Die Doringbos wat Brand

5 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Doringbos wat Brand

Eksodus 3:1-7

???? VIDEO | ???? OUDIO

Moses, die Egiptiese prins pas skape op in die woestyn? Inderdaad! En baie jare later sien ons die grootste koning in die geskiedenis van Israel, Dawid, waar hy óók skape oppas in die amper-woestyn van Betlehem. Selfs Moses se groot-oupa Jakob, die vader van die volk Israel moes skape oppas vir sy skoonpa! ‘n Nederige werk! Maar dit is nie al nie: Wanneer Jesus, die Seun van God na die aarde neerdaal, beskryf Hy Homself as ‘n Herder, ‘n Skaapwagter en later gee Hy dan ook aan Petrus die opdrag om te gaan “skape oppas!”

Wat is dit aan hierdie nederige beroep dat dit verbind word aan die héél grootste name in die geskiedenis? Is dit dalk júís omdat jy daar in die eensaamheid van die veld baie naby aan God kom? Dink maar aan die mooiste van die Psalms wat deur Dawid geskryf is - Die Here is my Herder......

Inderdaad het Moses se skaap-oppas hom baie naby aan God gebring - baie nader as wat hy óóit sou kon droom!

Alles het begin toe Moses met sy skoonpa se kleinvee moes trek tot baie diep in die woestyn in om vir hulle genoeg weiding te kry, al die pad tot by die berg Horeb. Dis terloops dieselfde berg wat later Sinai genoem word. En as jy dalk gewonder het waarom Moses se skoonpa in Eks. 2 Reüel genoem word en in Eks. 3 Jetro - hy het waarskynlik meer as een naam gehad, nes Petrus en Simon dieselfde persoon was.

Jy sal onthou dat ons in die vorige dagstukkie genoem het dat die Israeliete “gekreun en gesug” het in Egipte. Hulle het bitter swaar gekry, en God het gehoor gegee aan hulle sugte en besluit om hulle te red.

God se tyd en metodes werk egter anders as ons s'n. Ons sou dadelik 'n taakspan aangestel het om hulle te gaan red en die generaal in beheer sou alles in rep en roer hê om die reddingspoging te organiseer.

Hier sien ons egter dat die groot leier wat die volk Israel moet red, rustig in die woestyn rondswerf, sonder ‘n sorg in die lewe besig om skape op te pas! Later sien ons dit telkemale dat groot leiers eers in die eensaamheid van die woestyn afgesonder word vir lang tydperke voor hulle groot taak. Selfs Jesus moes hierdeur gaan!

En dan gebeur dit: Terwyl Moses by sy skape sit aan die voet van die berg Horeb, merk hy ‘n eienaardige verskynsel op - ‘n doringbos wat brand. Die bos wat brand was nie soseer snaaks nie, maar toe dit na ‘n lang ruk nog steeds brand en nie uitgebrand raak nie, begin Moses snuf in die neus kry. Nuuskierig om te sien wat hier aan die gang is, bestyg hy die berg. En dan, as hy naby die bos kom, skrik Moses hom yskoud as ‘n stem uit die bos hom aanspreek.

In Gen 3:2 lees ons: "Daar het die Engel van die Here aan hom verskyn in 'n vuur wat uit 'n doringbos opvlam." Wie is hierdie “Engel?” Natuurlik God sélf! Sommige teoloë reken dat dit die Tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid - die Seun (Jesus) is. Later sien ons weer (in Eksodus 14:19) dat “die Engel van die Here” die Israeliete beskerm het tydens die uittog. Weereens is dit nie ‘n engel nie, maar God Sélf.

Maar terug by Moses: God verskyn hoorbaar en sigbaar aan die man, nie in ‘n heilige tempel nie maar iewers in die veld. En ook nie aan ‘n gewyde priester of heilige persoon nie, maar aan ‘n voortvlugtende moordenaar. God se optrede word baie beslis nie deur mense of omstandighede bepaal nie!

God se oorweldigende teenwoordigheid verander die stof en klippe van die Midean woestyn in ‘n heiligdom en Moses kry die bevel om sy skoene uit te trek. So oorweldigend is die teenwoordigheid van God, dat Moses sy gesig toemaak. Hy is te bang om die heiligheid van God te aanskou.

Dan stel God Homself aan Moses bekend: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Dan sê God vir Moses: “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien.” Hy verduidelik dat Hy afgekom het om hulle te red en dat Hy hom, Moses wil gebruik om die reddingsdaad uit te voer.

In die eerste twee hoofstukke van Eksodus word die Naam van God nie eers gemeld nie. En dan wonder jy: Waar is God dan te midde van al die swaarkry. En skielik, op ‘n oomblik wanneer jy dit gladnie verwag nie, verskyn God, oorweldigend - asemrowend!

Het jy dit nie al in jou eie lewe ervaar nie? Ek het! Wanneer jy die dag begin dink dat God van jou en jou ellende vergeet het, dan verskyn Hy op ‘n verrassende en dikwels oorweldigende wyse wanneer jy dit die minste verwag. Nee, Hy is nooit weg nie en Hy vergeet nie van jou nie. Maar God se tyd is anders as ons s’n. Dit moet ons besef. Ons kan nie aan Hom voorskryf nie.

Gebed:

Here, dankie dat ons uit die verhaal van Moses kan leer dat U nooit van ons vergeet nie - dat U altyd daar is, en dat U ‘n plan het vir ons lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026