Die Besetene

31 August, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Besetene

Lukas 8:26-39

   

Jesus en die twaalf het in Kapernaum, op die noordelike oewer van die See van Galilea in die vissersboot geklim. Hulle vaar reg suid, verby Tiberias en Hippus waar die verskriklike storm hulle getref het. Aan die suidelike punt van die meer lê hulle bestemming, die landstreek Gadara. Skaars sit hulle voet aan wal, of die volgende groot “storm” tref hulle - dié slag in die gestalte van ‘n besete man wat kaal op hulle afstorm.

Jesus en sy dissipels bevind hulle hier in die “buiteland,” in die land van die Geraseners. Die gebied maak deel uit van die sogenaamde Dekapolis, oftewel “Tien Stede,” ‘n nie-Joodse gebied. Die Joodse wette het dus gladnie hier gegeld nie, en die mense het selfs met varke geboer, iets wat elke goeie Jood met afsku sou vervul!

Die man wat op hulle afstorm bly lankal nie meer in ‘n huis nie omdat die samelewing hom totaal verwerp het. Tussen die grafte het hy sy lêplekkie gekry. Sy onbeheerste optrede het al daarvoor gesorg dat die inwoners hom probeer vang en met kettings probeer boei het om hom in bedwang te hou, maar hy het bloot die kettings gebreek!

In skrille kontras met hierdie wilde besetene, sien ons vir Jesus wat doodkalm teenoor hom optree en bloot vir hom vra wat sy naam is. Vir die dissipels is dit ‘n traumatiese ervaring. Boonop moet hulle hoor dat die man Jesus aanspreek as “Seun van God, die Allerhoogste”. Hulle sluk sélf nog maar swaar aan hierdie gedagte, en nou kom ‘n besete heiden en blaker dit uit! Wat hulle egter nie besef nie, is dat dit die duiwelse demone in die man was wat met Jesus praat deur die man se liggaam te gebruik. Natuurlik ken die duiwel en al sy demoniese aanhangers vir Jesus baie goed. Hulle weet presies wie Hy is! Hulle sal Hom egter nooit dien nie, want die duiwel wil sélf op die troon sit!

Terloops, kan ons ook die vraag vra, of dit moontlik sou wees dat iemand wél vir Jesus kan ken, maar dat hy nie noodwendig gered sou wees nie? Inderdaad ja! Voordat jy jou lewe aan Jesus toevertrou het en in Hom as jou persoonlike Verlosser glo, het jy nie die saligheid nie! Selfs al weet jy álles van Hom af!

Die man, oftewel die demoon wat besit van hom geneem het antwoord dat sy naam “Legio” is, dit beteken “Baie”. Die Latynse woord “legio” verwys na ‘n afdeling of legioen van tussen 3’000 en 6’000 soldate in die Romeinse leër. Die man se lewe word dus oorheers deur ‘n groot aantal demone.

Die demone wil niks met Jesus te doen hê nie. Hulle wil net alleen gelaat word en Jesus se teenwoordigheid is vir hulle ‘n groot bedreiging. Wanneer hulle egter in ‘n hoek gedryf word, smeek hulle om eerder na die varke verban te word. Die varktrop sit skielik op loop wanneer die demone in hulle invaar, en die mense van die omgewing moet vreesvervul toekyk hoedat hulle hele trop oor ‘n afgrond stort en in die see versuip.

En die besetene? Hy is onmiddellik genees, bevry van die bande van Satan! Hy vra vir Jesus of hy by hulle groep kan aansluit en Hom volg, maar Jesus weier. Hy moet terug na sy eie mense!

Dit is tóg ironies dat die mense Jesus smeek om liewer hulle land te verlaat! Hulle is meer besorg oor hulle finansiële verlies as oor die besetene wat hier voor hulle oë genees word en ‘n splinternuwe lewe kry!

Die vraag is, waarom het Jesus gehoor gegee aan die versoek van die demone, maar as die man wat genees is smeek om saam met Hom te gaan, weier Jesus sy versoek? Daar is baie vraagstukke in die Bybel waaroor ons maar net kan raai, want ons ken nie God se volle raadsplan nie. Waarom Hy nie die demone direk die verdoemenis ingestuur het nie, is nóg ‘n raaisel. Wat ons wél kan sê, is dat dit ‘n gedeeltelike oorwinning oor die duiwel was, maar dat die finale slag nog gelewer sal word, en dan sal dit ‘n baie groot slagting vir die duiwel en sy demone wees.

Wat die man betref - hy het ‘n baie groot taak op hande gehad. Hy moes die mense van sy omgewing van Jesus gaan vertel. En wát ‘n taak was dit nie! Hy moes die mense wat voorheen in vrees van hom af weggevlug het, nou gaan oortuig dat Jesus die Verlosser is. ‘n Paar jaar later, toe die vervolging van Christene in Jerusalem op die ergste was, het die gelowiges gevlug. Baie van hulle het skuiling gevind in hierdie einste streek en hulle was daar met ope arms ontvang. Waarom? Ek glo dat die mal man wat eens kaal in die begraafplaas gebly het, sulke goeie sendingwerk gedoen het, dat almal daar ryp was vir die Evangelie toe die groot stroom Christene daar aankom.

God se raadsplan is oneindig groter as ons gedagtes!

Gebed:

Here, dankie dat ons weereens vanoggend U almag kon aanskou!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026