Die Elite Damesklub

10 November, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Elite Damesklub

Amos 4:1-3

Video - Oudio

Die Damesklub is bymekaar - vir die hóéveelste keer hierdie jaar. Dit gaan baie jolig, want die voggies van Bacchus loop soos ‘n rivierstroom. Dit klets en skinder en lag vulgêr-uitbundig. Vanaand is die arme drommels wat dit nie kan bekostig om deel van hierdie elite groep te wees nie, onder bespreking. Daar word gespot oor hulle klere en hoe hulle lyk. Een vertel met groot smaak hoe sy haar string huisbediendes onder haar duim het. Hulle moet letterlik voor haar kruip. Die dames skater van die lag oor die arme miserabele mense! Dan kom die skok: Die wyn is op! “Bring nog wyn ou man!” word die gasheer beveel, “Toe, toe, maak gou - ons het nie heel aand tyd nie!”

“Hy is soos klei in my hande,” fluister die gasvrou met ‘n knipoog sodra haar man sy rug draai, en die ander giggel onbedaarlik.

Klink dit miskien na ‘n moderne henne-aand in een van ons ryk voorstede? Nee, jy dink verkeerd: dit was moontlik hoe dit gegaan het as die skatryk vroue van Israel die slag bymekaargekom het, sowat 3000 jaar gelede. Amos het dit gesien, en dit het hom (en die Here) gegrief, want dit het van die hele sosiale struktuur van die volk van God ‘n bespotting gemaak. “Hulle lewe soos die koeie van Basan,” beskryf hy hulle lewenswyse. Dit was eintlik bedoel om ‘n kompliment te wees, want Basan was ‘n baie vrugbare streek, en die koeie het lekker vet geword op die groen weivelde. Om soos ‘n koei in Basan te leef, was om baie lekker te leef. Vandag sou ek natuurlik baie huiwer om so ‘n kompliment vir ‘n vrou te gee, ek mag dalk net ‘n oorveeg kry!

Die welgestelde dames van Israel het inderdaad ‘n luilekker lewe gehad, gebaai in oorvloed en uitspattige luuksheid. Hulle het ‘n onversadigbare drang gehad na meer en meer, en dit het gemaak dat hulle hulle mans tot die uiterste toe gedryf het om nog meer geld te maak en vir hulle nóg welvaart te bekom. Hulle lewens was die toonbeeld van selfgerigtheid. Die ganse wêreld het net om háár gedraai! En natuurlik haar ewe-ryk vriendinne.

Die probleem was dat dit nie net iets was wat die ryk vroue geraak het nie, want in hulle hoogverhewe status het hulle neergesien op die “minderes,” die arme swakkes wat nooit hulle hoogtes sou bereik nie. Daardie mense is vertrap en mishandel sodat Mevrou goed en hoog kon voel. Boonop is hulle mans waarskynlik tot korrupsie gedryf om Vroulief se honger na nog meer luukshede te probeer versadig!

Amos kondig die Here se oordeel aan oor hierdie vroue. Genoeg is genoeg! Hulle sal soos met ysterhake uit hulle welvaartsparadys weggeskeur word, en soos diere (die koeie van Basan?) uit die stad uitgejaag en aangedryf word. Bitter on-vroulik sal hulle gedryf word om oor die rommelhope, wat eens op ‘n tyd pragtige stadsmure was, te klouter, om die res van hulle lewens in ballingskap en gure omstandighede deur te bring. Omdraaikans en rus is daar nie, want agter hulle por die soldate van die vyand hulle aan met wrede haakdorings. Hulle sondes het hulle uiteindelik ingehaal.....

Die geskiedenis herhaal homself. Amos se profesie laat jou nogal dink aan die Franse Rewolusie, toe die stinkrykes wat in die grootste weelde geleef het en die armes bitterlik uitgebuit het, uiteindelik soos diere uitgedryf is en een-vir-een onder groot gejuig hulle koppe verloor het onder die valbyl.

En vandag word dieselfde geskiedenis vir die sóveelste keer herhaal. Skatryk dames (vandag praat ons nie met die manne nie) wat doodverveeld is en niks anders het om te doen nie, as om partytjie op partytjie deur te klets en hulle te buite gaan aan eksotiese drankies en te skinder en ander bespotlik te maak. Daar word onder mekaar gespog oor hulle ontwerpersklere, en die een wat die duurste rok kan dra (natuurlik met die minste materiaal!) is die heldin van die aand. Soos in Amos se dae word die arme mans gedryf tot breekpunt, en dikwels korrupsie, om te kan voorsien in haar peperduur smaak. Hulle huisbediendes word uitgebuit om vir ‘n hongerloon te swoeg, en dikwels loop hulle onder Mevrou se skerp tong deur. En in die proses om geld te maak, kos dit dikwels dat haar man ander in die modder in moet trap om Vroulief gelukkig te hou.

Dit is nie net die skatrykes wat so lewe nie. Baie van hierdie dinge kom ook na vore in die alledaagse lewe, selfs in die huise van sommige gelowiges. My innige gebed is dat die vroue van Suid-Afrika wat so ‘n uitspattige lewe lei, tot besinning sal kom, en eerder die geld en energie wat hulle in hulle wilde partytjies insit, sal gebruik om die lewe van armes en verdruktes meer draaglik te maak. Een enkele partytjie kan dikwels betaal vir ‘n huis, of dalk twee of drie, vir iemand wat in haglike omstandighede leef!

Gebed:

Here, ek bid vandag vir die vroue van ons land. Ek bid dat diegene wat so ver afgedwaal het sal terugkeer na U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026