Dawid en Jonatan

16 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid en Jonatan

1 Samuel 20:1-43

VIDEO | OUDIO

Dawid vlug die nag in, weg van die wraak van Saul. Waarheen sal hy gaan? Waar kan hy veilig wees? Waar hy ookal heengaan, daar sal Saul se soldate hom vind. Al wat Dawid weet, is dat hy moet wegkom van hierdie koning wie se verstand hom totaal gelos het. Maar daar is tóg één persoon waarvan Dawid weet wat hom beslis goedgesind is, die ou man van God, Samuel. Dawid besluit dus om na die profetekwartiere in Rama te vlug waar hy vir Samuel sal kry.

Selfs hier in die plek van veiligheid was daar egter óók iemand wat vir Dawid verraai het, en só stuur Saul sy manne om vir Dawid te gaan haal. Saul was woedend: hoe kón sy soldate toelaat dat Dawid hulle so maklik ontglip?

Maar dan sien ons ‘n tikkie Goddelike humor, met permissie gesê, want toe hierdie geharde soldate by Rama aankom, begin hulle te profeteer! Hulle tree op asof hulle sélf profete is!

Nou was Saul éérs woedend oor die hulpelose manier wat hulle die situasie hanteer het! Hy stuur ‘n tweede groep soldate, maar presies dieselfde gebeur met hulle! Ook ‘n derde groep soldate kom bitter bedroë daarvan af en hulle maak totale gekke van hulleself. Toe kook Saul oor van woede - wat was dan fout met die manne? Kon hulle nie eers ‘n eenvoudige opdrag uitvoer nie? Moes hy dan sélf gaan om Dawid te loop haal? En dis presies wat Saul toe doen, want as die soldate te vrotsig was om die simpele ou takie af te handel, dan sou hy dit persoonlik doen!

Maar Saul het hom totaal misreken met God. Saul het by Rama aangekom en verneem dat Dawid in die profetekwartiere was. Maar toe begin Saul baie snaaks optree. Terwyl hy nog besig was om daarheen te stap, het hy begin optree soos ‘n profeet. Hy het begin ekstaties raak en hy het nie beheer gehad oor sy eie liggaam en wat hy doen nie. Tot almal se skok en verbasing moet die mense toekyk hoedat die magtige koning so in die loop sy klere begin uittrek totdat hy naderhand sonder ‘n draad klere voor die profeet Samuel gaan staan het. Skielik het Saul poedelnakend op die grond gaan lê! Vir ‘n volle dag en nag het hy daar gelê vir die hele wêreld om te sien en spottend na hom te verwys as “Saul onder die Profete!”

Wanneer ‘n mens die dag dink dat jy God nie meer nodig het nie, kan Hy jou afbring aarde toe sodat jy sal besef dat ons sonder Hom absoluut niks is nie. As gelowiges moet ons besef dat ons totaal afhanklik is van Hom vir alles. Inderdaad wil die ongelowige dit nie weet nie en dan kan die paadjie wat Saul geloop het dalk sy voorland wees.

Ons moet natuurlik ook besef dat Saul daar in Rama totaal hulpeloos was en dat hy in Dawid se mag was. Dawid was reeds gesalf as koning, en daar kon hy só maklik die koningskap ingepalm het. Maar hy het nie, want hy het God vertrou om die koningskap vir hom te gee op die regte tyd en plek wanneer dit in God se raadsplan inpas. Later was Saul selfs nog meer aan Dawid se lot oorgelaat, maar selfs toé het Dawid teruggestaan.

Dawid was verward: “Wat het ek aan Saul gedoen dat hy my wil doodmaak?” het hy later vir sy vriend Jonatan gevra. “Wat was my verskriklike oortreding?”

Jonatan het sy vriend probeer gerusstel. Hy sou wél betyds weet as Saul iets sou beplan. Maar Dawid was baie versigtig: “Daar is maar een tree tussen my en die dood.” Dawid se een groot kommer was dat die Nuwemaan-fees op pad was, en sou dan as Saul se skoonseun verplig wees om saam met Saul te gaan eet. Die vraag is of dit nie net weer in nóg ‘n lokval sou ontaard om van hom ontslae te raak nie?

Jonatan het Dawid belowe dat hy sy verspieder sou wees en sou uitvind wat Saul se planne was. Saul het egter Jonatan se spioenasiestories raakgesien en agtergekom dat Jonatan besig was om Dawid te beskerm. Toe bars hy uit in ‘n woedebui: “Jou eiewys klein misbaksel! Jy het die seun van Isai verkies, tot jou eie skande en tot skande van jou ma!”

Die volgende oggend het Jonatan en Dawid onder groot geheimhouding ontmoet. Dawid kry die slegte nuus dat sy kop op die spel was en dat hy moes vlug. Dit was ‘n baie emosionele afskeid want Jonatan het nie geweet of hy óóit weer sy goeie vriend Dawid sou sien nie. Baie trane was gestort en van toe af sou Dawid ‘n vlugteling wees totdat die tyd sou aanbreek wat God vir hom beplan het. Hoe lank sou dit duur? Dawid het nie geweet nie – dit kon dalk baie jare duur. Dis nie altyd maklik om God se uitverkorene te wees nie!

Inderdaad het baie gelowiges wat gekies het om te doen wat God van hulle vra, uitgevind dat dit soms ‘n bitter moeilike pad kan wees - ‘n pad waar jy elke oomblik jou afhanklikheid van God moet besef. Vir elkeen wat hierdie dagstukkie lees en vandag op daardie pad is, gee die Bybel die troos dat baie ander voor jou dit rééds gestap het en uiteindelik getriomfeer het, soos Dawid. Maar die grootste triomf van almal wag eendag, die dag wanneer Jesus kom op die wolke!

Gebed:

Here, wanneer dit soms baie moeilik gaan, kan ek opkyk na U en rustig wees, want ek weet dat dit deel is van U groot raadsplan en dat triomf óók vir my wag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026