Lukas 20:9-19
Terwyl Jesus in Jerusalem in angs gewag het op Sy naderende teregstelling, het Hy nie op ‘n hopie gaan sit en jammer voel vir Homself nie. Nee, Hy het elke oomblik aangegryp om die groot skares mense wat steeds by die tempel om Hom saamgedrom het, te leer. En ja, die Fariseërs en Skrifgeleerdes was ook daar, maar hulle was teenwoordig met ‘n verskuilde agenda. Hulle wou op Hom spioeneer, en hulle het desperaat gesoek vir iets wat Hy sou sê of doen wat hulle kon gebruik as getuienis teen Hom om Hom te laat doodmaak.
Jesus het dwarsdeur hierdie huigelaars gesien, en toe vertel Hy hierdie gelykenis wat eintlik direk op hulle gemik was. Hy vertel van die grondeienaar wat ‘n wingerd uitverhuur het aan boere en toe vertrek hy iewers heen, weg van sy eiendom af. Toe oestyd verby was, het hy sy slaaf gestuur om die huurgeld in te vorder, maar die slaaf was mishandel en met leë hande teruggestuur. Die boer het nie moed opgegee nie en ‘n tweede slaaf gestuur. Ook hý was hardhandig met skeltaal van die eiendom afgeboender. Steeds het die eienaar nie moed opgegee nie en ‘n derde slaaf gestuur. Die mishandeling wat die arme slawe verduur het, het elke keer erger en erger geraak, en ook hý het bedroë daarvan afgekom.
Jesus het dit nie direk gesê nie, maar dit is baie duidelik dat Hy daarop gesinspeel het dat hierdie wingerd eintlik die volk Israel is, en dat die grondeienaar God is. Die slawe is natuurlik die talle profete wat deur die eeue na Israel gestuur was deur God. As ons maar deur die geskiedenisboeke van die Ou Testament gaan blaai, dan sal ons baie gou sien hoeveel profete reeds deur God na Sy volk gestuur was, en hoedat hulle keer op keer verwerp was, weggejaag én geslaan was. Blaai ons deur die bladsye van die Nuwe Testament, dan lyk dit nie juis beter nie. Eintlik lyk dit dalk selfs erger! Die arme Johannes die Doper was die eerste slagoffer. Na hom was dit Stefanus, Paulus, Petrus en ‘n streep ander profete!
Die boere het ‘n baie groot fout gemaak toe hulle die eienaar nie meer kon sien nie en toe dink dat hy nie meer seggenskap oor sy eiendom gehad het nie. Die feit is dat selfs al is die eienaar afwesig, bly hy steeds die eienaar van die eiendom. Die blote feit dat die eienaar nie persoonlik teruggekom het nie, het vir die boere steeds die geleentheid gegee om hulle aksies te heroorweeg. Drie maal het die eienaar hulle daardie geleentheid gegee, en drie maal het hulle dit verwerp. Hoeveel maal het God nie vir Irsrael die geleentheid gegee om te heroorweeg nie, maar telkemaal het hulle Hom verwerp!
Toe speel die boer sy troefkaart en stuur sy eie seun om die boere te probeer oorreed. Hulle het hom doodgemaak. Toe Israel nie na die profete wou luister nie, stuur God Sy Seun, en die Jode het Hom doodgemaak. Volgens die reg van daardie tyd het die eienaar volle reg gehad om die boere om die lewe te bring nadat hulle sy slawe mishandel het en sy eiendom misbruik het. Tóg was hy genadig om die grootste offer te waag deur sy seun te stuur. God het die volste reg gehad om Israel van die aarde af te vee, maar Sy genade is so groot, dat Hy selfs bereid was om Sy eie Seun op te offer om die volk nóg ‘n kans te gee. Sy genade word egter vertrap. Sy Seun word wreed om die lewe gebring!
Ons lees dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes presies verstaan het wat Jesus bedoel het met hierdie gelykenis. Hulle het maar ál te goed besef dat hulle die moderne boere was, en dat dit húlle was van wie Jesus gepraat het. Dit was slegs hulle vrees vir die volk wat so aan Jesus se lippe gehang het wat verhoed het dat hulle Hom summier gevange geneem het.
Die agtergrond van hierdie gelykenis het egter nie geëindig nadat Jesus tereggestel is nie. Jesus sê dat die wingerd vir ander mense gegee is. Vandag is daardie einste “ander mense” besig om presies dieselfde te doen. Die talle profete wat God die afgelope 2000 jaar gestuur het, is keer op keer mishandel. Vandag gaan dit steeds voort, en elkeen wat dit durf waag om die Woord van God te verkondig kan verseker wees van teenstand en verwerping en dikwels selfs wrede vervolging. Iemand wat so ‘n profeet verwerp, verwerp in werklikheid vir God. Ja, en dikwels word Jesus, die Seun van God vandag steeds bespot, uitgejou en verwerp. Ons leef steeds in genadetyd, want God het die mensdom steeds nie verdelg nie. Maar genadetyd is vinnig besig om uit te loop. Die uurglas het bitter min sand oor in die boonste bol. Die vraag wat ek myself vandag moet afvra, is of ek absoluut seker is dat ek nie een van die boere is wat vir Jesus verwerp het nie. As ek nie positief vir Hom gekies het nie, dan het ek Hom verwerp.
Jesus stel dit in klokhelder-duidelike taal, dat alhoewel Hy verwerp is, Hy steeds die héél belangrikste is. Hy sê verder dat diegene wat Hom verwerp, verpletter en vermorsel sal word. Moenie dat dit met jou gebeur nie. As jy nog nie vir Hom gekies het nie, is dit nóú die tyd!
Gebed:
Here, dankie vir U groot genade en U groot geduld met ons.