Handelinge 16:16-24
Met 'n lied in die hart stap die viertal, Paulus, Silas Timoteus en Lukas die entjie na die rivier waar die groepie Joodse vroue vir hulle 'n bidplek ingerig het. Skaars begin hulle stap van Lidia se huis af, of hulle raak bewus van 'n vrou wat ál agter hulle aanloop. “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste!” hoor hulle haar baie hard verkondig agter hulle. “Hulle vertel julle hoe julle gered kan word.”
Tevrede stap hulle aan, want hierdie vrou het iewers hulle boodskap gehoor, en hulle is bly dat dit inslag gevind het. Maar na 'n rukkie raak dit half irriterend, want die vrou skree dit oor en oor en oor met 'n skril stemmetjie, en dit klink asof iets nie baie lekker is met haar nie.
Die volgende dag is dit wéér sulke tyd, en soos 'n stertjie loop die vrou ál agter hulle aan en skree dieselfde rympie oor en oor. Na 'n paar dae begin die manne dit moeilik vind om hulle werk te doen, want hulle kan maar nét nie van die irriterende stertjie ontslae raak nie. “Sy het 'n gróót probleem!” kom Paulus tot die gevolgtrekking. “Ja, sy sê wél die regte dinge, maar in die proses is sy besig om die Evangelie skade aan te doen. Ek is séker daarvan dat sy 'n bose gees in haar het!”
Wanneer Lukas die mense oor haar uitvra, maak hy 'n skokkende ontdekking, en hy gaan vertel vir Paulus: “Hierdie vrou is 'n slavin wat vir haar eienaars baie geld verdien. Sy is 'n waarsegster, en die mense stroom glo na haar om hulle fortuin te hoor.”
“Nou maak dit alles sin!” sê Paulus. Wanneer die vrou weer agter hulle aanloop, draai Paulus om en hy kyk haar reguit in die oë. Hy sien daar 'n wilde uitdrukking in haar oë, wat maar net één ding kan beteken: sy word beheer deur 'n bose gees in haar! Hy kan dit nou nie meer langer uithou nie: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” spreek hy die bose gees aan.
Op daardie oomblik verander die vrou rég voor hulle oë. Die wilde uitdrukking verdwyn en sy is so normaal soos enige mens, en boonop bevry van haar bose gees. En die vier manne kan aangaan in vrede, uiteindelik verlos van hulle irriterende stertjie. Boonop is hulle in die wolke dat hulle iemand bevryding kon gee deur Jesus.
Maar nie almal deel hulle vreugde nie, die vrou se eienaars is woedend! Sy het hulle 'n klomp geld gekos, maar dit was alles die moeite werd, want deur haar “gawe” het sy vir hulle sommer baie geld in die sak gebring. En nou is die gawe skielik net weg, soos mis voor die son verdwyn.
“Ons moet daardie manne voor stok kry!” tier hulle, en dan beraam hulle planne om hulle te laat vervolg. Deur bloot vir die owerhede te sê dat Paulus-hulle 'n bose gees uit die vrou uitgedryf het, sal net maak dat die magistraat hulle uitlag. Nee, hulle moet aan iets anders dink.
Die volgende dag moet die vier sien hoedat 'n paar groot manne op hulle afstorm. Paulus en Silas word gegryp en na die stadsplein gesleep waar die regsake afgehandel word. “Wat gaan aan?” wil hulle weet. Maar hulle kry nie antwoorde nie.
Wanneer hulle voor die kwaai magistraat te staan kom, word die beskuldigings teen hulle geslinger: “Hierdie manne is Jode wat moeilikheid maak in ons stad!” kla die eienaars van die vrou. “Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”
Paulus en Silas se monde hang oop van verbasing: hulle het nooit enigiemand gedwing om na hulle te luister nie. Maar nou is die skare omstanders ook opgesweep teen hulle, en woedend eis hulle geregtigheid!
Die twee manne word gegryp en hulle klere word hardhandig van hulle lywe afgeskeur. Hulle word aan 'n paal vasgemaak, en die volgende oomblik begin die sweepslae op hulle ontblote rûe neer te reën. Hou op pynlike hou ruk deur hulle liggame totdat hulle naderhand voel dat hulle dit net nie meer kan vat nie.
Na wat na 'n ewigheid voel, is die onmenslike straf verby. Maar steeds is dit nie die einde nie, want dan word die twee voosgeslane manne weggesleep om in die tronk opgesluit te word. Die tronkbewaarder kry opdrag om hulle baie streng te bewaak. Dan besluit hy, dat as hierdie twee manne dan nou so gevaarlik is dat hulle maksimum bewaking moet kry, dan smyt hy hulle in die gevreesde binneste sel.
Paulus en Silas word beveel om plat op hulle stukkendgeslane rûe te gaan lê op die vuil, koue klipvloer. Dan word hulle voete in houtblokke vasgeklem. Die pyn is ondraaglik! Die swaar ysterdeur word agter hulle toegeslaan en gesluit.
Die prys wat jy betaal vir die Evangelie, is soms baie duur. Vandag gebeur nog baie erger dinge dikwels in lande soos Sirië, waar 'n Christen nie sy lewe seker is nie.
In 'n vry land soos Suid-Afrika weet ons nie wat vervolging is nie. Nogtans is die meeste van ons bang om op te staan vir Jesus. Ons is bang dat ons dalk gespot sal word of uit 'n vriendekring gestoot sal word.
Kom ons neem standpunt in en lewe openlik 'n lewe vir Jesus, vreesloos vir die gevolge!
Gebed:
Here, maak my vreesloos om U Lig en Woord onder alle omstandighede uit te dra!