Die Dier uit die Aarde

17 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Dier uit die Aarde

Openbaring 13:11-18

Is ek baie slim om al hierdie ingewikkelde visioene van Openbaring so goed te kan verstaan? Nee, inderdaad nie! My kennis kry ek uit gesagvolle kommentare. Ek maak veral gebruik van die uitleg van die Bybellennium, aangesien dit nie die siening van ‘n enkele persoon is nie, maar ‘n hele aantal geleerdes wat saamgewerk het, elkeen ‘n groot gesag op sy eie gebied. Hulle het baie navorsing oor die studieveld gedoen. Ek wil ook weereens beklemtoon dat hierdie ‘n oordenking is, en nie ‘n volledige Bybelstudie van die gedeelte nie. Daarvoor moet jy ‘n studieboek gebruik wat spesifiek ‘n Bybelstudie oor Openbaring doen.

Volgens die Joodse mitologie sou God twee seemonsters op die vyfde skeppingsdag gemaak het. Die Leviatan, die vroulike monster, het in die see gebly. Behemot was die manlike monster, en hy het in die woestyn gaan woon. Die Jode het geglo dat hierdie twee monsters te voorskyn sou kom nadat die Messias bekend gemaak is. Is dit nie interessant hoe hierdie mitologie ooreenstem met die diere wat Johannes sien nie?

Ons het gister gesien dat die dier uit die see die Romeinse ryk versinnebeeld. Die dier uit die aarde is die vals profeet. Hy kan dus die kultus van keiserverering in die Romeinse tyd verteenwoordig. Hierdie kultus word deur die priesters van die keiserverering bedien.

Ons merk dat die dier uit die aarde die Lam probeer naboots, maar hy is tog onmiskenbaar verbind met die draak. Net soos wat die Heilige Gees die gelowiges besiel om in diens van Christus te staan, so oorreed hierdie dier die goddeloses om die dier uit die see, die Antichris oftewel die Romeinse Ryk te aanbid. Die dier uit die aarde het horings soos die Lam, maar hy praat soos ‘n draak. Hy wil dus maak asof hy lieflik saggeaard en onskadelik is, maar hy gebruik intussen bose taal om mense te verlei.

Ons sou dus kon sê dat die vals profeet die godsdienstige arm is wat die staatkundige mag van die antichris propageer. Die dier uit die see gee aan die dier uit die aarde die mag om mense te verlei om die dier uit die see te aanbid. Daar word ‘n beeld opgerig van die dier uit die see, en hierdie beeld word lewendig. Dit beteken dat daar beelde opgerig is van die keisers, en dan word daar geoffer aan die gode ten gunste van die keiser. Dink maar byvoorbeeld hoe die gehate Nero by so ‘n prentjie inpas, en die verskriklike aanslag en vervolging wat hy gedoen het op alle gelowiges.

Elkeen wat die dier aanbid, kry ‘n merk op die regterhand of op die voorkop. Die merk op die regterhand simboliseer dat jou werkvermoë beïnvloed is, en dié aan jou voorkop, dat jou denkvermoë geaffekteer is.

Die getal 666 word genoem as die getal van die naam van die dier. In antieke tye is syferwaardes toegeken aan die letters van die alfabet, en jou naam kon dus as ‘n syferwaarde uitgedruk word. Die getal vir Jesus is byvoorbeeld 888. Dit is interessant dat die naam van keiser Nero in Aramese letters (Johannes se moedertaal) die getal 666 oplewer.

Daar is ‘n interessante siening oor die getal 666 - “die getal van ‘n mens” (Op. 13:18). Die getal 7 is die volmaakte getal, en die getal 666 streef daarna om hierdie volmaakte getal van God te bereik, maar vir hom is dit onmoontlik.

Wat sê al hierdie inligting vandag vir my en jou? Natúúrlik kan ons dit ook in ‘n toekomsperspektief sien. Satan is baie slinks, en hy maak gebruik van kamoefleringstaktieke om mense te verlei. Soos hierdie tweede dier, kry hy dikwels die voorkoms van die Lam, wat van die gelowige deurdagte wysheid vra om ‘n onderskeid te maak. Dikwels hou hy selfs die motief van godsdiens voor om jou te verlei.

Daar is talle kultiese godsdiensgroepe wat selfs die Naam van Jesus opneem in hulle geloofsbelydenis, maar die wortel van hulle godsdiens lê diep gesetel in die duiwel. As jy eers in hulle web vasgevang is, is dit klaarpraat, en jy ontsnap nie maklik nie! Enkele voorbeelde hiervan is Christian Scientology, waar Jesus gesien word as slegs een van vele goeie “leermeesters”. New Age, waar alle gelowe omarm word, en deel uitmaak van die groter geheel, ook die Christelike Godsdiens. Die tradisionele Afrika Godsdienste staan dikwels onder die naam van ’n Christelike kerk, en erken selfs vir Jesus as Verlosser, maar saam daarmee aanbid hulle terselfdertyd ook die voorvadergeeste. Die nuutste is natuurlik die Nuwe Hervormers, wat baie van die basiese Skrifwaarhede betwyfel. Hulle is almal deel van die valse profeet, die Dier uit die Land. In hierdie laaste dae moet ons soveel te meer die oog gevestig hou op Jesus, die ware Lam van God.

Gebed:

Here Jesus, hou asseblief vandag my hand styf vas sodat ek nie afdwaal van U kudde nie. Hou my oog helder sodat ek die vals profeet sal herken. U alleen wil ek aanbid!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026