Miga Inleiding
Die een groot vraag oor die Bybel is, wat wil die Here graag by my tuisbring wanneer ek Sy woord lees? Het jy al mooi hieroor gedink? Een moontlike antwoord is, dat die Bybel my wil vertel oor my verhouding met God, met ander woorde, hoe om in die regte verhouding met Hom te kan kom staan. Dit gaan dus oor my geestelike lewe.
Dit is natuurlik nie al waaroor die Bybel gaan nie, en hierdie is maar net gedeeltelik waar, want die Bybel gaan oor baie meer as net my geestelike lewe. Dit gaan oor my totale lewe! Vat byvoorbeeld die boek Hooglied: hierdie boek handel oor jou liefdeslewe. Hooglied is ‘n baie besonderse gedig wat die liefde beskryf tussen ‘n man en vrou.
Die profeet Miga skryf oor die doodgewone, alledaagse dinge van die lewe, daardie goed wat elke dag gebeur by jou werk, daar waar die sakelui besigheid bespreek, slim planne maak en saketransaksies afhandel. Maar in dieselfde asem skryf Miga ook oor God, oor wat Sondagoggend in die erediens gebeur en allerhande geestelike dinge. Wanneer ons Miga begin lees, sien ons hoedat die doodgewone alledaagse dinge verweef is met ons geestelike lewe. Gewone goed word terselfdertyd ook geestelike dinge.
Ek wil so graag my Sondaglewe skei van my Maandaglewe. Sondagoggend sit ek my heilige gesiggie op wanneer ek kerk toe gaan. Maandag by die werk is dit egter ‘n totaal ander prentjie! Miga wil dit by ons tuisbring dat hierdie twee onlosmaaklik inmekaar geweef is.
Die profeet Miga het nie alleen oor die huidige lewe geskryf nie, maar ook oor die toekomstige. Hy waarsku oor God se oordeel maar terselfdertyd vertel hy ook van God se groot genade en vergifnis.
Miga het geleef in ‘n tyd waar konflik en spanning geheers het in Juda en Israel, asook die nasies rondom hulle. Ons moet onthou dat die volk in daardie tyd verdeel was in twee, die Tienstammeryk oftewel Israel, en die Suidryk oftewel Juda. Terselfdertyd het die Assiriese ryk ‘n opgangstydperk beleef, wat verdere spanning veroorsaak het. Omdat Israel nie onder die juk van Assirië wou staan nie, tree hy in koalisie met Damaskus. Hulle probeer Juda oorreed om ook in hierdie koalisie ingesluit te word om hulle sterker te maak, maar Juda, onder die regering van koning Jotam het geweier. Gevolglik besluit Israel om Juda aan te val. Intussen raak die Edomiete en Filistyne ook vir Juda ‘n groot bedreiging, en onder koningskap van Jotam se opvolger, Agas soek Juda hulp by Assirië. Israel word deur Assirië aangeval en uiteindelik word hulle dan deel van die Assiriese ryk. Baie Israeliete word in ballingskap weggevoer, en stede word verwoes.
Die uiteinde was tragies, want Assirië se hulp aan Juda het veroorsaak dat hy nou ook onderdanig moes word aan Assirië. Die ergste was egter dat Juda boonop ook onderwerp was aan die Assiriese godsdiens. Hulle was gedwing om hierdie afgodediens te erken. Boonop moes hulle swaar belastings aan die Assiriërs betaal. Nadat die staatskas gestroop was, word die tempelskatte geneem om te betaal vir die Assiriërs se geldsug. Baie gou het sedelike agteruitgang asook ‘n morele verval gevolg. Korrupsie het oral ingesypel, selfs in die regstelsel en die profetediens. Hierdie sogenaamde “manne van God” het slegs geprofeteer om hulle eie belange te beskerm.
Dit is onder hierdie tragiese omstandighede wat die profeet Miga moes preek en die Woord van God bring aan die nasie.
Miga het egter nie wanhoop gebring deur sy prediking nie. Hy het nie gesanik, “Alles is verlore!” nie. Hy het eerder probeer wys dat God groot is. Hy het die absolute grootheid en almag van God besing om sodoende die volk vir God te laat raaksien. Hy wou hê dat die volk moes sien dat God beslis nie onbetrokke was nie. Inderdaad was Hy intens betrokke by Sy volk. Dit was vir God baie belangrik wat met hulle sou gebeur. Hy het omgegee vir hulle, al het hulle in sonde verval. Ja, natuurlik het Hy nie goedgekeur wat hulle gedoen het nie, en Hy het hulle sonde veroordeel. Maar Hy is ook oneindig genadig, en Hy is bereid om te vergewe.
Miga wou terselfdertyd ook probeer om die volk te inspireer om hulle medemens raak te sien. Hy praat oor al die verskillende vlakke van die samelewing: sakemanne, regters en die kerk. Alles wat daar gebeur is ewe belangrik. En hy spreek ook ‘n euwel aan wat selfs vandag in 2021 steeds vir baie groot probleme sorg - materialisme.
As dit dalk vir jou klink asof die boek Miga net gaan oor oordeel en sonde en alles wat sleg en verskriklik is, maak jy ‘n groot fout. Miga is ‘n tydlose boek, en laat ons ook vorentoe kyk, diep in die toekoms in. Hy lig die sluier oor ‘n wonderlike toekoms en ‘n ewigdurende vrede - vrede onder ‘n nuwe Koning wat nie feilbaar is soos die aardse konings van Miga se tyd nie. Omdat Miga tydloos is, is die boek uiteindelik dan vandag vir jou en my óók steeds ‘n boek van hoop.
Gebed:
Here, my gebed is dat U ons oë sal oopmaak vir die wonderlike hoop wat Miga ons bring.