Delegeer jou Pligte

24 July, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Delegeer jou Pligte

Eksodus 11:24-35

???? VIDEO | ???? OUDIO

Dit is nie maklik om ‘n Christenleier te wees nie. Kritiek teen jou is dikwels amper ondraaglik, veral wanneer jy die regte ding doen. Moses het dit só ervaar. Alles wat met die Israeliete gebeur is kwansuis sy skuld, en hy moet elke keer net spring om dit reg te stel! Dit is daarom dat Moses moedeloos voor die Here sy hart uitstort. “Laat my liewer sterf!” snik hy dit wanhopig uit. As dit met so ‘n kolos van ‘n gelowige kan gebeur, dan kan dit met jou en my ook gebeur. So, as jy dalk in die spervuur beland van bittere kritiek - moenie eensaam voel nie! Jy bevind jou saam met ‘n skare van gelowiges wat dieselfde moet deurmaak!

Daar is egter ‘n ander baie moeilike ding wat baie Christenleiers ondervind: ‘n werkslas wat swaarder is as wat jy kan dra. As dit begin gebeur, dan moet jy plan maak. Ek was sélf al dikwels in daardie posisie en dan moet ’n man wéét waar om te begin krane toedraai en van jou werk vir ander gee. Ek is baie geseënd met ’n wederhelf wat die gevaartekens raaksien en my waarsku. Natuurlik luister ek nooit na haar nie, totdat dit byna te laat is! My probleem is dat ek liewer alles sélf doen sodat ek weet dat dit reg is. Die feit is egter dat daar dikwels ander mense is wat graag betrokke wil raak en wat uiteindelik die taak beter as ek self kan hanteer.

Toe Moses op die punt was om uit te brand, het die Here ingegryp en Moses beveel om sewentig goeie leiers te kry wat baie van sy take kan oorneem en so sy werkslas verlig. Die manne is ontbied na die tent van Samekoms, en daar het die Gees van God op hulle gekom om hulle toe te rus vir hierdie groot taak wat op hulle skouers sou rus. Twee van die manne was egter nie teenwoordig daar by die tent toe dit gebeur het nie. Nogtans het God se Gees ook op hulle gekom waar hulle elders besig was. Dit wys net weereens dat ons God nie kan vasvang op een bepaalde plek nie. Hy is alomteenwoordig!

Die vraag is: Waarom moes hierdie leiers dan nou eers met God se Gees vervul word voordat hulle hulle taak kon uitrig? Die antwoord is doodeenvoudig: Sonder die Heilige Gees in jou, is jou werk vir God ‘n blote gejaag na wind. As ons deur die Ou Testament gaan blaai, sien ons dat al die groot leiers die Heilige Gees ontvang het. Dink maar aan Dawid, Simson, Elia, Elisa, Samuel en Otniël, om maar net ‘n paar name te noem van groot leiers wat onder die leiding van die Heilige Gees regeer het. Al hierdie leiers - ook Moses en sy sewentig manne - het per geleentheid as profete opgetree. Nou moet ons eers verstaan wat bedoel word met “profeteer”. Dit is nie noodwendig om die toekoms te voorspel soos wat Jesaja gedoen het nie, maar om die wil van God te verkondig. Dit is presies wat die leraar elke Sondag van die kansel af doen. En dit is wat elke gelowige deur sy lewe behoort te doen.

Maar nou was daar die kwessie van die vleis waaroor ons in gister se oordenking berig het. Die Here het vir Moses opdrag gegee om die volk mee te deel dat hulle vleis gaan kry totdat dit by hulle ore uitloop!

Daardie selfde nag nog begin daar ‘n wind opsteek van die see se kant af. Toe die Israeliete die volgende oggend opstaan, is dit nie alleen die manna wat hulle sien lê nie, maar daar kom kwartels ingevlieg. “Vleis!” skree hulle opgewonde, en hulle begin kwartels vang. Maar die kwartels raak al meer en meer. Swart wolke van kwartels vlieg oor hulle en kom land reg in Israel se kamp. Die manne raak skoon beserk en vang net kwartels. Maar hoe meer hulle vang, hoe meer kom steeds ingevlieg, totdat daar vir kilometers rondom die kamp kwartels gelê het, ‘n meter diep.

In Numeri 11:32 word daar berig dat elke Israeliet omtrent ‘n ton vleis bymekaargemaak het. Die kwartels is geslag en dan gedroog in die son. Die vraag is: wat maak jy met ‘n ton vleis? Die Israeliete het net een ding in hulle koppe gehad, en dit is om te eet en eet totdat hulle nie meer kon nie. En toe tref die ongeluk hulle: omdat hulle vrate van hulleself gemaak het, het hulle siek geword van al die kwartelvleis. Talle mense is daar dood as gevolg van vraatsug!

Wat doen ons as ons by ‘n onthaal kom en daar is kos en drank in oorvloed? En alles is verniet! Ek het al dikwels moes aanskou hoe ‘n doodgewone mens skielik in ‘n vraat verander en homself net eenvoudig volstop met die mees eksotiese kos op die onthaal. En om die kroon daarop te plaas, verorber hy drankie op drankie, totdat hy totaal onkapabel is!

Gulsigheid lei gewoonlik tot mense se ondergang, en ja, dit geld ongelukkig ook vir gelowiges. Ons is dikwels ontevrede met dit wat ons van God ontvang. En dan, wanneer daar die dag ‘n oorvloed is, dan maak jy ‘n vraat van jouself. Ons vergeet so maklik dat God vir ons sorg, ook in die omstandighede waarin ons is. Oor die afgelope klompie jare het ek dit baie goed ondervind. Toe ons in ‘n finansiële krisis beland het, het ons die versorgende hand van God so intens begin ervaar. Elke keer as dit lyk asof ons paadjie doodloop, gaan daar net weereens ‘n deur oop, en God voorsien!

Gebed:

Here, ek kan U nooit genoeg bedank vir al U weldade aan my nie - dat U maar net bly voorsien in my behoeftes!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026