Openbaring 12
Nadat Michael die draak verslaan het, het ‘n stem vanuit die hemel uit volle bors ‘n loflied gesing tot eer van die Lam. Dit is ‘n lied van versoening. Dit sing van God wat redding bring, Sy mag en koningskap en oor die gesag van sy Gesalfde, Jesus Christus die Messias. Daar is ‘n groot oorwinning behaal deur die bloedoffer van die Lam. Daardeur het God en die Lam se koningskap sigbaar geword, en is die Satan oorwin. Die gelowiges juig, want Satan is uit die hemel gegooi. In vers 7 lees ons hoedat die engel Michael en sy engel-soldate oorlog gevoer het teen die draak (Satan) en sy engele wat saam met hom teen God in opstand gekom het. Satan is verslaan en hy en sy gevolg is uit die hemel gegooi.
Die stem uit die hemel jubel in sy loflied dat almal in die hemel oorstelp is van vreugde omdat Satan nou nie meer daar is nie. Maar in dieselfde asem kry hy die bewoners van die aarde bitter jammer, want Satan het na die aarde gekom, en hy is woedend oor wat met hom gebeur het. Nou haal hy dit uit op die bewoners van die aarde.
Die oorwonne Satan wat in die hemel die onderspit gedelf het, is steeds baie bedrywig hier op die aarde, en sy lis en venyn is hier baie duidelik sigbaar, want hy probeer sy bes om sy nederlaag in die hemel te wreek deur gelowiges (dis nou die kerk) te teister. Dit is net natuurlik dat hy ál sy verlore aansien wil herwin. Ongelukkig vir hom, besef hy dat sy tydjie baie kort begin raak, en hoe nader dit aan die einde kom, hoe feller is sy aanslag op die kerk.
Inderdaad sê die stem uit die hemel dan ook dat Satan deeglik besef dat sy tyd bitter min geword het, en juis dáárom probeer hy nou elke moontlike ding om die mensdom te verlei.
Ek dink nie dat ons werklik die implikasies hiervan besef nie. Aan die een kant is ons maar ál te bewus van die aanslae van die duiwel, en soms voel dit selfs vir ons asof God nie vir ons omgee nie, want ons sien net al hierdie geweld, misdaad, losbandigheid en bloedvergieting rondom ons, alles die werk van die duiwel. Die goeie nuus is egter dat dit alles net tydelik is, en dat daar alreeds ‘n plek is wat skoongemaak is. Boonop is dáár nie eers meer ‘n teken van die duiwel nie. Wat ‘n wonderlike gedagte! Hoe wonderlik sou dit nie wees om te kan leef in ‘n wêreld waar daar geen sonde, misdaad, oorlog, moord, haat, vyandskap ens. is nie.
Dit mag dalk klink na ‘n onmoontlike versugting, maar daardie plek bestaan alreeds! Sien, God het reeds die duiwel en al sy aanhangers, waarvan daar ‘n legioen is, uit die hemel gesmyt, en daar is dit nou skoon. Dit is soos om ‘n vuil huis in te stap, en van ‘n kant af skoon te maak. ‘n Mens maak nie al die vertrekke gelyk skoon nie, maar jy werk dit van een kant af, en agter jou los jy ‘n sprankelende vertrek. Uiteindelik sal die hele huis silwerskoon wees. Hier op die aarde is dit nog vieslik vuil, maar uiteindelik gaan dit ook hier sprankelend skoon wees. Die groot skoonmaak is nou nie meer ver nie!
In vers 13 tot 17 lees ons dat die draak drie dinge doen om die kerk te probeer vernietig. Eerstens agtervolg hy die vrou. Dit herinner jou aan die uittog van Israel uit Egipte, toe die Farao die volk wou vernietig. Dit het met hulle swaar gegaan, maar God het hulle die woestyn ingelei en hulle gered. God gee aan die vrou, oftewel die kerk arendsvlerke om na die woestyn te vlug. Dit is simbolies van God se uitredding. Daar in die woestyn, waar hulp slegs van Bo kan kom, versorg God haar. Hierin sien ons God se versorging van die kerk in die tyd van verdrukking.
Die tweede ding wat die draak doen, is om ‘n stroom water agter die vrou aan te spoeg om haar mee te sleur. Maar die aarde sluk die rivier van verskrikking in. God kom sy kerk telkens tot hulp en red en verlos waar dit nodig mag wees. Ons sien dit duidelik in lande waar die kerk wreed vervolg word. Talle verhale wat jou verstom laat staan, speel daar af. Telkens sien ons hoedat God die kerk bewaar, ten spyte van magte wat die kerk probeer uitwis. Inderdaad is die lis van die bose groot, maar God is soveel groter, en Hy gee die bose net beperkte beweegruimte.
Derdens maak die draak oorlog teen die vrou se nakomelinge. Dit verwys na Christene in die algemeen. Hy is woedend, want hy kan nie hond haaraf maak met die kerk nie. Hy kry op sy eie nie veel reg nie, en eintlik voer hy ‘n verlore stryd! Daarom gaan soek hy hulp by die “dier uit die see en die dier uit die aarde”. Hy gaan wag sy bose trawante in op die seestrand om hom te kom help met sy bose stryd teen die gelowiges.
Maar hier moet ons eers halt roep vir die dag. More sien ons DV wat verder gebeur in hierdie spannende drama!
Gebed:
Genadige Vader, ons harte loop oor van dankbaarheid, want ons het vanoggend die versekering dat U steeds in beheer is, en dat U elke aanval van die duiwel teen ons afweer en ons, U kinders beskerm.