Die Aarde Verwoes

7 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Aarde Verwoes

Jesaja 24

Hier waar ek sit, besig met moreoggend se dagstukkie, krimp my moed ineen, en ek voel skoon misrabel. Dis koud en onplesierig. Buite woed ‘n verskriklike stormwind. Die voëltjies, wat gewoonlik in hulle hordes hier voor die huis baljaar, is skoonveld weg. Almal kruip weg vir die storm, want hy ontsien niks en niemand nie. Iewers het ‘n boomtak op ‘n kragdraad geval, dus sit ons boonop sonder krag. Ek hoop my battery hou lank genoeg dat ek die dagstukkie kan klaarmaak!

Maar nou weet ek ook dat hierdie stormwind, nés die Kaapse dokter skoonmaak. Al die ou dooie takke van die bome word afgewaai. Blare wat opgehoop het, waai weg. Ná die wind gaan daar ‘n verfrissende reën kom, en more oggend is alles weer vars en skoon en splinternuut!

Jesaja begin hoofstuk 24 met verdoemende woorde:

Die Here gaan die aarde verwoes, vernietig, sy voorkoms verander en sy inwoners verstrooi. Dieselfde lot gaan almal tref: priester en volk, slaaf en besitter, slavin en eienares, koper en verkoper, uitlener en lener, skuldeiser en skuldenaar. Die aarde sal verwoes word, heeltemal verwoes word, dit sal leeg geplunder word. Die Here het dit gesê.

Nee, dis nie Jesaja se woorde nie, dis God s’n! Hy het dit self gesê. Sy oordeel tref die aarde, en niks en niemand gaan dit vryspring nie. Hierdie is die  einde van die huidige bedeling en die begin van ‘n splinternuwe era. Ja, dis wel die verwoesting van die huidige orde, maar dis terselfdertyd die redding vir diegene wat oorbly.

Jesaja sê dat wanneer God ingryp om ‘n einde aan al die goddeloosheid te maak, word niemand ontsien nie, of jy nou ‘n baas of ‘n slaaf is, ‘n skuldeiser of skuldenaar, maak nie saak wie of wat jy is nie! Dit sluit die ganse mensdom in. ‘n Verskriklike droogte tref die aarde, want die inwoners van die aarde was ongehoorsaam aan God. Hulle het Sy verbond verbreek. ‘n Vloek tref die aarde, en selfs die natuur word geraak. Alle vreugde verdwyn.

Mens wonder nogal oor hierdie vloek wat die wêreld getref het met die verskriklike virus. Eers was dit daar ver iewers, maar nou kom dit al nader aan ons, en dis mense wat ons ken, selfs vriende wat dit opdoen. En sterf!

Jesaja gebruik in vers 5 verskriklike woorde soos: “aarde is verontreinig deur sy inwoners …. ongehoorsaam ….. voorskrifte geminag ….. sy vaste verbond verbreek,” en dan sê hy: “daarom sal 'n vloek die aarde verteer en sal sy inwoners boet vir hulle sonde.

In die volgende paar verse skilder Jesaja ‘n prentjie van wingerde wat verdroog, wyn wat skaars word, mense wat verbrand, depressie en droefheid wat heers. “Niemand sal meer sing as hy wyn drink nie.

Is God onregverdig of wreed om dit te doen? Nee! Die mense verdien dit deur en deur! Hierdie is maar net die gevolge van hulle sonde.

Dit is voorwaar ‘n droewige prentjie wat Jesaja skilder. Maar daar is selfs meer, die stad of stede sal afgebreek en verwoes word. Mense sal kerm, alle vreugde verdwyn.

Maar……

Soos ons al dikwels in Jesaja gesien het, is daar elke keer wanneer hy die verskrikking van die oordeel beskryf, die uitbundige blydskap van die gelowiges. Hier beskryf hy in vers 14 hoedat die “oorblyfsel” juig: “Die mense wat oorbly, sal juig, hulle sal die mag van die Here besing,” Oordeel en verlossing gaan hand-aan-hand. Daar is altyd ‘n handjievol getroues, en vir hulle beteken die oordeel bevryding. Hier sien ons egter dat hierdie handjievol nie noodwendig van Israel is nie, Jesaja sê dat hulle van die weste en ooste, selfs van die eilande en al die uithoeke van die aarde is.

Ja inderdaad oordeel God. Maar ons moet baie deeglik besef dat Hy uiters regverdig is. En ook vol genade en liefde. Sy kinders is die verlostes, en ons sien dat hulle van oral kom, dikwels van plekke of gemeenskappe wat ons dit die minste verwag.

In die laaste verse van hierdie hoofstuk, kom ‘n ander waarheid na vore, dat die Here die een is wat regeer. In die vorige hoofstukke het ons gelees van Alexander die Grote, Nebukadnesar en al die ander magtige heersers. Hulle groot mag was telkens net aan hulle geleen om God se doel te bereik. Elke keer sien ons dat Hy eintlik die ware Heerser is, en dat hulle, hoe magtig hulle ook al was, elke keer slegs pionne in Sy hand was.

Jesaja praat van die “magte in die hemel daarbo” wat gestraf word saam met die heersers wat hulle mag misbruik het.  Hierdie “magte in die hemel” is die hemelliggame, die son, maan en planete wat deur baie volke as gode aanbid is.

Daar is slegs een ware God, en wie Hom nie aanbid en erken nie, staan onder Sy oordeel.

Gebed:

Here, U is God en Here van my lewe. Ek aanbid U met alles wat in my is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026