Die Bitter-Soet Boek

8 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Bitter-Soet Boek

Openbaring 10:1-11

Johannes moet ‘n Boek opeet. Dit smaak heerlik soet, maar dit is bitter in die maag.

Na die sesde trompet kom ons nou by ‘n dubbele tussenspel, die klein boekie en die twee getuies. Die aanloop tot hierdie boekie wat Johannes moet eet, begin by ‘n engel wat Johannes uit die hemel sien neerdaal. Anders as die engele waarvan ons in Vrydag se dagstukkie gelees het, wat demoniese engele was, is hierdie een in diens van God, en sy hele beeld straal dit uit.  

Terloops, jy behoort natuurlik sommer dadelik 'n gelowige te herken aan die beeld wat hy uitstraal! Die vraag is: hoe lyk die beeld wat jy uitstraal? Hierdie engel is deur God gestuur om ‘n boodskap van hoop te kom bring vir die verdrukte kerk. Ons sien dat hy wydsbeen gaan staan oor die land en see. Dit is natuurlik 'n simbool van sy omvattende posisie. 

As ons terugdink aan die begin van Openbaring, waar God beskryf word, dan is daar nogal ‘n ooreenkoms in die beskrywing van hierdie engel, wat die beeld van God uitstraal. Dink maar aan die wolk om hom, die reënboog bokant hom, sy gesig wat blink soos die son en sy bene soos vuurpilare. Dit is voorwaar ‘n asemrowende figuur wat getuig van groot krag en gesag. Sy sending dra dus Goddelike sanksie.

En dan is daar die oop boekie, eintlik ‘n onverseëlde boekrol wat hy in sy hand hou, soortgelyk aan die groot boekrol wat Johannes beskryf in Openbaring 5:2. Hierdie Boekie is waarskynlik ’n kleiner weergawe van die groot Boekrol. Dit is die testament van die toekomsgebeure. 

Die engel praat met groot gesag, en sy stem is baie hard, soos ‘n leeu wat brul. Het jy al ooit die voorreg gehad om ‘n leeu baie naby te hoor brul? Daardie voorreg was my by ‘n paar geleenthede beskore. En glo my, sy stem is gróót, sommer BAIE groot! Hy laat werklik die vensters in jou huis ratel, sodat jy voel jy wil ineenkrimp. Jy voel bitter klein en broos in sulke uitgelese geselskap!

Wanneer hierdie engel praat, antwoord die hemele in sewe donderslae. Dit bevestig natuurlik sy Goddelike gesag. Johannes wil alles neerskryf wat hy hoor, maar ‘n stem uit die hemel belet hom - dit is nog ‘n geheim. Dan kondig die engel aan dat daar nie meer tyd oor is nie. Die sewende trompet gaan binnekort weergalm, en dit sal die finale einde inlui. Hy bevestig dit met ‘n eed, wanneer hy sy regterhand na die hemel uitstrek, soos die voorskrif was om ‘n eed af te lê. Die verborge bedoeling, oftewel die volle raad van God, sal dan in vervulling gaan. Die einde is naby!

Wat word met al hierdie dinge bedoel? Alles en almal het nou hulle Godgegewe betekenis bereik. Dit word duidelik as ons ‘n bietjie verder gaan lees in Openbaring 11:15, wanneer die sewende trompet blaas en God se volmaakte heerskappy aanbreek.

Maar dan kry Johannes daardie moeilike opdrag. ‘n Stem uit die hemel sê vir hom dat hy die oop boekie by die engel moet neem en dit opeet. Deur hierdie simboliese daad, neem Johannes nou aktief deel aan die eindgebeure. Ons lees in Esegiël 2 van vers 8 af van dieselfde soort ding wat met Esegiël gebeur, waar hy beveel word om ‘n boekrol op te eet. Hierdie boek smaak soet soos heuning, en nadat hy dit geëet het moet hy die Woord van God aan Israel gaan verkondig. Die profeet moet dus eers die boodskap verteer - hy moet dit met ander woorde sy eie maak voordat hy dit kan oorvertel.

Johannes se boek is óók soet soos heuning, maar as dit in die maag kom, is dit bitter. Dit is heerlik aangenaam om die Woord van God te lees en dit te bestudeer, maar wanneer dit by die verkondiging kom van dit wat jy jou eie gemaak het, dan is dit nie so maklik nie. Om die Woord te verkondig is veeleisend, en gaan dikwels gepaard met bitter moeilike teenstand. 

Johannes se opdrag is dan ook om God se boodskap te gaan verkondig. Sy boodskap raak die hele wêreld - volke, nasies, tale en konings. Weereens is dit God se onmeetlike genade wat na vore kom, wanneer Hy die wêreld steeds geleentheid gee om hulle tot God te bekeer voordat die finale oordeel kom.

Dit is asof God vandag ook Sy hand op my en jou skouer plaas, en ons aanspoor om Sy Woord aan elkeen waarmee ons in aanraking kom te gaan vertel. Wat ‘n wonderlike voorreg het ons nie! Ons is gevul met die heerlike soet smaak van die Woord, maar ons moet ons regmaak om ook die bitter van verwerping te kan ervaar, wanneer mense God se Woord in ons gesigte teruggooi.

Gebed:

Dankie vir die heerlike voorreg, Here, dat ek ook u Woord kan versprei oor die hele aarde. Ek wil vra dat U asseblief vir my deure sal oopmaak sodat die Woord wyd en syd sal weerklink, en dat almal sal weet van U groot genade en liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026