Die Bruilof van die Lam

2 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Bruilof van die Lam

Openbaring 19:1-10

“Pa, hy het my gevra om met hom te trou!” Een enkele sinnetjie van my dogter, Anita het reuse nagevolge! Sommer dadelik begin die beplanning. Die regte plek moet gevind word vir die onthaal, ‘n tema, ‘n koek moet ontwerp word, ‘n begroting moet opgestel word. Ek raak lam in die kniëe! Maar die opgewondenheid is GROOT!

Skoondogter Claudette neem genadiglik die beplanning oor. Vergaderings word gehou tot in die middernagtelike ure, en elke moontlike en onmoontlike moontlikheid word bekyk, bepeins, bedink, be-droom en die opgewondenheid raak al groter. Haar rok - daar móét blink steentjies en pêreltjies op wees, en natúúrlik moet dit skitterwit wees - so hoort dit mos!

Om ‘n plek te kry om die onthaal te hou is absoluut ‘n nagmerrie. Hierdie plek is nie goed genoeg nie, dáárdie een te duur, die ander een te ver en ‘n ander is sommer jiggie! Uiteindelik kry ons een, maar daar is sommer baie tekortkominge. Die plek is oud en vervalle, maar met baie potensiaal. Met goeie beplanning en baie sweet kan dit mooi genoeg gemaak word vir ‘n sprokieshuwelik!

Hoe nader die groot dag kom, hoe groter raak die opgewondenheid, en hoe meer hardloop almal heen en weer om alles betyds gereed te kry. En hoe leër raak my sak!

Ten einde laaste breek die dag tóg aan, en almal se senuwees is gedaan. Die bruidjie tree na vore en na ‘n volle halwe dag se mooimaak, optof, hare doen en tittewyt, snak almal na hulle asems: So mooi het sy nog nooit gelyk nie! Stralend van blydskap en opgewondenheid, getooi in ‘n spierwit rok met blink steentjies en pêreltjies wat skitter in die helder sonlig, verskyn sy.

‘n Stokou model A Fordjie is die troukar. Ek klim langs haar in op die agtersitplek. So ver as wat ons ry klap die skares langs die strate vir ons hande, toeters blaas en honde blaf histeries! By die ingang van die landgoed waar die onthaal gehou word, klim ons oor op ‘n perdekar. Die laaste entjie kom die bruid en haar breëbors pa (dis nou ekke!) met ‘n spoggerige spaaider en twee trotse perde, kompleet met die drywer getooi in pluiskeil en manel, ingetrippel tot by die opgewonde wagtende skare.

Die huwelik het uiteindelik aangebreek!

Openbaring 19 begin met ‘n lofsang van ‘n groot menigte wat uit die Hemel opstyg: “Loof die Here!” Die vreugde in die Hemel is groot, want God se oordeel het die bose stad getref, en al die verskriklike dinge wat die stad die gelowiges aangedoen het, is vergeld. God se oordeelsvoltrekking is nie uit persoonlike wraak aangevuur nie maar omdat Hy regverdig en reg is. Geregtigheid het uiteindelik geseëvier. “Prys die Here!”

En dan hoor Johannes ‘n groot gedruis, soos ’n groot watermassa, donderend, druisend - ‘n reuse skare mense wat baie opgewonde is. “Prys die Here! Prys die Here!” jubel die skare. Waaroor is almal dan so opgewonde? Die bruilof van die Lam het aangebreek!

In talle plekke in die Bybel word die verhouding tussen God en Sy volk as ‘n huwelik beskryf. In die Ou Testament word Israel as die vrou in die huwelik beskryf, en keer op keer is sy ontrou. In die Nuwe Testament is Christus die Bruidegom en die kerk, oftewel die gelowiges die bruid. Volgens huweliksgebruike in Israel gaan die bruidegom eers na die bruid se huis toe om haar te gaan haal, en dan vertrek hulle saam na die bruidegom se huis, waar die bruilofsfees dan plaasvind.

In hierdie lig gesien, wag ons as die bruid van die Lam opgewonde vir die Bruidegom, Christus, om ons te kom haal en saam te neem na die groot bruilofsfees in die Hemel. Is dit nie ‘n pragtige beeld nie? Die bruid (ek en jy) het die allermooiste trouklere aan, fyn, spierwit en helderblink. O, verséker is dit nie ons natuurlike klere nie, want dié is vieslik vuil en pers gevlek van die sonde, maar hierdie nuwe klere wat ons nou dra is spierwit-skoon gewas in die kosbare bloed van die Lam.

Watter bruidjie se are bruis nie van afwagting op daardie dag waar die minute stadig aftik vir die groot oomblik nie? My meisiekind was so opgewonde dat jy kon toor met haar! Ek en jy behoort óók al só opgewonde te wees, want die Bruidegom is al op pad om ons te kom haal. Wanneer Hy presies hier gaan wees, weet ons nie, maar ek kan al die skare hoor borrel van opgewondenheid in die verte!

Die groot vraag is of ons al gereed is. As Hy, die Bruidegom, nou hier sou opdaag - het jy klaar jou helderwit klere aan, en is jy gereed om te gaan? Alleen húlle wat Jesus as Verlosser aangeneem het is deel van die bruid. As jy dit nog nie gedoen het nie, het jy geen deel aan die bruilof nie. Dalk is vandag die regte tyd om daardie stap te neem.

Gebed:

Here, die opgewondenheid bruis in my, want ek wéét ek is deel van die bruid van die Lam, en ek sien met groot afwagting uit na daardie dag van die groot bruilofsfees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026