Romeine 3:1-8
Mense het my al dikwels die vraag gevra, of ’n persoon wat nie gedoop is nie nog gered kan wees? Op ‘n geleentheid het ‘n pastoor dit vir my baie duidelik gestel dat iemand wat nie groot gedoop is nie, beslis nie die binnekant van die hemelpoorte sal sien nie! Dit is ‘n baie gevaarlike terrein waarop ek my vanoggend begeef, want as ons eers begin stry oor groot doop, babadoop, besprinkeling en onderdompeling, dan is daar groot meningsverskille. Omdat dit nie duidelik in die Bybel uitgespel word nie, baseer elkeen sy redenasies volgens wat afgelei kan word van sekere gebeure en uitsprake en elkeen kan “bewys” dat sy redenasie waterdig is. Jy sal my verskoon as ek nie vanoggend ‘n standpunt gaan inneem ten gunste van die een of ander nie. Die doel van hierdie dagstukkies is net eenvoudig nie om “kerk” te preek nie. My “gemeente” bestaan uit Gatjieponders, Baptiste, AGS, Doppers, Vollies en nog baie meer, en ek kan nie bekostig om een enkele “lidmaat” te verloor deur ‘n gestry oor die doop of énige ander kwessie waaroor ons nie kan saamstem nie. Daar is egter sekere dinge ten opsigte van die doop waaroor daar geen twyfel is nie en dáároor gaan ons gesels.
Ons het gesien uit die vorige gedeeltes dat Paulus reken dat die uiterlike dinge waarop die Jode so vertrou het soos die Besnydenis en die besit van die wet, op sigself totaal waardeloos is en dat dit beslis nie deel uitmaak van ‘n toegewyde verhouding met God nie. Maar is hulle werklik waardeloos? Eintlik nie want hulle is tekens wat heenwys na iets uiters belangrik, naamlik God se verbond.
Jou doop is ook so ‘n verbondsteken en jy mag daardie verbondsteken nie minag nie. Alhoewel die doop op sigself niemand kan red nie, is dit géénsins waardeloos nie want dit wys op iets baie belangrik: God het jou gekies om in ‘n verhouding met Hom te staan. Die hele wese en troos van hierdie verhouding lê daarin dat God getrou is, al is jy self dalk ontrou. Alles kom neer op één ding: GENADE! Hy het Hom in Sy genade aan jou verbind en hiervan is jou doop ‘n teken om te sê dat God getrou is aan Sy verbond.
Natuurlik is daar vir jou ook iets in om te doen: uit dankbaarheid is dit jou plig sowel as voorreg om meer uit te vind omtrent hierdie genadedaad van God. Namate jy dan God se troue liefde teenoor jou begin ontdek, begin daar ‘n intieme persoonlike verhouding ontstaan met Hom. Eers dán begin jy die volle waarde en wonderlike versekering van hierdie verbondsverhouding met Hom wáárlik besef. Wanneer dit die dag gebeur, kom die uitwendige teken van die doop eers waarlik INWENDIG tot sy reg!
Die blote feit dat jy gedoop is, maak nie saak hóé jy gedoop is nie, maak jou nie beter as enige ander persoon nie. Boonop beteken dit ook nie outomaties dat jy gered is nie. Die groot waarde van die doop is in die eerste plek om jou te herinner aan die getrouheid van God.
Dit is egter nie net die doop wat ‘n persoonlike verhouding met God sigbaar maak nie. Inderdaad roep Hy ook mense wat gladnie eers gedoop is nie na Hom toe! God se roeping tot ‘n persoonlike lewe word veral sigbaar deur kennis van Hom. Hierdie dagstukkie aan jou is ‘n voorbeeld van God se handeling met jou. Die Jode het die Ou Testament gehad. God het dit aan hulle toevertrou en Hy wou hê dat hulle dit moes lees en uitleef. Vandag het ons die Bybel. God het ook dít aan ons toevertrou. Om die Bybel bloot mooi op te pas en veilig te bêre, is van géén waarde nie. Die waarde van die Bybel lê juis daarin dat ons moet lees wat daarin staan, doen wat dit van ons vra en die boodskap wat daarin opgesluit is met ander deel!
Die vraag is vanoggend: wat maak jy met die kennis wat God binne jou bereik bring? Wat maak jy met jou Bybel? Laat jy enigsins toe dat dít wat in die Bybel opgeteken is jou lei tot ‘n toegewyde verhouding met God? Ek dink nie ons besef watter voorreg dit is om ‘n Bybel in ons eie taal te kan besit nie. My oupa en ouma moes die Bybel in Hooghollands lees en my pa en ma was albei al tieners voordat hulle vir die eerste keer die Bybel in Afrikaans, hulle eie moedertaal kon lees. Hulle moes worstel deur die Bybel in ‘n taal wat hulle self nie mooi verstaan het nie. Om dus te kan verstaan wat jy lees is ‘n wonderlike voorreg. Dit help egter niks as Bybellees ‘n blote roetine is nie. Dit móét lei tot ‘n oorgegewe en gehoorsame verhouding met die lewende God.
Om te besef dat God getrou en genadig is, bring vir ons ‘n hemelse vreugde. Dit kan egter ook lei tot ‘n drogredenasie dat God tóg liefde is en dat jy maar kan sonde pleeg soos jy wil, want God sal jou tóg mos vergewe! Paulus skryf in vers 5-8 dat dit ‘n dwaling is en dat jy baie goed moet besef dat God heilig is en dat Hy nie sonde kan verdra nie. Moenie vir God uittart nie!
Gebed:
Dankie vir U groot, groot genade oor my Here, dat U vir my die doop gegee het om my aan U liefde te herinner, en dat ek ‘n Bybel het om my van U te leer. Help my asseblief om U wonderbare liefde elke dag uit te leef!