1 Samuel 19:1-17
Saul se slinkse plan het nie gewerk nie en Dawid was steeds springlewendig nadat hy met tweehonderd Filistyne afgereken het. Boonop was Saul verplig om sy dogter Mikal vir Dawid as vrou te gee. Saul het gekook van woede en hy het allerhande planne bedink om Dawid uit die weg te ruim. Sy obsessie het só erg geraak dat hy dit nie eers meer vir homself kon hou nie. Hy het openlik daaroor gepraat met sy amptenare en selfs sy seun, Jonatan. Skielik moes Jonatan hoor hoe sy pa beplan om sy beste vriend dood te maak. Erger nog - hy moes help beplan aan hierdie moord!
Hiermee kon Jonatan nie saamgaan nie, hoe lojaal hy ookal aan sy pa was! Hoe kon hy sy goeie vriend laat vermoor? Om waarlik liefde uit te leef, is soms bitter moeilik. Hoe moet jy kies tussen liefde vir jou ouers en teenoor jou beste vriend? Dan pleeg Jonatan in ‘n sekere sin verraad as hy na Dawid toe gaan en hom vertel van sy pa se duistere planne. “Wees baie versigtig!” het Jonatan gewaarsku. Maar dan gaan hy ‘n stap verder en waag sy eie lewe om by sy pa te pleit om daardie moordgedagtes opsy te skuif. Hy vertel vir Saul dat Dawid hom niks aangedoen het nie. Om die waarheid te sê het Dawid vir hom slegs voorspoed gebring! Hý was immers die een wat die Filistyn verslaan het toe die hele volk in groot nood was. Dawid het sy lewe gewaag vir Saul en vir Israel!
Wat alles daardie dag gesê was, kan ons maar net raai. Jonatan het sy pa vierkant in die oë gekyk en vir hom gesê dat wat hy beplan het, ‘n baie groot sonde was en dat Dawid beslis onskuldig was!
Saul se hart het sag geword. Hy het geluister na sy seun se pleidooi en ‘n eed gesweer by die Lewende God dat hy nie vir Dawid sou doodmaak nie. Maar hoe ernstig was Saul werklik? Het hy waarlik bedoel wat hy daar gesê het? Hy het God ingeroep as getuie, maar was dit die papier werd waarop dit geskryf was? ‘n Kort rukkie later het Saul net mooi weer alles vergeet van sy belofte! Maar nou loop ek die verhaal vooruit!
Jonatan was in ekstase dat hy sy pa kon oorreed om Dawid te aanvaar. Hy het na sy vriend gehardloop om hom die goeie nuus mee te deel. En so keer alles weer terug na normaal soos dit voorheen was toe Dawid nog vir Saul op sy lier gespeel het en veilig gevoel het in die paleis. Dawid kon weer sy ou passie van hemelse musiek maak, na hartelus uitleef.
Maar die onvoorspelbaarheid van Saul het hom weer ingehaal. Terwyl Dawid besig was om op sy lier te speel en die vertrek met rustige musiek te vul, het Saul se ou streek opgevlam. Sy hand het krampagtig om die steel van sy spies geklem terwy hy vir Dawid aangluur. So byna-byna te laat het Dawid die gevaar gesien. Woedend het Saul die spies in sy rigting geslinger. Nét betyds het Dawid gekoes en gesien hoedat die spies trillend in die muur agter hom wegsink.
Dawid het homself uit die voete gemaak so vinnig as wat hy kon. In sy huis wat in die stadsmuur ingebou was, was hy darem veilig saam met sy liefling, Mikal. Buite het die dood gedreig, want Saul se soldate het saggies tot buite die huis gesluip en hom omsingel. Daar sou hy nie lewendig uitkom nie!
Mikal was doodsbenoud! Sy het haar pa se buie maar al te goed geken, en sy het geweet dat as daar nie vinnig ‘n plan gemaak sou word nie, was die liefde van haar lewe die volgende dag ‘n lyk! Dan doen Mikal presies wat Dawid se oumagrootjie, die prostituut Ragab jare tevore gedoen het toe sy die verspieders se lewens gered het: sy laat in die donkerte van die nag vir Dawid deur ‘n venster teen die stadsmuur afsak tot daar onder waar hy veilig kon wegkom. Sy het probeer speel vir tyd en ‘n afgodsbeeld in Dawid se bed laat lê met ‘n bokhaarnet oor om die klipgesig te verbloem.
Vroeg die volgende oggend hamer die soldate aan die deur - hulle wou vir Dawid hê, want die koning wou hom sien. “Hy is siek in die bed,” het Mikal vir hulle gelieg. Hoe kon hulle teen die koning se dogter protesteer? Baie tyd was gemors deur eers weer aan die koning te gaan rapporteer - kosbare tyd wat Dawid die kans gegee het om ver weg te vlug. Saul was woedend toe hy verneem dat sy eie dogter hom bedrieg het, en weereens moes sy lieg om haar eie bas te red!
Jaloesie is die groen monster - ook die een wat Saul se lewe oorgeneem het. Jaloesie gaan oor in haat en dit verwoes lewens. Ek sien dikwels hoe dit mense in wilde diere verander. Daarteenoor is dit liefde wat lewens red en verryk. In die praktyk kan ek en jy vandag óók menselewens red nes Jonatan en Mikal deur bloot ons liefde onvoorwaardelik uit te leef. Betoon vriendelikheid en liefde aan iemand in nood of selfs iemand wat haat in hom saamdra, en sien hoe dit daardie lewens kan verander. Deur haat met liefde te beantwoord het al menige grimmige mens totaal verander en tot nuwe insigte gebring. Daar is egter ‘n voorwaarde: Die Heilige Gees moet kans gegee word om die verandering te doen. Sonder Hom is alles ‘n gejaag na wind!
Gebed:
Here, ek wil liefde uitleef en U instrument wees om U wonderbare liefde aan ander uit te dra!