Dawid Word ‘n Bedreiging vir Saul

13 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid Word ‘n Bedreiging vir Saul

1 Samuel 18:17-30

VIDEO | OUDIO

‘n Paar dae na Dawid se noue ontkoming met Saul se spies, word hy weer ontbied na Saul se troonsaal: “Die koning wil met jou praat!”

Saul het bang geword vir Dawid - hierdie jongman was ‘n bedreiging vir hom en sy koningskap en hy het gans te veel aansien onder die volk gehad. “Ek moet net eenvoudig van hom ontslae raak!” het Saul gedink. Dit sou egter gladnie so eenvoudig wees nie, want laat hy vir Dawid teregstel of vermoor, dan sou die hele volk hom daarvoor veroordeel! Hy moes ‘n ander, baie meer subtiele plan maak om van die kêreltjie ontslae te raak. En dan het hy nog boonop met die probleem gesit dat hy belowe het dat Dawid met sy dogter kon trou! Dit was sowaar ‘n simpele belofte wat hy gemaak het toe Goliat daar staan en skreeu het! Maar hy was raadop! Hy móés iets doen om iemand om te koop om teen Goliat te gaan veg! Dawid was die een wat nou met sy dogter moes trou en Saul het gladnie geweet hoe hy uit hierdie tameletjie sou kom nie! Nee, daar was net een uitweg: Dawid moes sneuwel. Sneuwel! Dis die antwoord! As Dawid bevelvoerder sou word van ‘n leërafdeling, sou die kanse dat hy in die een of ander geveg sou sneuwel sommer gewaarborg wees!

“Dawid my seun, ek wil jou vandag ‘n nuwe aanstelling gee. Jy doen só goed elke keer as jy gaan veg dat ek besluit het om jou bevelvoerder te maak van jou eie leërafdeling. Ek weet sommer jy gaan baie veldslae vir ons volk wen!”

Dawid het baie trots gevoel dat hy só ‘n groot aanstelling kon kry, maar dit sou beteken dat hy dan maar bitter selde by die huis sou wees. Dit sou boonop beteken dat hy natuurlik nie vir Mikal te siene sou kry nie. Maar dit was seker maar die kruis wat ‘n beroepsoldaat moes dra!

Dawid was ‘n gebore soldaat. Elke veldslag wat hy beplan het, het hy en sy manne met vlieënde vaandels geslaag. Dit het beslis nie ongemerk verby die volk gegaan nie en veral nie by die vroue nie. Dawid se oorwinnings was al meer en meer besing, en Saul het sit en wag vir die dag wat hy die “treurige” nuus sou kry dat die dapper soldaat, Dawid gesneuwel het. Intussen het Saul se amptenare al meer druk op Saul begin toepas dat hy sy belofte moes nakom - die een dat Dawid met sy dogter sou trou. “Ja, goed!” het hy gebrom. “Wanneer Dawid weer by die huis is sal ek reëlings tref!”

En uiteindelik kom Saul sy belofte na. Toe Dawid by die huis kom na nóg ‘n suksesvolle veldslag, word hy ingeroep. “Dawid, dit het tyd geword dat ek my belofte nakom. Ons kan begin om reëlings te tref vir jou huwelik met my dogter.”

“Mikal! Mikal!” het dit in Dawid gejuig. “Uiteindelik gaan die pragtige Mikal myne wees!”

“Hier is my oudste dogter, Merab. Ek gee haar aan jou as vrou. Maar Dawid, jy moet vir my ‘n dapper man wees en die oorloë van die Here voer!”

“Merab?” het dit deur Dawid se verwarde gemoed geruis, toe Saul se oudste dogter ingebring word. “Dis nie vir Merab wat ek lief is nie - dit is Mikal! Dit is ‘n wrede fout!” Dawid was verslae! Hoe kon die lewe dan so wreed wees? Hoe kon Saul so wreed wees met hom? “Here, dit kan tog nie?” het hy raadop gebid. Maar die Here het ‘n ander plan met Dawid gehad.

Dawid het nie veel kans gehad om te tob oor die onreg nie want die werk het gewag en daar was al klaar weer ‘n vyand wat die land bedreig het. Uiteindelik het Dawid vrede gemaak met die situasie en wanneer hy en sy manne saans om die kampvuurtjie gesit het, het sy gedagtes gedwaal na die nuwe bruid wat vir hom gewag het. “Kyk, sy is eintlik ‘n baie mooi en aangename meisie,” het hy gedink, “ek kan nogal my lewe met haar deel!”

Toe Dawid en sy manne weer terugkeer huistoe ná die veldslag, het hy sommer gesien dat iets verkeerd was. Almal het hom snaaks aangekyk en hulle koppe meëwarig geskud. “Wat is fout?” wou Dawid weet. Uiteindelik het iemand die moed bymekaargeskraap om met hom te praat: “Weet meneer dan nie van Merab nie?” het die persoon gevra. Dan moes Dawid aanhoor dat Koning Saul sy bruid weggegee het aan iemand anders: Adriël die Megolatiet.

Dawid was verslae! Hoe kon Saul so wreed wees? Stadigaan het Dawid begin besef dat Koning Saul iets teen hom gehad het! Sulke dinge gebeur nie sommer verniet nie! Wou die koning hom dalk dood hê? Hy het begin wonder oor alles wat die afgelope ruk gebeur het en iewers het hy ‘n rot geruik!

Ons wil saam met Dawid skree: “Koning Saul is ‘n tweegesig skurk!” Maar as ons mooi na die verhaal kyk, dan sien ons hoedat die Here eintlik baie subtiel Saul se slegte eienskappe gebruik om die pad vir Dawid voor te berei. Dit gebeur dikwels ook met ons vandag en dan wil ons aanvanklik bitterlik kla. Ons moet egter ons oë oopmaak en die hand van God sien agter baie van die “onreg” of die “ongeluk” wat ons dikwels tref. Dan moet ons weet dat dit deel is van Sy wonderlike Goddelike raadsplan!

Gebed:

Here, leer my om te berus by die dinge wat my dikwels tref!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026