Dawid se Dans

17 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid se Dans

2 Samuel 6:9-23

VIDEO | OUDIO

Dawid het baie groot geskrik toe hy sien wat gebeur met Ussa. Die Verbondsark is na die huis van Obed-Edom toe geneem. “Hoe kan die Ark van die Here nou na my toe kom?” het Dawid gehuil. “Ek sien nie kans daarvoor dat dit in die Dawidstad inkom nie. Ek het verkeerd gehandel voor God!”

Soms gebeur dit met ‘n gelowige dat dinge vir jou baie voorspoedig raak en dat jy dan kan vergeet om die Here te ken in ‘n saak. Dit kan dikwels selfs ‘n baie edel taak wees wat jy aanpak. Dawid se idee om die Ark na Jerusalem te bring was beslis edel maar hy het sy eie kop gevolg hieroor.

Wanneer ek ’n dagstukkie skryf, is dit ’n baie edel saak en jy sal sekerlik met my saamstem. Ek besef ook baie deeglik dat ek dit nie kan skryf sonder die inspirasie van die Heilige Gees nie. En tóg gebeur dit soms dat ek gaan sit en begin skryf uit my eie kennis en ondervindinge, sonder om eers ’n gedagte te gee aan wat die Here eintlik wil hê dat ek moet skryf!

Ons moet in gedurige, totale afhanklikheid van God leef en Hom ken in absoluut alles wat ons doen, al is dit ook geestelike werk – en verál dan! Dit geld ook vir ons daaglikse werk waar ons in die kantoor besig is. Jy mág maar werk en Godsdiens meng! Bid die Here vir wysheid om te doen wat jy moet doen sodat jy dit tot eer van Hom kan doen.

Dawid het drie maande gehad om te dink oor wat hy gedoen het. Toe pak hy die saak wéér aan, maar hierdie slag op die regte manier. Hierdie keer volg hy die voorskrifte van die Here en die Ark word gedra deur priesters volgens God se voorskrif. Dit het gepaard gegaan met ‘n fees van ongekende omvang en die hele volk was daar om te deel in die groot vreugde. Elke ses treë wat die ark gedra was, was daar aan God ‘n offer gebring van ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf. Kan jy jou indink hoeveel offers daar in totaal gebring was en hoeveel beeste geslag was?

Al die pad was daar musiek gemaak, op die ramshorings geblaas, gedans en feesgevier. En die koning? Hy het nie maar op sy troon gesit en al hierdie dinge gade geslaan nie. O nee, hy het met volle oorgawe saamgedans, gehuppel en deelgeneem! Toe hulle Jerusalem binnekom met die Ark, het daar ‘n groot gejuig opgeklink van die hele volk. Dit het weergalm deur die klowe en oor die berge van die geluid van ramshorings en die gejuig van die skare. En Dawid het gedans dat die biesies bewe!

Ons lees in 2 Samuel 6:14-16 iets wat mens baie laat wonder. Ons sien dat Dawid slegs ‘n linne skouerkleed, die kleed wat die priesters dra aangehad het. Intussen het sy vrou Mikal op die balkon van die paleis hierdie optog gestaan en gadeslaan met ‘n suur gesig. Wat vir haar ‘n groot vreugde moes wees het ontaard in ‘n verskriklike verleentheid toe sy haar man hier onder voor die groot skare sien dans en rondspring, geklee in slegs ‘n skouerkleed. So erg het dit haar gegrief dat sy hom daarvoor verag het!

Dit laat by ons ‘n paar vrae wat ons nie maklik kan beantwoord nie. Waarom het sy hom werklik verag? Was dit dalk dat sy gedink het dat dit nie fatsoenlik of waardig genoeg was, omdat hy die priesterlike kleed gedra het en nie sy waardige koninklike kleed nie? Of was dit eerder dat hierdie skouerkleed die enigste kledingstuk was wat hy aangehad het en dat met al die gedansery en gerondspring, daar dinge gewys het wat nie betaamlik was om te vertoon nie? Ons kan maar net raai. Kon dit nie dalk ook wees dat Mikal bloot hoogmoedig was en dat sy dit verag het dat haar man, die koning hom so buitensporig gedra het nie?

Dalk kan ons simpatie hê met Mikal! Dawid het dikwels baie impulsief opgetree, sonder om mooi te dink oor wat hy doen. As jy in ‘n leiersposisie is moet jy dinge baie deeglik oordink. Jy moet baie versigtig wees om nie die verkeerde indruk te skep nie, al is jou bedoelinge ook hóé goed. Dawid het ‘n verantwoordelikheid gehad teenoor die volk en hy moes vir hulle ‘n simbool van integriteit wees.

Die Ark was op sy plek neergesit, daarna het Dawid die rol van priester oorgeneem om die volk te seën en te offer aan die Here. Niemand het met leë hande huistoe gegaan nie en daar was brode en dadels uitgedeel voordat die volk huiswaarts gekeer het.

In Dawid se paleis was dinge egter nie so lekker nie. Toe alles die aand verby was, word hy uitgetrap deur Mikal omdat hy hom so verspot gedra het. Hy het skandelik opgetree en (volgens haar) “homself ontbloot voor die slavinne van sy onderdane.” Huismoles!

Dawid se vrou het géén begrip gehad vir sy vreugde nie. Wat ‘n antiklimaks! Hy het haar emosionele uitbarsting met logika probeer uitredeneer, maar duidelik het hy nie begryp dat dit by haar ‘n emosionele saak was en dat sy maar net wou trots wees op haar man nie! Verwyte word geslinger en die huwelik beland op die rotse. Tragies!

So maklik kon alles gered gewees het as hulle maar net na mekaar wou luister! En dit is presies waar baie huwelike vandag sink, waar huweliksmaats eerder verwyt as om na mekaar te luister.

Gebed:

Here, help my asseblief om na my huweliksmaat te luister.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026