Dawid

12 December, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid

1 Samuel 16-31

Boas en Rut se kleinseun Isai het vrou gevat en hulle het 'n hele streep seuns gehad. Die jongste van sy agt seuns was 'n rooigesig knapie met die naam Dawid. Omdat hy die jongste was, het hy die taak gekry wat nie een van die ander wou doen nie, om Pa Isai se skape op te pas.

Skaap-oppas is maar bra vervelige werk, en klein Dawid was genoodsaak om homself besig te hou om nie verveeld te raak nie. Hy was nog te jonk om behoorlike wapens te kon dra – dis nou volgens sy wyse broers! Dawid moes dus maar sélf vir hom wapens maak. 'n Slingervel is sékerlik die moeilikste wapen om akkuraat te kan gebruik, maar Dawid moes maar daarmee tevrede wees. Om die beste van 'n slegte saak te maak, oefen hy totdat hy uiteindelik hierdie wapen meesterlik bemeester.

Maar daar was ook 'n ander passie wat hierdie seun betower het: musiek. Op jeugdige ouderdom bemeester hy reeds die lier, en met hope tyd op hande en iewers in die veld, speel hy later hierdie snaarinstrument sodat die hemelse klanke die ruimtes vul.

En dan ontdek hy nóg 'n talent: om liedjies te skryf! Terwyl hy een mooi dag in die skadu van 'n boom met lier in die hand na sy skapies wat so rustig wei, sit en kyk, kom die woorde van 'n trefferlied: “Die Here is my Herder, ek ly nie gebrek nie.” Die woorde en die wysie borrel uit sy hart: “In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.”

Dawid is opgewonde oor sy lied. Wanneer hy weer by die huis is sal hy dit vir Pa Isai en sy ma sing. Sy broers sal dit nie waardeer nie!

n Skaapwagtertjie kry te doen met allerhande goed wat jou skape wil kom opvreet. Buiten nou vir die gewone jakkalse, wat 'n verpesting is, is daar ook die groter goed. Op 'n dag kry Dawid te doene met 'n beer. Daardie dag het hy gedink dat sy einde aanbreek. Die beer het 'n lammetjie gegryp en wou hom opvreet. Hierdie gedierte was omgesukkel toe Dawid die lammetjie uit sy bek ruk en hom probeer verjaag. Daar het Dawid die beer met 'n houtstomp doodgeslaan.

By 'n ander geleentheid was dit nog erger, toe 'n leeu sy skape bestorm. Dawid het nie weggehardloop nie – hy het die leeu aangevat en hom doodgemaak, hierdie einste rooigesig seun!

Op 'n dag kom een van Pa Isai se slawe daar aangehardloop: “Maak gou Dawid, daar is 'n profeet by die huis, en hy wil jou sien! Ek sal solank by die skape bly.”

So vinnig as wat sy twee vlugtige voete hom kan dra, hardloop Dawid huistoe. Wat sou 'n profeet tog van hóm wou hê? Wanneer hy uitasem daar aankom, is alle oë op hom gerig, sodat sy rooi gesig nóg rooier bloos.

Kom hier my seun,” wink die gryse ou profeet Samuel hom nader. Uit sy mantel bring hy 'n horing te voorskyn. Versigtig trek hy die prop uit, en dan, baie dramaties giet hy die inhoud van die horing oor Dawid se kop uit.

Dawid skrik hom spierwit, en dan proe hy die heerlike olyfolie wat sy hare benat en oor sy gesig en lippe loop. Sy broers snak na hulle asems as hulle hoor hoedat Samuel hulle kleinboet salf as koning van Israel.

Hoe is dit moontlik?” wonder Dawid verskrik. Maar op daardie oomblik voel hy hoedat daar 'n ongekende “krag” in hom vloei en sy hele liggaam en gees vol maak.

U verfris my kop met olyfolie; my beker loop oor,” jubel dit in Dawid. “U goedheid en troue liefde volg my elke dag van my lewe!”

Ja, hierdie selfde lied sou Dawid later vir Koning Saul sing om sy vertroebelde gemoed te kalmeer. Sy akkurate slingervel sou vir Israel 'n oorlog wen, toe hy die reus Goliat daarmee neergevel het. En Dawid sou die donkerste kloof waarvan hy in sy lied gesing het, deeglik ervaar toe Saul hom soos 'n dier gejag het. Maar Dawid was nie bang nie, want hy het mos sélf in sy lied gesing dat die Here selfs in sulke omstandighede by hom is.

Dit sou baie jare neem voordat Dawid uiteindelik koning sou word oor die ganse Israel. Eers was hy net koning oor die stam van Juda, die stam van sy voorvader. Hoe verskriklik het sy voorvader nie geswig voor 'n vrou se sjarme nie. Mag so 'n skandelike struikeling hóm wat Dawid is tog nie tref nie!

Toe Dawid uiteindelik die troon bestyg, was hy 'n waardige koning. Hy het ook talle liedere geskryf tot eer van God wat drieduisend jaar later stééds gesing word. Maar hy was ook 'n soldaat om mee rekening te hou. Hy was saam met sy manne elke keer as hulle die gedugte vyande van Israel verslaan en uit die land gedryf het. Hy was 'n koning wat baie wyd eer sou ontvang.

Maar die grootste eer sou eers 'n duisend jaar later kom, wanneer die Seun van God uit Dawid se nageslag gebore sou word.

Gebed: Here, dankie vir Dawid, en die wonderlike nalating wat hy ons gegee het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026