Die Einde?

6 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Einde?

2 Petrus 3:10-18

VIDEO * OUDIO

Desember 2012 - die einde van die wêreld - só het die doemprofete dit voorspel! Die Maya-kalender stop daar, en daarna is daar niks meer nie. Desember 2012 het stadig nader gekruip, en met ‘n groot beklemming om die hart het baie mense die einde afgewag. Die een of ander sterrekenner het beweer dat daar ‘n “onsigbare” planeet met die naam “Wormwood” was wat baie naby die aarde verby sou gaan. Dit sou in Desember 2012 naby genoeg aan die aarde wees om die aarde se swaartekrag totaal te ontwrig en totale chaos te veroorsaak. Toe hy gevra is waarom daar dan geen waarskuwing van die sterrekundiges is nie, was sy antwoord dat almal die dood voor die oë gesweer is om stil te bly, want dit sal paniek veroorsaak.

Desember 2012 het gekom en gegaan, tien jaar gelede al, en niks het gebeur nie!

Kan ons enigiets glo van hierdie soort voorspellings? Daar was al talle soortgelyke gevalle, soos byvoorbeeld die paniek van 2000. Jesus se uitspraak hieroor was dat nie eers die engele weet wanneer die wederkoms is nie! Slegs God weet. Dit sal totaal onverwags kom, en dit sal baie groter wees as daardie katastrofe waarvan die doemprofete praat.

Petrus sê dat die wederkoms sal gebeur wanneer ons dit die minste verwag, soos wat ‘n dief in die nag toeslaan. En dan gaan alles soos ons dit vandag ken vernietig word. Alles sal letterlik in ‘n wolkie rook verdwyn.

Ons natuurlike reaksie is: “Maar dit kan mos nie! Kyk dan die wonderlike skepping! Alles is so volmaak en mooi! Hoe kan God dit sommer vernietig?”

‘n Mens klou nostalgies vas aan sekere dinge wat vir jou groot sentimentele waarde het. Nogtans is alles so verskriklik verganklik. ‘n Dokumentêr oor koraalriwwe het ‘n beklemming om my hart gesit toe ek sien hoe reuse koraalriwwe besig is om totaal tot niet te gaan as gevolg van klimaatsverandering. Die eens kleurvolle koraal wat lewe verskaf aan miljoene der miljoene seediere, is nou grys en dood, en bitter min seediere kom nog daarheen. Ons is besig om ons planeet te versmoor met ons besoedeling, en oral waar jy kyk sien jy die vrugte daarvan, of ten minste die gebrek aan die vrugte! Dit is nie net die see wat besig is om plek-plek dood te gaan nie, maar op land sien ons dit ook. Die vernietigende vloede die afgelope jaar het net weereens gewys hoe verganklik alles is. En dit raak al erger!

Dan is daar ook die groot kommer in ‘n mens se hart oor die pragtige woude wat besig is om te verdwyn as gevolg van die mens se honger na hout. En die vleilande wat vernietig word en ons riviere en damme wat vergiftig word deur mynbedrywighede en riool. Gedurig word ons gedreig met dinge soos hidrobreking, gasontginning aan die kus, nuwe steenkoolmyne reg langs wildreservate ens.

Nogtans is dit vir die gelowige nie alles verlore nie. Tydens die Wederkoms gaan alles totaal vernietig word, verbrand word tot as, en in die plek daarvan gaan ‘n splinternuwe hemel en aarde geskep word. Romeine 8:18-23 beskryf dit so mooi as ‘n geboorteproses wat gepaardgaan met pyn en angs, maar die uiteinde is die wonder van ‘n nuwe lewetjie! Die nuwe word as’t ware uit die oue gebore!

Ons moet onthou dat daar baie meer in die lewe is as die mooi natuurskoon en die verganklike skepping. Hierdie is tydelike dinge. Die belangrike is die dinge van ewigheidswaarde, wat nooit, óóit sal vergaan nie. Dit is daarom dat Petrus ons vermaan om “vlekkeloos en onberispelik” te lewe. Ai! Dit voel na so ‘n absoluut-onbereikbare ideaal. Geen mens kan óóit sodanig lewe nie, en daarom is baie gelowiges bang vir Jesus se wederkoms.

Dit is egter hiér waar jy jou geloof vir jou moet laat werk, want ons moet besef dat ons vlekkeloosheid en onberispelikheid in die eerste plek van Jesus afhang. Dit is immers Jésus wat vir ons sondes betaal het, en as ons hierdie feit in geloof aanvaar, kan ons vir ewig in vrede met God leef. Uit dankbaarheid hiervoor gaan ons dan nie maar net agteroor sit nie, maar toelaat dat die krag van die Heilige Gees deur ons werk om ons vroom aan God toe te wy. En ons doen dit met al hoe meer ywer omdat ons sien dat die dag van Jesus se wederkoms al hoe nader kom.

Ons het gesien hoe Petrus klem lê op goeie werke. Ons weet ook hoe Paulus klem lê op genade alleen. As jy die bogemelde paragraaf in gedagte hou, dan hoef hierdie twee denkrigtings nooit vir jou ‘n teenstrydigheid te wees nie, want dit kan net eenvoudig nie anders nie as dat ware geloof in die genade jou tot dade beweeg .

Petrus sluit sy brief af deur te sê dat, deur te groei in jou geloofskennis van Jesus, jy toegerus sal wees om vas te staan in jou verwagting van sy terugkeer. Ja, só sal jy Jesus se Naam verheerlik, nie alleen nou nie, maar ook wanneer Hy terugkom, en jy jou heerlike erfenis ontvang!

Gebed:

Here, gee my asseblief die krag en ywer om só te leef dat ek enige oomblik gereed is vir U koms.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026