Dawid Vergewe Absalom?

30 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid Vergewe Absalom?

2 Samuel 14:1-24

VIDEO | OUDIO

Na sy weerwraak-moord op sy broer Amnon, moes Absalom vlug vir sy lewe. Hy vlug na Gesur, ‘n Aramese staat noordoos van Galilea, waar sy oupa aan sy ma se kant koning was. Daar bly Absalom vir drie jaar.

Ten spyte van Absalom se verfoeilike daad, verlang Dawid na sy seun - hy bly immers steeds sy seun, al het hy ookal wát gedoen! Joab, Dawid se generaal merk die verlange in Dawid op. Hy besef egter dat dit niks sal help om aan Dawid voor te stel dat hulle Absalom laat haal nie want Dawid sal net botweg weier. Joab is egter ‘n slim man en hy ken vir Dawid baie goed. Hy wéét dat Dawid dramatiese stories baie persoonlik opneem, dus besluit hy om weer ‘n drama saam te flans wat Dawid sal oorreed om Absolom te laat haal.

Nou wonder ek net of Joab rêrag so bekommerd was oor Dawid, en of dit weereens maar net oor homself gegaan het? Absalom was immers die troonopvolger! Was Joab nie dalk net besig om vir homself voorbrand te maak vir die dag wanneer Absalom die troon sou oorneem nie? Natúúrlik sou hy graag weer as leërhoof aangestel wou word!

Joab kry ‘n vrou wat goed kan toneelspeel om vir Dawid ‘n baie treurige storie te gaan vertel, nés Natan destyds gedoen het. Wanneer sy by Dawid kom, is alles baie realisties - sy het selfs rouklere aan en sonder enige grimering. Sy val radeloos voor Dawid neer en vertel hom die allerverskriklikste storie oor haar twee seuns wat baklei het. Een van die twee is toe dood in die bakleiery en sy broer moes vlug vir sy lewe want almal wil hom doodmaak! Wat die saak vererger, is dat hy nogal die oudste seun is, die erfgenaam en hy is ál wat sy, arme weduwee, oor het! Nou is selfs hulle familienaam in die gedrang! Dawid moet help asseblief! Dawid kry haar innig jammer en hy bied aan om haar te help om haar voortvlugtende seun weer veilig terug te kry en hom te beskerm.

Dan laat bars sy die bom! Sy kyk Dawid in die oë en vertel hom dat hy besig is om ‘n groot onreg te pleeg, nie alleen teenoor sy eie seun Absalom nie, maar teenoor die hele volk! Dawid ruik dadelik ‘n rot: dis Joab wat agter die hele storie sit! Hy neem egter nie vir Joab kwalik hiervoor nie en hy vra hom om Absalom te laat haal en terug te bring na Jerusalem. Hy weier egter om enigiets te doen te hê met sy seun. Hy praat nie eers met hom nie! Absalom moet maar tevrede wees om net daar in sy eie huis te bly!

Hierdie is só ‘n tragiese verhaal! Waarom het Dawid in die eerste plek nie streng opgetree teen Absalom vir sy verskriklike daad nie? Nét soos met Amnon die geval was, het Dawid absoluut niks gedoen nie! Hy het totaal sy vaderlike plig versuim. Deur niks te doen nie, sou Dawid beslis nie die probleem kon oplos nie - dit sou net vererger. En dis presies dan ook wat gebeur het, want by Absalom was daar al klaar weer ‘n verskriklike onheiligheid aan die broei!

Kommunikasie is só ‘n belangrike ding in ‘n gesin. Wanneer jy jou kind ignoreer nadat hy verkeerd gedoen het, vererger jy die situasie en dan broei daar gewoonlik nóg erger dinge uit. En as jy nie optree wanneer hy jou teleurgestel het nie, vererger jy óók die probleem. Natúúrlik is dit nie lekker om op te tree nie en dit kos dikwels dat jy sélf ook moet opofferings maak.

Daar is egter ook ‘n tweede saak wat by Dawid agterweë gebly het, naamlik vergifnis. Deur vir Absolom huistoe te laat kom, wou Dawid vir hom sê dat hy hom vergewe het vir sy daad. Maar eintlik het hy hom nog gladnie vergewe nie, want intussen het hy geweier om hom te sien!

Dink maar net ‘n bietjie hoe anders die pa opgetree het in die verhaal van die verlore seun. Daardie seun het sy pa en sy hele familie in die skande gebring en alles geminag wat van waarde was vir sy pa. Nogtans het die pa sy eie waardigheid prysgegee en na sy seun toe gehardloop en hom omhels en gesoen toe die seun hoed in die hand terugkom. Hy het ‘n groot fees gehou want hy was bly om sy seun te sien. Hy het hom nie net met woorde vergewe nie, maar met dade en met alles wat in hom is.

Vandag moet ek myself die vraag afvra: Hoe lyk die vergifnis waarmee ek ander vergewe? Ja, die Here vra van my om ander te vergewe, en ek doen dit ook. Maar beteken dit dat ek teenoor daardie persoon optree asof hy nooit óóit iets verkeerd teen my gedoen het nie? Gewoonlik beteken vergifnis dat ek wél vriendelik is teenoor daardie persoon, maar dat daar eintlik ‘n muur is tussen ons. Die uitbundige vriendskap wat daar voorheen was, is net nie meer daar nie. Dit is nie wat God bedoel met vergifnis nie. Sy vergifnis is 100% totaal. Die ou verhouding word in totaliteit herstel! Dis wat Hy ook van mý vra, dat ons mekaar sal omhels en totaal vergeet van die ding wat skeiding gemaak het tussen ons. As Dawid dit tog maar gedoen het.....

Gebed:

Here, gee my asseblief die moed om op te tree wanneer dit nodig is, maar gee my ook asseblief totale vergifnis in my hart, net soos wat U my al my sondes vergewe het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026