifte staan, dan kry jy ‘n bietjie meer agtergrond oor hierdie tydperk. Onder andere word daar vertel dat die Jode ‘n Griekse gimnasium in Jerusalem opgerig het. Moontlik klink dit na vooruitgang, maar dit was eerder die teenoorgestelde! ‘n Gimnasium in daardie tyd het jong seuns of mans opgelei in letterkunde, redenaarskuns en wysbegeerte, maar dit is beheer deur die heidense geloof en ‘n swetterjoel gode wat die toppunt van sedeloosheid uitgeleef het. Een van die hoogtepunte van die gimnasium was om die jong manne op te lei in die hantering van verskillende wapens, en om hulle fiks te maak deur verskillende sportsoorte te beoefen. Al hierdie dinge is egter gedoen terwyl die manne poedelnaak was. Die Joodjies het hier erg deurgeloop onder die spot van die ander, omdat hulle besny was - die volmaaktheid van die liggaam was baie hoog aangeskryf en besnydenis het die liggaam geskend. Só erg was dit dat van die Joodse seuns ‘n operasie ondergaan het om die besnydenis te probeer verbloem, en só hulle verbondsteken te minag. Lees gerus hier wat die Makkabeër boek daaroor skryf: 1 Makk. 1:11-15

Soos ons reeds weet, is Antiochus IV Epifanes die laaste koning. Hy was nors, wreed, onbetroubaar en ‘n geslepe diplomaat in die slegte sin. In ’n paar kort sinnetjies beskryf Gabriël hierdie ongure karakter se bloeddorstige en niks-onsiende loopbaan. Hierdie monsteragtige man sou op ongekende skaal verwoesting saai en alles vernietig wat in sy pad staan, en selfs die magtigste heersers sou net eenvoudig swig voor sy bloedlus!

Maar Gabriël noem iets anders wat alles in perspektief stel: Antiochus kry hierdie dinge reg net om één rede: omdat God dit toelaat! Dit laat ons outomaties die vraag vra: “Ek het dan gedink dat God liefde is - waarom kan Hy sulke liefdeloosheid en wreedheid toelaat?” Vandag kan ons dieselfde vraag vra, wanneer ons sien hoe boos die wêreld om ons is, en hoedat onskuldige mense - selfs gelowiges - dikwels moet ly onder die geweld van die Goddelose. Na Antiochus was daar talle ander uiters wrede heersers wat gelowiges probeer uitroei het: Nero, Hitler, Stalin en nog baie ander. Waarom? Die eenvoudige antwoord is dat ons net eenvoudig nie weet nie, want ons weet nie wat in God se groot raadsplan bepaal is nie. Wat ons wel weet is dat die sonde nie ongestraf bly nie en dat die ewige verderf vir hierdie Goddelose mense wag. Gabriël kondig dan ook aan dat Antiochus ‘n dood sou sterf wat alleen beskryf kan word as dat dit van God kom. Volgens buite-Bybelse geskrifte word Antiochus IV Epifanes siek. ‘n Demoniese besetenheid neem beheer van sy lewe en dryf hom na sy dood.

Daar is twee weergawes oor sy dood. Lees gerus daarvan by: 1 Makk. 6 en 2 Makk. 9

Die bejaarde profeet, Daniël, is so aangegryp deur hierdie visioen, dat hy vir dae lank siek en uitgeput was, en nie kon werk nie.

Hierdie visioen van Daniël het direk te doen met die geskiedenis van sy tyd. Of het dit? Na die bloedige Medo-Persiese en Griekse oorheersing, het daar al weer talle skaap- en bokramme gekom en gegaan. Nie lank daarna nie het die Romeinse oorheersing gebeur en oor die volgende tweeduisend jaar was daar talle soortgelyke regerings wat ‘n mens se hare laat regop staan. Leef ons nou in die eindtyd? Wys Daniël se profesie dalk op vandag as die laaste asem van die aarde? Die eindtyd is die tyd van die Antichris - die tyd wanneer die groei en aantrekkingskrag van die sonde soveel groter word - die tyd wanneer die gelowiges se lyding op sy ergste is. Miljoene gelowiges word vandag op die verskriklikste maniere vervolg.

Die troos vir ons is dat Daniël se profesie ook in ons eie tyd betekenis het: Die Godslasterlike “horing” sal op God se tyd sonder enige menslike hulp verbreek word wanneer Christus kom om te oordeel. Die visioen in Daniël 8 mag dalk spesifiek beperk wees tot die Ou Testamentiese geskiedenis, maar die boodskap hierin van God se almag is ewig. Agter die skaduwee van die Antichris sien ons die helder lig van God se oorwinning skyn - dieselfde Lig waarvan Johannes praat in Joh. 1 en 1 Joh. 2.

Gebed:

Here, weereens sien ek vanoggend dat U die Oorwinnaar is - hou my oog gevestig op U alleen, en wanneer ek die onreg om my sien - herinner my dan aan U almag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026